Opwekking van Jesus
1Teen dagbreek, op die eerste dag van die week, het hulle na die graf gegaan met die geurige speserye wat hulle voorberei het. 2Hulle ontdek toe dat die klip van die graf weggerol was; 3en toe hulle ingaan, het hulle die Here Jesus se liggaam nie gekry nie. 4Hulle was verward hieroor, maar skielik het daar twee mans met glansende klere by hulle gestaan. 5Hulle was verskrik en het hulle gesigte na die grond toe gedraai, en die mans het vir hulle gesê: “Waarom soek julle die lewende by die dooies? 6Hy is nie hier nie, maar is opgewek! Onthou wat Hy vir julle gesê het toe Hy nog in Galilea was, 7‘Die •Seun van die Mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan.’ ” 8Hulle het toe sy woorde onthou 9en van die graf af teruggedraai, en al hierdie dinge aan die elf en al die ander gaan vertel. 10Dit was Maria Magdalena en Johanna en Maria, die moeder van Jakobus, en 'n paar ander vroue saam met hulle. Hulle het hierdie dinge aan die •apostels vertel; 11maar vir die apostels het hierdie woorde na leë praatjies geklink, en hulle het die vroue nie geglo nie. 12•Petrus egter het opgestaan en na die graf gehardloop. Toe hy vooroor buk, sien hy net die linnedoeke. En hy het teruggegaan huis toe, vol verwondering oor wat gebeur het.
Jesus se verskyning op pad na Emmaus
13En kyk, juis op dié dag was twee van hulle op pad na 'n dorp met die naam Emmaus, sestig stadion van Jerusalem af. 14Hulle het met mekaar gepraat oor al hierdie dinge wat gebeur het.
15Terwyl hulle so praat en bespiegel, kom Jesus self nader en loop saam met hulle, 16maar hulle oë is verhinder om Hom te herken. 17Hy sê toe vir hulle: “Waaroor loop julle so met mekaar en redeneer?” Hulle het gaan staan, hulle gesigte somber. 18Een van hulle, met die naam Kleopas, het Hom geantwoord: “Is u die enigste vreemdeling in Jerusalem wat nie weet van die dinge wat in hierdie dae in die stad gebeur het nie?” 19Hy vra hulle: “Watter dinge?” En hulle antwoord Hom: “Dit wat gebeur het met Jesus van Nasaret, 'n profeet, magtig in woord en daad in die oë van God en die hele volk, 20en hoe die leierpriesters en ons volksleiers Hom oorgelewer het om ter dood veroordeel te word, en Hom laat kruisig het. 21Ons het bly hoop dat dit Hy is wat Israel gaan verlos. Maar intussen is dit nou al die derde dag vandat dit gebeur het. 22Sommige vroue uit ons geledere het ons boonop ontstel. Hulle was vanoggend vroeg by die graf, 23en toe hulle sy liggaam nie vind nie, het hulle kom vertel dat hulle 'n visioen gesien het van engele wat sê dat Hy leef. 24'n Paar van ons het na die graf gegaan en dit net so aangetref soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.” 25Toe sê Hy vir hulle: “O, julle wat so sonder begrip is, met harte wat traag is om alles te glo wat die profete gesê het! 26Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie?” 27Hierna het Hy begin om al die Skrifte oor Hom, vanaf Moses en die Profete, vir hulle uit te lê.
28Toe hulle nader kom aan die dorpie waarheen hulle op pad was, het Jesus voorgegee dat Hy verder wil reis. 29Maar hulle het sterk by Hom aangedring: “Bly by ons, want dit is amper aand, en die dag is reeds verby.” Hy het toe ingedraai om by hulle oor te bly.
30Terwyl Hy saam met hulle vir ete aangeleun het, het Hy brood geneem, die seëngebed uitgespreek, dit gebreek en vir hulle gegee. 31Toe is hulle oë geopen, en hulle het Hom herken. Hy het egter uit hulle sig verdwyn. 32En hulle het vir mekaar gesê: “Was ons harte nie brandend in ons toe Hy met ons langs die pad gepraat en die Skrifte vir ons uitgelê het nie?”
33Hulle het onmiddellik opgestaan en na Jerusalem teruggekeer, waar hulle die elf, en die ander saam met hulle, bymekaar gevind het. 34En hulle het gesê: “Die Here is werklik uit die dood opgewek en het aan Simon verskyn!” 35Hulle verduidelik toe wat op die pad gebeur het, en hoe Hy met die breek van die brood aan hulle bekend geword het.
Jesus se verskyning aan die dissipels
36Terwyl hulle nog besig was om oor hierdie dinge te praat, staan Hy self tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!” 37Verskrik en beangs, het hulle gedink dat hulle 'n gees sien. 38Maar Hy sê vir hulle: “Waarom is julle ontsteld, en waarom kom daar twyfel in julle harte op? 39Kyk na my hande en my voete, dit is Ek self! Vat aan my, en kyk – 'n gees het nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.” 40Nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en voete. 41Omdat hulle dit van vreugde steeds nie kon glo nie en verbaas was, sê Hy vir hulle: “Het julle iets te ete hier?” 42En hulle het Hom 'n stuk geroosterde vis gegee. 43Hy het dit geneem en dit voor hulle geëet.
44Daarna het Hy vir hulle gesê: “Dit was my woorde wat Ek tot julle gerig het toe Ek nog saam met julle was, dat alles wat in die •Wet van Moses en die Profete en die Psalms oor My geskryf is, vervul moet word.” 45Daarop het Hy hulle verstand daarvoor geopen om die Skrifte te verstaan, 46en vir hulle gesê: “So staan daar geskryf dat die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, 47en dat in sy Naam bekering tot die vergewing van sondes aan alle nasies verkondig moet word. Julle moet by Jerusalem begin, 48en getuies van hierdie dinge wees. 49En kyk, Ek sal die belofte van my Vader na julle stuur. Maar bly julle in die stad totdat julle met krag uit die hoogte toegerus word.”
Jesus se hemelvaart
50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom aanbid, en met groot blydskap na Jerusalem teruggekeer. 53En hulle het God voortdurend in die tempelterrein bly prys.