1Die lied van alle liedere. Van Salomo.
Sy:
2Laat hy my met die soene
van sy mond soen;
ja, jou liefkosings is beter as wyn.
3Die geur van jou reukolie
is heerlik,
reukolie wat uitgegiet word,
is jou naam –
daarom raak die meisies
verlief op jou!
4Neem my saam met jou!
Kom ons hardloop!
Die koning het my
na sy kamer geneem.
Koor:
Ons wil vreugde put uit jou,
ons verheug oor jou!
Ons wil jou liefkosings
meer aanprys as wyn.
Hulle is met reg verlief op jou!
Sy:
5Ek is donker,
meisies van Jerusalem,
en pragtig –
soos die tente van Kedar,
soos Salomo se tentdoeke.
6Moenie na my staar
omdat ek donker is,
omdat die son
my bruin gebrand het nie.
Die seuns van my ma
was kwaad vir my:
Hulle het my die wingerde laat oppas;
my eie wingerd kon ek nie oppas nie.
7Laat weet my tog,
geliefde van my hart,
waar laat jy jou kudde wei,
waar laat jy hulle
in die middag rus?
Waarom moet ek gesluierd gaan
tussen jou vriende se kuddes?
Hy:
8Weet jy dit nie,
mooiste onder die vroue?
Volg die spore van die kleinvee
en laat jou lammers
langs die herders se tente wei.
9Soos 'n merrie by die farao
se strydwaens
is jy vir my, my liefling.
10Hoe bekoorlik is jou wange
met die stringe krale,
jou nek met die halssnoere!
11Kom ons maak vir jou
goue kettinkies, gestip met silwer.
Sy:
12Terwyl die koning by sy feestafel is,
versprei my nardus sy geur.
13'n Sakkie mirre
wat tussen my borste rus,
is my liefste vir my.
14'n Bossie hennabloeisels
in die wingerde van En-Gedi,
is my liefste vir my.
Hy:
15O, hoe mooi is jy, my liefling,
hoe mooi is jy!
Jou oë is duiwe.
Sy:
16O, hoe mooi is jy, my liefste,
en aantreklik!
Ons bed is groen loof.
17Die balke van ons huis is seders,
ons dakbalke sipresse.