Dawid word koning oor Juda, en Isbóset koning oor Israel.
1EN daarna het Dawid die Here geraadpleeg en gesê: Sal ek optrek in een van die stede van Juda? En die Here het hom geantwoord: Trek op. Toe sê Dawid: Waarheen moet ek optrek? En Hy antwoord: Na Hebron.
2En Dawid het daarheen opgetrek, en ook sy twee vroue, Ahínoam uit Jísreël, en Abígail, die vrou van Nabal, die Karmeliet.
3Dawid het ook sy manne wat by hom was, laat optrek, elkeen met sy huisgesin, en hulle het in die stede van Hebron gaan woon.
4Daarna het die manne van Juda gekom en Dawid daar as koning oor die huis van Juda gesalf. Toe hulle aan Dawid meedeel en sê: Dit is die manne van Jabes in Gílead wat Saul begrawe het,
5stuur Dawid boodskappers na die manne van Jabes in Gílead om aan hulle te sê: Mag julle geseënd wees deur die Here, dat julle hierdie guns bewys het aan julle heer, aan Saul, en hom begrawe het.
6Mag die Here julle dan nou guns en trou bewys, en ek self bewys ook hierdie goedheid aan julle, omdat julle hierdie ding gedoen het.
7En nou, laat julle hande sterk wees, en wees wakker manne; want julle heer Saul is dood. Daarby het die huis van Juda my ook as koning oor hulle gesalf.
8Maar Abner, die seun van Ner, die leërowerste van Saul, het Isbóset, die seun van Saul, geneem en hom oorgebring na Mahanáim
9en hom koning gemaak oor Gílead en oor die Asuriete en oor Jísreël en oor Efraim en oor Benjamin en oor die hele Israel.
10Veertig jaar oud was Isbóset, die seun van Saul, toe hy koning geword het oor Israel, en hy het twee jaar geregeer; net die huis van Juda het Dawid gevolg.
11En die getal dae wat Dawid koning was in Hebron oor die huis van Juda, was sewe jaar en ses maande.
Burgeroorlog. Slag by Gíbeon.
12EN Abner, die seun van Ner, met die dienaars van Isbóset, die seun van Saul, het uitgetrek uit Mahanáim na Gíbeon.
13Joab, die seun van Serúja, en die dienaars van Dawid het ook uitgetrek. En toe hulle mekaar ontmoet by die dam van Gíbeon, het hulle gaan sit aan weerskante van die dam.
14En Abner sê vir Joab: Laat die jongmanne hulle tog regmaak en voor ons speel. En Joab sê: Laat hulle regmaak.
15Toe het hulle opgestaan, en twaalf is vir Benjamin afgetel, naamlik vir Isbóset, die seun van Saul; en twaalf van die dienaars van Dawid.
16Maar die een het die ander aan die hoof gegryp, en die een se swaard was in die sy van die ander, sodat hulle saam geval het; daarom noem hulle dié plek Veld van Swaardskerptes, wat by Gíbeon is.
17En dieselfde dag het die geveg buitengewoon hewig geword, maar Abner en die manne van Israel is verslaan voor die dienaars van Dawid.
18En daar was drie seuns van Serúja: Joab en Abísai en Ásahel; en Ásahel was lig op sy voete soos een van die gemsbokke wat in die veld is.
19En Ásahel het Abner agternagejaag sonder om in sy koers regs of links agter Abner weg te draai.
20Toe kyk Abner agter hom om en sê: Is dit jy, Ásahel? En hy antwoord: Dit is ek.
21En Abner sê vir hom: Draai uit na jou regter- of linkerhand en gryp vir jou een van die jongmanne en neem sy uitrusting vir jou. Maar Ásahel wou nie agter hom wegdraai nie.
22En Abner sê nog 'n keer vir Ásahel: Jy moet padgee agter my; waarom moet ek jou teen die grond slaan? Hoe sou ek dan my aangesig kan ophef voor jou broer Joab?
23Maar hy het geweier om weg te draai. Toe steek Abner hom met die agterent van die spies in die onderlyf, sodat die spies agter hom uitkom en hy daar neerval en op die plek sterwe. En almal het bly staan wat aankom by die plek waar Ásahel geval en gesterwe het.
24Maar Joab en Abísai het Abner agternagejaag, en die son het ondergegaan toe hulle by die heuwel Amma kom wat teenoor Giag lê, aan die pad na die woestyn van Gíbeon.
25En die kinders van Benjamin het agter Abner byeengekom en saam een skare geword, en hulle het gaan staan op die top van 'n sekere heuwel.
26Toe roep Abner na Joab en sê: Moet die swaard dan vir ewig verteer? Weet jy nie dat dit oplaas bitter sal wees nie? En hoe lank sal jy nie aan die manskappe sê dat hulle moet omdraai agter hulle broers vandaan nie?
27En Joab antwoord: So waar as God leef, waarlik, as jy nie gespreek het nie, sou die manskappe môre eers weggetrek het, elkeen agter sy broer vandaan.
28Toe blaas Joab op die ramshoring, en al die manskappe het stilgestaan en Israel nie langer agternagejaag en nie verder meer geveg nie.
29Daarop het Abner en sy manne daardie hele nag die Vlakte deurgegaan en deur die Jordaan getrek en deur die hele Bitron en in Mahanáim aangekom.
30En Joab het omgedraai agter Abner weg en al die manskappe versamel. En van Dawid se dienaars is negentien man en Ásahel vermis.
31Maar die dienaars van Dawid het van Benjamin, naamlik onder die manne van Abner, geslaan — driehonderd-en-sestig man het gesterwe.
32En hulle het Ásahel opgetel en hom in die graf van sy vader, wat in Betlehem was, begrawe; en Joab en sy manne het die hele nag deur getrek, sodat dit vir hulle in Hebron lig geword het.