Rede en gebed van Salomo by die inwyding van die tempel.
1TOE het Salomo gesê: Die Here het gesê dat Hy in donkerheid wil woon.
2Maar ék het vir U 'n woonhuis gebou, en 'n vaste plek vir U om ewig in te bly.
3Daarop draai die koning sy aangesig om en seën die hele vergadering van Israel, terwyl die hele vergadering van Israel staan.
4En hy sê: Geloofd sy die Here, die God van Israel, wie se hande volbring het wat sy mond tot my vader Dawid gespreek en gesê het:
5Van die dag af dat Ek my volk uit Egipteland uitgelei het, het Ek geen stad verkies uit al die stamme van Israel om 'n huis te bou, dat my Naam daar sou wees nie; en Ek het geen man verkies om vors oor my volk Israel te wees nie.
6Maar Ek het Jerusalem verkies, dat my Naam daar sou wees, en Ek het Dawid verkies om oor my volk Israel te wees.
7Toe dit dan in die hart van my vader Dawid was om 'n huis te bou vir die Naam van die Here, die God van Israel,
8het die Here aan my vader Dawid gesê: Dat dit in jou hart was om vir my Naam 'n huis te bou — daarin het jy goed gehandel dat dit in jou hart was.
9Alleen maar, jý sal die huis nie bou nie, maar jou seun wat uit jou lendene sal voortkom, dié sal vir my Naam die huis bou.
10En die Here het sy woord vervul wat Hy gespreek het; sodat ek opgestaan het in die plek van my vader Dawid, en ek sit op die troon van Israel soos die Here gespreek het; en ek het die huis gebou vir die Naam van die Here, die God van Israel,
11en die ark waarin die verbond van die Here is, wat Hy met die kinders van Israel gesluit het, daar neergesit.
12Toe het hy gaan staan voor die altaar van die Here teenoor die hele vergadering van Israel en sy hande uitgebrei;
13want Salomo het 'n koperverhoog gemaak en dit in die middel van die voorhof opgestel; vyf el was sy lengte en vyf el sy breedte en drie el sy hoogte; en hy het daarop gaan staan en neergesink op sy knieë teenoor die hele vergadering van Israel en sy hande na die hemel uitgebrei
14en gesê: Here, God van Israel, daar is in die hemel of op die aarde geen God soos U nie, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir u knegte wat voor u aangesig wandel met hulle hele hart,
15wat vir u kneg, my vader Dawid, u belofte aan hom gehou het; ja, met u mond het U dit gespreek en met u hand volbring soos dit vandag is.
16Hou nou ook, Here, God van Israel, die belofte wat U aan u kneg, my vader Dawid, gedoen het, naamlik: Daar sal vir jou nooit 'n man voor my aangesig ontbreek wat sal sit op die troon van Israel nie, as jou seuns net op hulle weg ag gee, deur te wandel in my wet soos jy voor my aangesig gewandel het.
17Laat dan nou, Here, God van Israel, u woord tog bewaarheid word wat U tot u kneg Dawid gespreek het.
18Maar sou God werklik by die mense op die aarde woon? Die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het!
19Wend U dan tot die gebed van u kneg en tot sy smeking, Here my God, deur te luister na die geroep en die gebed wat u kneg voor u aangesig bid;
20sodat u oë oop mag wees dag en nag oor hierdie huis, oor die plek waar U van gesê het dat U u Naam daar wil vestig, sodat U mag luister na die gebed wat u kneg na hierdie plek toe sal bid.
21Luister dan na die smekinge van u kneg en van u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe sal bid; ja, mag U hoor uit u woonplek, uit die hemel; en as U hoor, vergewe dan.
22As iemand teen sy naaste sondig en hulle hom 'n eed oplê om hom tot selfvervloeking te bring en hy voor u altaar in hierdie huis kom sweer,
23wil U dan hoor uit die hemel en handel en aan u knegte reg verskaf deur die skuldige te vergelde en sy wandel op sy hoof te lê, en die regverdige regverdig te verklaar deur hom te gee na sy geregtigheid.
