1'n Vals weegskaal
is vir die Here afstootlik,
maar 'n egte gewig
geniet sy goedkeuring.
2As verwaandheid kom,
kom skande,
maar by beskeie mense
is daar wysheid.
3Die onkreukbaarheid
van opregtes lei hulle,
maar die verdorwenheid
van verraderlikes vernietig hulle.
4Rykdom baat niks
in 'n tyd van gramskap nie,
maar regverdigheid red van die dood.
5Die regverdigheid van dié
wat onberispelik is,
maak sy pad gelyk,
maar deur sy goddeloosheid
val 'n goddelose.
6Die regverdigheid van opregtes
red hulle,
maar deur die wispelturigheid
van verraderlikes
word hulle self gevang.
7By die dood van 'n goddelose
is sy hoop daarmee heen,
en die verwagting wat rykdom bied,
verlore.
8Die regverdige
word uit nood bevry,
en 'n goddelose neem dan sy plek in.
9Met die mond vernietig
'n ongelowige sy medemens,
maar deur kennis
word regverdiges bevry.
10Oor die voorspoed van
regverdiges is 'n dorp verheug,
en wanneer goddeloses ten gronde
gaan, is daar jubelkrete.
11Deur die seën van opregtes
bereik 'n dorp hoogtes,
maar deur die mond van goddeloses
word dit afgebreek.
12Wie sy naaste verkleineer,
is sonder verstand,
maar iemand met insig bly stil.
13Wie as 'n skindertong rondgaan,
openbaar geheime,
maar 'n betroubare persoon
hou die saak verborge.
14Sonder leierskap val 'n volk,
maar oorwinning
lê by baie raadgewers.
15Iemand sal beslis skade ly
wanneer hy vir 'n vreemde
borg staan;
wie 'n weersin het in die gee
van handdrukke, is veilig.
16'n Bekoorlike vrou palm eer in,
maar geweldenaars palm rykdom in.
17Wie troue liefde betoon,
doen goed aan homself;
'n hartelose mens stort homself
in die ongeluk.
18'n Goddelose maak bedrieglike wins,
maar wie geregtigheid saai,
kry 'n egte beloning.
19Egte regverdigheid
is gerig op die lewe,
maar wie kwaad najaag,
stuur af op sy dood.
20Mense met geslepe harte
is vir die Here afstootlik,
maar dié met 'n onbesproke
lewenspad geniet sy goedkeuring.
21Dit staan vas:
Kwaad bly nie ongestraf nie,
maar die nakomelinge
van regverdiges kom vry.
22'n Goue ring aan 'n vark se snoet –
so is 'n vrou wat mooi is,
maar goeie oordeel prysgee.
23Wat regverdiges begeer,
strek net ten goede,
maar die hoop van goddeloses
bring gramskap.
24Daar is iemand wat uitdeel,
en hy verkry steeds meer,
en een wat meer as wat nodig is,
terughou –
net om gebrek te ly.
25'n Gulhartige persoon
geniet oorvloed,
en wie 'n ander se dors les,
kry self ook genoeg te drinke.
26Wie graan terughou –
die mense vervloek hom,
maar seën rus op die kop
van iemand wat koring
te koop aanbied.
27Wie die goeie voor oë het,
soek aanvaarding,
maar wie kwaad nastreef –
dit haal hom in.
28Wie op sy rykdom vertrou,
val self,
maar soos groen blare
spruit regverdiges uit.
29Wie rampspoed oor sy huis
bring, erf wind,
en 'n sot word die slaaf
van 'n verstandige mens.
30Die vrug van 'n regverdige
is 'n boom van lewe,
maar geweld neem lewens weg.
31As 'n regverdige op aarde
vergeld word,
hoeveel te meer 'n goddelose
en 'n sondaar!