Die vrou en die draak
1Toe het daar 'n indrukwekkende teken in die hemel verskyn: 'n vrou beklee met die son, met die maan onder haar voete, en op haar kop 'n kroon van twaalf sterre. 2Sy was swanger, en omdat sy in kraam was, het sy van geboortepyn geskree. 3En 'n ander teken het in die hemel verskyn: Kyk, daar was 'n groot vuurrooi draak, met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone. 4Sy stert het 'n derde van die hemel se sterre saamgesleep en dit op die aarde neergegooi. Die draak het toe voor die vrou wat op die punt was om geboorte te skenk, gaan staan om, sodra sy geboorte skenk, haar kind te verslind.
5Sy het geboorte geskenk aan 'n manlike kind, bestem om al die nasies met 'n ysterstaf te regeer. En haar kind is weggevoer na God en sy troon. 6Die vrou het egter die woestyn in gevlug, na 'n plek wat daar vir haar deur God gereedgemaak is, sodat hulle haar daar twaalfhonderd-en-sestig dae lank kon versorg.
7En daar het oorlog uitgebreek in die hemel: Migael en sy engele het teen die draak oorlog gevoer. Die draak en sy engele het ook oorlog gevoer, 8maar was nie sterk genoeg nie – daarom was daar nie meer vir hulle plek in die hemel te vind nie. 9Die groot draak, die slang van weleer, wat Duiwel en Satan genoem word, die verleier van die hele bewoonde wêreld, is toe uitgegooi. Hy is op die aarde neergegooi, en saam met hom ook sy engele. 10Toe het ek 'n harde stem in die hemel hoor uitroep:
“Nou het die verlossing en die krag
en die koningsheerskappy
van ons God deurgebreek,
en ook die volmag van sy •Christus,
omdat die aanklaer
van ons broers uitgegooi is,
hy wat hulle dag en nag
voor ons God aangekla het.
11Húlle het hom oorwin,
op grond van die bloed van die Lam,
en op grond van hulle getuienis.
Selfs in die aangesig van die dood
het hulle nie hulle eie lewens liefgehad nie.
12Daarom, juig hemel
en diegene wat in die hemel woon!
Wee julle, aarde en see,
want die Duiwel het met groot
woede na julle neergedaal,
omdat hy weet dat hy min tyd oor het.”
13En toe die draak sien dat hy op die aarde neergegooi is, het hy die vrou agtervolg wat geboorte geskenk het aan die manlike kind. 14Aan die vrou is egter die twee vlerke van die groot arend gegee, sodat sy na haar plek in die woestyn kon vlieg, waar sy vir 'n tyd, tye en 'n halwe tyd lank weg van die slang af versorg sou word.
15Die slang het toe uit sy bek 'n stroom water soos 'n rivier agter die vrou aan uitgespoeg, om haar deur die stroom te laat meesleur. 16Die aarde het die vrou egter gehelp, sy mond geopen, en die rivier wat die draak by sy bek uitgespoeg het, ingesluk. 17Die draak was woedend vir die vrou, en het weggegaan om oorlog te voer teen die res van haar nageslag wat die gebooie van God nakom en vashou aan die getuienis wat Jesus gelewer het. 18Toe het hy op die strand by die see gaan staan.