24En as u volk Israel verslaan word voor 'n vyand, omdat hulle teen U gesondig het, en hulle hul bekeer en u Naam bely en bid en smeek voor u aangesig in hierdie huis,
25wil U dan hoor uit die hemel en die sonde van u volk Israel vergewe en hulle terugbring na die land wat U aan hulle en hulle vaders gegee het.
26As die hemel toegesluit is, dat daar geen reën is nie, omdat hulle teen U gesondig het, maar hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely, van hulle sonde hul bekeer, omdat U hulle verootmoedig,
27wil U dan hoor in die hemel en die sonde van u knegte en van u volk Israel vergewe — want U leer hulle die goeie weg waar hulle in moet wandel — en gee reën op u land wat U aan u volk as 'n erfenis gegee het.
28As daar hongersnood in die land is, as daar pes is, as daar brandkoring of heuningdou, sprinkane of kaalvreters is, as sy vyande hom in sy land vol stede dit benoud maak, watter plaag of watter siekte ook al,
29enige gebed, enige smeking wat enige mens of u hele volk Israel sal doen, as elkeen sy plaag en sy smart ken, sodat hy sy hande na hierdie huis toe uitbrei —
30wil U dan hoor uit die hemel, u vaste woonplek, en vergewe en aan elkeen gee volgens al sy weë, U wat sy hart ken — want U alleen ken die hart van die mensekinders —
31sodat hulle U kan vrees om te wandel in u weë al die dae wat hulle leef in die land wat U aan ons vaders gegee het.
32Ja, ook na die uitlander wat nie uit u volk Israel is nie en uit 'n ver land kom om u grote Naam en u sterke hand en u uitgestrekte arm ontwil, as hulle kom en na hierdie huis toe bid,
33wil U dan hoor uit die hemel, uit u vaste woonplek, en doen volgens alles waaroor die uitlander U sal aanroep, sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken en U vrees soos u volk Israel, en mag gewaar word dat u Naam uitgeroep is oor hierdie huis wat ek gebou het.
34As u volk uittrek in die oorlog teen sy vyande op die pad waarop U hulle stuur, en hulle bid tot U in die rigting van hierdie stad wat U verkies het, en van die huis wat ek vir u Naam gebou het,
35wil dan uit die hemel hulle gebed hoor en hulle smeking, en aan hulle hul reg verskaf.
36As hulle teen U sondig — want daar is geen mens wat nie sondig nie — en U op hulle toornig is en hulle aan 'n vyand oorgee en hulle veroweraars hulle as gevangenes wegvoer na 'n land, ver of naby,
37en hulle dit ter harte neem in die land waarheen hulle as gevangenes weggevoer is, en hulle hul bekeer en U smeek in die land van hulle gevangenskap en sê: Ons het gesondig, ons het verkeerd gehandel, en ons was goddeloos —
38en hulle hul tot U bekeer met hul hele hart en met hul hele siel in die land van hul gevangenskap, van die wat hulle weggevoer het, en hulle bid in die rigting van hulle land wat U aan hulle vaders gegee het, en van die stad wat U verkies het, en van die huis wat ek vir u Naam gebou het,
39wil dan uit die hemel, uit u vaste woonplek, hulle gebed en hulle smekinge hoor en aan hulle hul reg verskaf en u volk vergewe wat hulle teen U gesondig het.
40My God, mag u oë tog nou oop wees en u ore luister na die gebed van hierdie plek.
41Staan dan nou op na u rusplek, Here God, U en die ark van u sterkte! Laat u priesters, Here God, met heil bekleed wees, en laat u gunsgenote hulle verheug in die goeie.
42Here God, wys u gesalfde nie af nie; dink aan die gunsbewyse aan u kneg Dawid!