Gelykenis van die saad
1Hy het weer begin om hulle langs die see te onderrig. Daar het toe so 'n groot skare om Hom saamgedrom dat Hy op die see in 'n boot gaan sit het, en die hele skare was op die strand langs die see. 2Hy het hulle dikwels deur gelykenisse geleer en deur sy lering vir hulle gesê: 3“Luister, julle! Kyk, 'n saaier het uitgegaan om te saai. 4Tydens die saaiery het 'n deel van die saad langs die pad geval, en voëls het gekom en dit opgepik. 5'n Ander deel het op 'n rotsagtige plek geval waar daar nie baie grond was nie, en dit het dadelik opgekom, omdat die grond nie diep was nie. 6Maar toe die son opkom, is dit verskroei. Omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. 7'n Ander deel het tussen die dorings geval. Die dorings het opgekom en dit verstik, en dit het nie vrug voortgebring nie. 8En nog ander saad het op goeie grond geval, en dit het opgekom, gegroei en opbrengs gelewer, een dertig-, 'n ander sestig- en nog 'n ander honderdvoudig.” 9Toe het Hy gesê: “Laat dié wat ore het om te hoor, luister!”
Doel van gelykenisse
10Toe Hy alleen was, het die omstanders saam met die twaalf Hom uitgevra oor die gelykenisse. 11En Hy het vir hulle gesê: “Aan julle is die geheimenis van die •koninkryk van God bekend gemaak, maar vir hulle daar buite word alles in gelykenisse gegee,
12“ ‘sodat hulle sal sien, en tog nie sien nie,
en hoor, en tog nie verstaan nie,
en hulle nie terugdraai en vergewe word nie.’ ”
Verduideliking van die gelykenis van die saad
13En Hy sê vir hulle: “Begryp julle nie hierdie gelykenis nie? Hoe sal julle dan al die gelykenisse verstaan? 14Die saaier saai die woord. 15Die saad langs die pad is die mense by wie die woord gesaai word – sodra hulle dit hoor, kom Satan dadelik en neem die woord weg wat in hulle gesaai is. 16En die saad wat op die rotsagtige plekke gesaai is, is die mense wat die woord dadelik met blydskap aanneem wanneer hulle dit hoor; 17maar hulle het nie wortel geskiet nie en hou net 'n rukkie. As verdrukking of vervolging vanweë die woord plaasvind, struikel hulle dadelik. 18En ander weer is die saad wat tussen die dorings gesaai is. Hulle is diegene wat die woord hoor, 19maar die bekommernisse van hierdie wêreld, die verleiding van rykdom en die begeertes na allerlei dinge dring in en verstik die woord, en dit bly sonder vrug. 20Maar die saad wat op die goeie grond gesaai is, is daardie mense wat die woord hoor, dit aanneem en vrug dra, een dertig-, 'n ander sestig- en nog 'n ander honderdvoudig.”
Gelykenis van die lamp
21En Hy het vir hulle gesê: “'n Lamp word tog nie gebring om onder 'n maatemmer of 'n bed gesit te word nie? Is dit nie bedoel om op 'n lampstaander geplaas te word nie? 22Want niks is verborge wat nie blootgelê sal word nie, en daar is niks weggesteek wat nie aan die lig sal kom nie. 23Laat dié wat ore het om te hoor, luister!” 24Hy het ook vir hulle gesê: “Gee ag op wat julle hoor! Met die maat waarmee julle meet, sal vir julle afgemeet word, en daar sal vir julle nog bygevoeg word. 25Want wie het, aan hom sal gegee word. En wie nie het nie, van hom sal ook dit wat hy het, weggeneem word.”
Gelykenis van saad wat vanself groei
26En Hy het gesê: “Die •koninkryk van God is soos 'n man wat saad op die land uitstrooi, 27en nag ná nag gaan slaap, en dag ná dag opstaan, en die saad ontkiem en groei – hoe, weet hy self nie. 28Die land bring die graan vanself voort: eers 'n halm, dan 'n aar en dan die koring vol in die aar. 29Wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is.”
Gelykenis van die mosterdsaadjie
30En Hy het gesê: “Hoe sou mens die •koninkryk van God uitbeeld, of deur watter gelykenis sou mens dit voorstel? 31Dit is soos die mosterdsaadjie wat, wanneer dit in die grond gesaai word, kleiner is as al die soorte saad op die land. 32Maar wanneer dit gesaai is, kom dit op en word dit die grootste van al die tuinplante, en maak sulke groot takke dat die voëls van die hemel in sy skaduwee kan nesmaak.”
Gebruik van gelykenisse
33Deur baie sulke gelykenisse het Hy die boodskap op so 'n manier aan hulle vertel dat hulle dit kon verstaan. 34Sonder 'n gelykenis het Hy nie met hulle gepraat nie, maar wanneer hulle op hulle eie was, het Hy alles vir sy eie dissipels uitgelê.
Stilmaak van die storm
35Op daardie dag, toe dit aand geword het, sê Hy vir hulle: “Kom ons gaan na die oorkant!” 36Hulle het toe die skare agtergelaat en Hom saamgeneem, aangesien Hy reeds in die boot was. Daar was ook ander bote by Hom. 37'n Hewige stormwind het opgekom, en die golwe het in die boot geslaan, sodat die boot reeds vol water begin word het. 38Hy self was egter agter in die boot op die kussing aan die slaap. Hulle maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie?” 39Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: “Wees stil, bedaar!” Die wind het gaan lê, en daar het 'n groot kalmte gekom. 40Hy vra hulle toe: “Waarom is julle bang? Het julle nog steeds nie geloof nie?” 41Hulle is met diep ontsag vervul en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy tog dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?”