1EN toe koning Hiskía dit hoor, het hy sy klere geskeur en hom met 'n roukleed bedek en in die huis van die Here gegaan.
2Daarna stuur hy Éljakim wat oor die paleis was, en Sebna, die skrywer, en die oudstes van die priesters, met rouklere bedek, na die profeet Jesaja, die seun van Amos.
3En hulle sê vir hom: So sê Hiskía: Vandag is 'n dag van benoudheid en straf en lastering; want die kinders het gekom tot by die geboorte, maar daar is geen krag om te baar nie.
4Miskien sal die Here u God al die woorde hoor van die rábsake wat deur sy heer, die koning van Assirië, gestuur is om die lewende God te smaad, en sal Hy hom straf oor die woorde wat die Here u God gehoor het; hef dan 'n gebed op vir die oorblyfsel wat nog aanwesig is.
5En toe die dienaars van koning Hiskía by Jesaja kom,
6sê Jesaja vir hulle: So moet julle jul heer antwoord: So spreek die Here: Vrees nie vir die woorde wat jy gehoor het, waarmee die dienaars van die koning van Assirië My gelaster het nie.
7Kyk, Ek sal 'n gees in hom gee, dat hy 'n gerug hoor en na sy land terugtrek, en Ek sal hom in sy land deur die swaard laat val.
8Daarop het die rábsake teruggegaan en die koning van Assirië aangetref terwyl hy besig was om te veg teen Libna; want hy het gehoor dat hy van Lagis af weggetrek het.
9En toe hy van Tirháka, die koning van Kus, hoor sê: Kyk, hy het uitgetrek om teen u te veg — stuur hy weer boodskappers na Hiskía met die opdrag:
10So moet julle aan Hiskía, die koning van Juda, sê: Laat u God op wie u vertrou, u nie bedrieg nie deur te sê: Jerusalem sal nie in die hand van die koning van Assirië oorgegee word nie.
11Kyk, u het self gehoor wat die konings van Assirië aan al die lande gedoen het deur dit met die banvloek te tref, en sou u gered word?
12Het die gode van die nasies wat my vaders uitgeroei het, hulle gered — Gosan en Haran en Resef en die kinders van Eden wat in Telássar was?
13Waar is die koning van Hamat en die koning van Arpad en die koning van die stad Sefarváim, van Hena en Iwa?
14En toe Hiskía die brief uit die hand van die boodskappers ontvang en dit gelees het, het hy opgegaan na die huis van die Here; en Hiskía het dit voor die aangesig van die Here uitgesprei.
15En Hiskía het voor die aangesig van die Here gebid en gesê: Here, God van Israel, wat op die gérubs troon, U alleen is die God van al die koninkryke van die aarde, Ú het die hemel en die aarde gemaak!
16o Here, neig u oor en luister. Open u oë, Here, en kyk; en hoor die woorde van Sánherib, wat hy gestuur het om die lewende God te smaad!
17Waarlik, Here, die konings van Assirië het die nasies en hulle land verwoes
18en hulle gode in die vuur gegooi; want dit was geen gode nie, maar werk van mensehande, hout en klip; daarom kon hulle dit vernietig.
19Verlos ons dan nou tog uit sy hand, Here onse God, dat al die koninkryke van die aarde kan weet dat U, Here, alleen God is.
20Toe laat Jesaja, die seun van Amos, Hiskía weet: So spreek die Here, die God van Israel: Wat jy tot My gebid het insake Sánherib, die koning van Assirië, het Ek gehoor.
21Dit is die woord wat die Here oor hom gespreek het: Die jonkvrou, die dogter van Sion, verag jou, bespot jou; agter jou skud die dogter van Jerusalem die hoof.
22Wie het jy gesmaad en gelaster? En teen wie het jy die stem verhef en jou oë hoogmoedig opgehef? Teen die Heilige van Israel!
23Deur jou boodskappers het jy die Here gesmaad en gesê: Met die menigte van my waens het ék die hoogte van die berge opgeklim, die uithoeke van die Líbanon, en ek het sy statige seders, die keur van sy sipresse, omgekap en deurgedring tot in sy diepste skuilhoeke, sy bos wat is soos 'n tuin.
24Ék het gegrawe en vreemde waters gedrink, en met my voetsole laat ek al die Nylstrome van Egipte opdroog.
25Het jy dit nie gehoor nie? Van lankal het Ek dit gereedgemaak, van die dae van die voortyd af beskik. Nou het Ek dit laat kom, dat jy versterkte stede kon verwoes tot puinhope.
26En hulle inwoners was magteloos, het verskrik en beskaamd gestaan; hulle was soos plante van die veld en groen grassies, soos gras op die dakke en brandkoring voordat dit are skiet.
27Maar Ek ken jou sit en jou uitgaan en jou ingaan en hoe jy teen My raas.
28Omdat jy teen My raas en jou trotsheid opgekom het in my ore, daarom sal Ek my haak in jou neus sit en my toom tussen jou lippe en jou terugbring met die pad waarmee jy gekom het.
29En dit sal vir jou die teken wees: Eet hierdie jaar wat vanself opslaan, en in die tweede jaar wat dan nog opkom; maar in die derde jaar — saai en oes en plant wingerde en eet die vrugte daarvan.
30Dan sal die vrygeraaktes wat oorgebly het van die huis van Juda, weer wortel skiet ondertoe en vrugte dra boontoe.
31Want uit Jerusalem sal 'n oorblyfsel uitgaan en vrygeraaktes van die berg Sion. Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen.
32Daarom, so sê die Here aangaande die koning van Assirië: Hy sal in hierdie stad nie inkom en daar geen pyl in skiet en dit met geen skild aanval en daar geen wal teen opgooi nie.
33Met die pad wat hy gekom het, sal hy teruggaan; maar in hierdie stad sal hy nie inkom nie, spreek die Here.
34En Ek sal hierdie stad beskut, om dit te verlos, ter wille van My en my kneg Dawid.
35En in dieselfde nag het die engel van die Here uitgetrek en in die laer van die Assiriërs honderd-vyf-en-tagtigduisend verslaan; en toe hulle die môre vroeg hul klaarmaak — was dit almal dooie liggame!
36En Sánherib, die koning van Assirië, het opgebreek en weggetrek en teruggegaan en in Ninevé gebly.
37En toe hy hom neerbuig in die tempel van sy god Nisrog, het sy seuns Adramméleg en Saréser hom met die swaard neergeslaan; maar hulle het ontvlug na die land Árarat; en sy seun Esar-Haddon het in sy plek koning geword.