1TOE sê Elísa: Hoor die woord van die Here! So spreek die Here: Môre omtrent sulke tyd sal 'n maat fynmeel 'n sikkel, en twee mate gars 'n sikkel kos in die poort van Samaría.
2Maar die adjudant op wie se arm die koning geleun het, antwoord die man van God en sê: Al maak die Here ook vensters in die hemel, sou dit kan gebeur? En hy sê: Kyk, jy sal dit met jou oë sien, maar nie daarvan eet nie.
3En daar was vier melaatse manne by die ingang van die poort; hulle het die een vir die ander gesê: Wat bly ons hier totdat ons sterwe?
4As ons sê: Laat ons in die stad ingaan — aangesien daar hongersnood in die stad is — sal ons daar sterwe; en as ons hier bly, sal ons sterwe; kom dan nou en laat ons oorloop na die laer van die Arameërs. As hulle ons laat lewe, dan bly ons lewe; en as hulle ons doodmaak, dan sterwe ons.
5En hulle het klaargemaak in die aandskemer om in die laer van die Arameërs in te gaan; maar toe hulle aan die buitekant van die laer van die Arameërs kom, was daar niemand nie.
6Want die Here het die leër van die Arameërs 'n gedruis van waens en 'n gedruis van perde, 'n gedruis van 'n groot leërmag laat hoor, sodat hulle die een vir die ander gesê het: Kyk, die koning van Israel het die konings van die Hetiete en die konings van die Egiptenaars teen ons gehuur om ons te oorval.
7Daarom het hulle in die skemer klaargemaak en gevlug, maar hulle tente en perde en esels, die laer soos dit was, in die steek gelaat; en hulle het vir hul lewe gevlug.
8En toe daardie melaatse manne by die kant van die laer kom, het hulle een tent binnegegaan en geëet en gedrink en daar silwer en goud en klere uit weggeneem en dit gaan begrawe. Daarna het hulle teruggekom en 'n ander tent binnegegaan en ook daaruit weggeneem en dit gaan begrawe.
9Toe sê hulle die een vir die ander: Ons doen nie reg nie. Hierdie dag is 'n dag van goeie boodskap, en ons bly stil! As ons vertoef tot die môrelig toe, dan sal ons skuldig staan. Kom dan nou, laat ons gaan en dit in die huis van die koning vertel.
10En hulle het gekom en na die poortwagters van die stad geroep en aan hulle berig gebring en gesê: Ons het by die laer van die Arameërs gekom, maar kyk, daar was niemand en geen mens se stem nie, maar net vasgemaakte perde en vasgemaakte esels en tente net soos dit was.
11En die poortwagters het geroep en dit binne-in die huis van die koning vertel.
12Toe staan die koning in die nag op en sê aan sy dienaars: Laat ek julle vertel wat die Arameërs aan ons gedoen het. Hulle weet dat ons honger ly; daarom het hulle uit die laer getrek om hulle in die veld weg te steek, en gesê: As hulle uit die stad uittrek, sal ons hulle lewendig vang en in die stad inkom.
13Maar een van sy dienaars antwoord en sê: Laat hulle dan tog vyf van die perde wat hier oorgebly het, neem — kyk, hulle is soos die hele menigte van Israel wat hier oor is; kyk, hulle is soos die hele menigte van Israel wat omgekom het — laat ons dié dan stuur en sien.
14Hulle neem toe twee strydwaens met perde; en die koning het agter die leër van die Arameërs aan gestuur en gesê: Gaan kyk.
15En hulle het agter hulle aan gegaan tot by die Jordaan; en kyk, die hele pad was vol klere en voorwerpe wat die Arameërs in hulle oorhaastige vlug weggegooi het. Daarop draai die boodskappers om en deel dit aan die koning mee.
16Toe gaan die volk uit om die laer van die Arameërs te plunder; en 'n maat fynmeel het 'n sikkel gekos, en twee mate gars 'n sikkel, volgens die woord van die Here.
17En die koning het die adjudant op wie se arm hy geleun het, oor die poort aangestel; maar die volk het hom in die poort vertrap, sodat hy gesterf het volgens die woord van die man van God, deur hom uitgespreek toe die koning na hom afgekom het.
18Want toe die man van God met die koning gespreek en gesê het: Môre omtrent sulke tyd sal twee mate gars 'n sikkel, en 'n maat fynmeel 'n sikkel werd wees in die poort van Samaría —
19het die adjudant die man van God geantwoord en gesê: Al maak die Here ook vensters in die hemel, sou so iets kan gebeur? En hy het gesê: Kyk, jy sal dit met jou oë sien, maar nie daarvan eet nie.
20En so het dit met hom gegaan — die mense het hom in die poort vertrap, sodat hy gesterf het.