1IN sy dae het Nebukadnésar, die koning van Babel, opgetrek, en Jójakim het drie jaar lank sy dienaar geword; daarna het hy weer teen hom gerebelleer.
2Toe stuur die Here die bendes van die Chaldeërs teen hom en die bendes van die Arameërs en die bendes van die Moabiete en die bendes van die kinders van Ammon — Hy stuur hulle teen Juda om dit te verdelg volgens die woord van die Here wat hy gespreek het deur die diens van sy knegte, die profete.
3Sekerlik het dit volgens die bevel van die Here oor Juda gekom, om hulle van sy aangesig te verwyder vanweë die sondes van Manasse, volgens alles wat hy gedoen het;
4en ook oor die onskuldige bloed wat hy vergiet het, sodat hy Jerusalem met onskuldige bloed gevul het; daarom wou die Here nie vergewe nie.
5En die verdere geskiedenis van Jójakim en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie?
6En Jójakim het ontslaap met sy vaders, en sy seun Jójagin het in sy plek koning geword.
7En die koning van Egipte het nie verder meer uit sy land uitgetrek nie, want die koning van Babel het van die spruit van Egipte af tot by die Eufraatrivier alles geneem wat aan die koning van Egipte behoort het.
8Agttien jaar was Jójagin oud toe hy koning geword het, en hy het drie maande in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Nehústa, 'n dogter van Élnatan, van Jerusalem.
9En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here net soos sy vader gedoen het.
Begin van die ballingskap.
10IN dié tyd het die dienaars van Nebukadnésar, die koning van Babel, na Jerusalem opgetrek en die stad is beleër.
11En toe Nebukadnésar, die koning van Babel, by die stad kom, terwyl sy dienaars dit beleër,
12het Jójagin, die koning van Juda, uitgegaan na die koning van Babel, hy en sy moeder en sy dienaars en sy owerstes en sy hofdienaars, en die koning van Babel het hom gevange geneem in die agtste jaar van sy regering.
13En hy het daarvandaan uitgebring al die skatte van die huis van die Here en die skatte van die huis van die koning en al die goud van die voorwerpe afgesny wat Salomo, die koning van Israel, gemaak het in die tempel van die Here, soos die Here gespreek het.
14En hy het die hele Jerusalem weggevoer en al die owerstes en al die mense van vermoë, tienduisend ballinge, en al die smede en die slotmakers; niemand het oorgebly nie, behalwe die arm mense van die land.
15En hy het Jójagin in ballingskap weggevoer na Babel, en ook die moeder van die koning en die vroue van die koning en sy hofdienaars; ook die magtiges van die land het hy in ballingskap uit Jerusalem na Babel laat gaan.
16En al die mense van vermoë, seweduisend, en die smede en die slotmakers, duisend, almal helde wat oorlog kan voer — dié het die koning van Babel in ballingskap na Babel gebring.
Sedekía die laaste koning van Juda. Nebukadnésar maak 'n einde aan die ryk van Juda.
17EN die koning van Babel het Mattánja, die oom van Jójagin, in sy plek koning gemaak en sy naam verander in Sedekía.
18Een-en-twintig jaar was Sedekía oud toe hy koning geword het, en hy het elf jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Hamútal, 'n dogter van Jeremia, uit Libna.
19En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here net soos Jójakim gedoen het.
20Want weens die toorn van die Here het dit oor Jerusalem en Juda gekom, totdat Hy hulle van sy aangesig weggewerp het. En Sedekía het teen die koning van Babel gerebelleer.