Hiskía vier op plegtige wyse in Jerusalem die pasga van die Here.
1DAARNA het Jehiskía gestuur na die hele Israel en Juda, en ook briewe geskrywe aan Efraim en Manasse om te kom na die huis van die Here in Jerusalem, om die pasga tot eer van die Here, die God van Israel, te hou.
2En die koning en sy owerstes en die hele vergadering het in Jerusalem besluit om die pasga in die tweede maand te hou,
3want hulle kon dit op sy tyd nie hou nie, omdat die priesters hulle nie voldoende geheilig en die volk in Jerusalem nie saamgekom het nie.
4En die saak was reg in die oë van die koning en in die oë van die hele vergadering.
5En hulle het dit vasgestel om 'n oproep deur die hele Israel, van Berséba tot Dan, te laat gaan dat hulle moes kom om die pasga tot eer van die Here, die God van Israel, in Jerusalem te hou; want hulle het dit nie as 'n menigte gehou soos voorgeskrywe was nie.
6Die hardlopers gaan toe met die briewe uit die hand van die koning en sy owerstes deur die hele Israel en Juda, en volgens die gebod van die koning, om te sê: Kinders van Israel, bekeer julle tot die Here, die God van Abraham, Isak en Israel, dat Hy Hom mag wend tot die vrygeraaktes wat vir julle oorgebly het uit die hand van die konings van Assirië.
7En wees nie soos julle vaders en julle broers wat ontrou teen die Here, die God van hulle vaders, gehandel het nie, sodat Hy hulle 'n voorwerp van verbasing gemaak het soos julle self sien.
8Verhard nou nie julle nek soos julle vaders nie, gee aan die Here die hand en kom na sy heiligdom wat Hy vir ewig geheilig het, en dien die Here julle God, dat sy toorngloed van julle afgewend kan word.
9Want as julle jul tot die Here bekeer, sal julle broers en julle kinders barmhartigheid vind voor die wat hulle as gevangenes weggevoer het, sodat hulle na hierdie land kan terugkom; want die Here julle God is genadig en barmhartig, en Hy sal die aangesig van julle nie afwend nie as julle jul tot Hom bekeer.
10Maar toe die hardlopers van stad tot stad die land Efraim en Manasse deurgaan tot by Sébulon, het hulle hul uitgelag en met hul gespot.
11Maar manne uit Aser en Manasse en Sébulon het hulle verootmoedig en na Jerusalem gekom.
12Ook was die hand van God in Juda, sodat Hy hulle 'n eensgesinde hart gegee het om die gebod van die koning en van die owerstes volgens die woord van die Here uit te voer.
13En baie mense het in Jerusalem byeengekom om die fees van die ongesuurde brode in die tweede maand te hou, 'n baie groot vergadering.
14En hulle het hul gereedgemaak en die altare verwyder wat in Jerusalem was; ook al die wierookaltare het hulle verwyder en in die spruit Kidron gegooi.
15Toe het hulle die pasga geslag op die veertiende van die tweede maand; en die priesters en die Leviete het hulle geskaam en hulle geheilig en die brandoffers in die huis van die Here gebring.
16En hulle het op hul plek gaan staan, ooreenkomstig hulle verordening volgens die wet van Moses, die man van God, onderwyl die priesters besig was om die bloed uit te gooi wat hulle uit die hand van die Leviete geneem het;
17want daar was baie in die vergadering wat hulle nie geheilig het nie, daarom moes die Leviete die paasoffers slag vir elkeen wat nie rein was nie, om hulle aan die Here te heilig.
18Want die meerderheid van die volk, 'n menigte uit Efraim en Manasse, Íssaskar en Sébulon, het hulle nie gereinig nie, maar die pasga geëet soos dit nie voorgeskrywe was nie. Maar Jehiskía het vir hulle gebid en gesê: Mag die Here wat goed is, versoening doen
19vir elkeen wat sy hart daarop gerig het om God die Here, die God van sy vaders, te soek, al was dit nie volgens die reinheid van die heiligdom nie.
20En die Here het Jehiskía verhoor en die volk genees.
21So het dan die kinders van Israel wat in Jerusalem aanwesig was, die fees van die ongesuurde brode sewe dae lank met groot blydskap gevier, terwyl die Leviete en die priesters die Here dag vir dag geprys het met kragtige instrumente tot eer van die Here.
22En Jehiskía het na die hart van al die Leviete gespreek wat deeglik kennis geopenbaar het in die saak van die Here; en hulle het die feesoffer sewe dae lank geëet, terwyl hulle dankoffers geslag en die Here, die God van hulle vaders, geloof het.
23En toe die hele vergadering besluit om nog sewe dae fees te hou, het hulle dit met blydskap sewe dae lank gevier,
24want Hiskía, die koning van Juda, het aan die vergadering duisend bulle en seweduisend stuks kleinvee afgegee, en die owerstes het aan die vergadering duisend bulle en tienduisend stuks kleinvee afgegee; en die priesters het hulleself in menigte geheilig.
25En die hele vergadering van Juda was bly, ook die priesters en die Leviete, en die hele vergadering van die wat uit Israel gekom het; ook die vreemdelinge wat uit die land van Israel gekom het, en die wat in Juda woonagtig was.
26En daar was groot blydskap in Jerusalem; want sedert die dae van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel, het so iets in Jerusalem nie voorgekom nie.
27Toe staan die Levitiese priesters op en seën die volk; en hulle stem is verhoor, en hulle gebed het gekom tot in sy heilige woning, tot in die hemel.