Lig vir die tabernakel
1Die Here het vir Moses gesê: 2“Beveel die Israeliete om vir jou suiwer geparste olyfolie te bring vir lig, sodat die lampe voortdurend brand. 3In die Tent van Ontmoeting, buite die voorhangsel voor die verbondsbepalings, moet Aäron die lampe regsit. Dit moet van die aand tot die oggend voortdurend voor die Here wees. Dit is 'n vaste voorskrif wat vir altyd vir julle nageslagte geld. 4Op die rein menora moet hy die lampe regsit. Dit moet voortdurend voor die Here wees.”
Vertoonbrode
5“Jy moet gesifte meel vat en daarmee twaalf ringbrode bak. Elke ringbrood moet twee tiendes van 'n efa meel bevat. 6Sit dit in twee rye, ses in 'n ry, op die rein tafel voor die Here neer. 7Sit by elke ry suiwer wierook; dit sal, as simboliese offer van die brood, 'n offergawe aan die Here wees. 8Gereeld, Sabbatdag ná Sabbatdag, moet Aäron dit namens die Israeliete voor die Here regsit as 'n ewige verbond. 9Dit kom Aäron en sy seuns toe. Hulle moet dit op 'n heilige plek eet, want dit is 'n besonder heilige deel wat hy altyd moet kry uit die offergawes aan die Here.”
Een wet vir vreemdelinge en Israeliete
10Die seun van 'n Israelitiese vrou en 'n Egiptiese man het uit sy kampplek tussen die Israeliete ingegaan. In die kamp was daar 'n geveg tussen 'n Israelitiese man en hierdie seun van die Israelitiese vrou. 11Toe die seun van die Israelitiese vrou die Godsnaam laster en vervloek, het hulle hom na Moses geneem. Die seun se moeder, wie se naam Selomit was, was die dogter van Dibri, uit die stam van Dan. 12Hulle het hom onder bewaking gehou totdat hulle 'n beslissing van die Here sou kry.
13Die Here het vir Moses gesê: 14“Neem die een wat die vervloeking uitgespreek het uit die kamp uit. Almal wat gehoor het, moet hulle hande op sy kop lê; dan moet die hele volksvergadering hom met klippe doodgooi. 15Vir die Israeliete moet jy sê, ‘Wanneer enigiemand sy God vervloek, moet hy die gevolge van sy sonde dra. 16Die een wat die Naam van die Here laster, moet beslis sterf. Die hele volksvergadering moet hom beslis stenig. Soos 'n gebore Israeliet moet 'n •vreemdeling ook sterf wanneer hy die Godsnaam laster.
17“ ‘Wanneer iemand enige mens doodslaan, moet hy beslis sterf; 18en wie 'n dier doodslaan, moet daarvoor vergoed: 'n lewe vir 'n lewe. 19Wanneer iemand sy volksgenoot vermink – soos wat hy gedoen het, so moet daar aan hom gedoen word: 20'n breuk vir 'n breuk, 'n oog vir 'n oog, 'n tand vir 'n tand. Soos wat hy iemand vermink het, moet hy ook vermink word. 21Wie 'n dier doodslaan, moet daarvoor vergoed, maar wie 'n mens doodslaan, moet sterf. 22Daar moet vir julle een beslissing wees. Soos dit vir die gebore Israeliet is, moet dit vir die vreemdeling wees. Ek is die Here julle God.’ ”
23Moses het dit vir die Israeliete gesê. Hulle het die een wat die vervloeking uitgespreek het, uit die kamp geneem en hom met klippe doodgegooi. Die Israeliete het gedoen soos wat die Here Moses beveel het.