I KORINTHIËRS 5
Die sedeloosheid van die Korinthiese gemeente. Bestraffinge en vermaninge.
1'n MENS hoor waarlik van hoerery onder julle, en hoerery van so 'n aard as wat selfs onder die heidene nie bekend is nie: dat iemand die vrou van sy vader het.
2En tog is julle opgeblase in plaas dat julle liewer getreur het, sodat hy wat hierdie daad gedoen het, kan verwyder word onder julle uit.
3Want wat my betref, het ek, liggaamlik afwesig maar in die gees teenwoordig, alreeds besluit asof ek teenwoordig was, om hom wat so iets gedoen het,
4in die Naam van onse Here Jesus Christus, as julle vergader het en my gees saam met die krag van onse Here Jesus Christus —
5om so iemand aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus.
6Julle roem is nie mooi nie. Weet julle nie dat 'n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie?
7Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle 'n nuwe deeg kan wees — soos julle inderdaad ongesuurd is — want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus.
8Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid.
9Ek het julle in my brief geskrywe om nie met hoereerders om te gaan nie —
10dit wil sê, nie die hoereerders van hierdie wêreld of die gierigaards of rowers of afgodedienaars in die algemeen nie, want dan sou julle uit die wêreld moet uitgaan —
11maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as 'n broeder bekend, 'n hoereerder is of 'n gierigaard of 'n afgodedienaar of 'n kwaadspreker of 'n dronkaard of 'n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie.
12Want waarom sou ek ook die wat buite is, oordeel? Oordeel julle nie die wat binne is nie?
13Maar die wat buite is, oordeel God. Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit.
Bybel in Afrikaans 1933/1953-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2012. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 1933/1953-vertaling met Deuterokanonieke Boeke
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953, 1965. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2015. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.