1Toe Ragel sien dat sy nie vir Jakob kinders in die wêreld kan bring nie, was sy afgunstig op haar suster. Sy het vir Jakob gesê: “Gee vir my kinders! Indien nie, dan sterf ek!” 2Jakob het kwaad geword vir Ragel en gevra: “Is ek in die plek van God, wat van jou die vrug van die moederskoot weerhou?” 3Sy sê toe: “Hier is my slavin Bilha. Gaan by haar in, sodat sy op my knieë geboorte kan gee en ook ek deur haar 'n familie kan opbou.” 4Sy het toe haar slavin Bilha vir hom as vrou gegee, en Jakob het by haar ingegaan. 5Bilha het swanger geword en vir Jakob 'n seun in die wêreld gebring. 6Toe sê Ragel: “God het aan my reg verskaf en my ook verhoor toe Hy vir my 'n seun gegee het.” Daarom het sy hom Dan genoem.
7Bilha, die slavin van Ragel, het weer swanger geword en vir Jakob 'n tweede seun in die wêreld gebring. 8Ragel het toe gesê: “Ek het 'n bomenslike worstelstryd met my suster gehad, maar het ook oorwin!” Sy het hom Naftali genoem.
9Toe Lea sien dat sy opgehou het om kinders in die wêreld te bring, het sy Silpa, haar slavin, geneem en haar vir Jakob as vrou gegee. 10Silpa, die slavin van Lea, het vir Jakob 'n seun in die wêreld gebring. 11Lea het gesê: “Geluk het gekom!” Sy het hom Gad genoem.
12Silpa, Lea se slavin, het vir Jakob 'n tweede seun in die wêreld gebring. 13Lea het gesê: “Tot my geluk! Want die vroue sal my gelukkig noem.” Sy het hom Aser genoem.
14Ruben het in die tyd van die koringoes uitgegaan en in die land op alruin afgekom. Hy het dit vir Lea, sy moeder, geneem. Ragel het vir Lea gesê: “Gee asseblief vir my van jou seun se alruin.” 15Maar sy het haar geantwoord: “Was dit nie vir jou genoeg om my man te vat nie, dat jy ook nog my seun se alruin wil vat?” Daarop sê Ragel toe: “Nou goed, hy mag maar vannag by jou slaap in ruil vir jou seun se alruin.” 16Toe Jakob teen die aand van die land af kom, het Lea uitgegaan om hom te ontmoet en vir hom gesê: “Na my moet jy kom, want ek het jou eerlik gehuur met my seun se alruin.” Hy het toe daardie nag by haar geslaap.
17God het Lea verhoor; sy het swanger geword en vir Jakob 'n vyfde seun in die wêreld gebring. 18Lea sê toe: “God het my beloning vir my gegee, omdat ek my slavin vir my man gegee het.” Sy het hom Issaskar genoem.
19Lea het weer swanger geword en 'n sesde seun vir Jakob in die wêreld gebring. 20Lea het gesê: “God het vir my 'n mooi geskenk gegee! Hierdie keer sal my man sy intrek by my neem, want ek het vir hom ses seuns in die wêreld gebring.” Sy het hom Sebulon genoem 21Daarna het Lea geboorte gegee aan 'n dogter, en sy het haar Dina genoem.
22God het ook aan Ragel gedink. God het haar verhoor en haar moederskoot oopgemaak. 23Sy het swanger geword en aan 'n seun geboorte gegee. Sy het gesê: “God het my bespotting weggeneem!” 24Sy het hom Josef genoem en gesê: “Mag die Here vir my nog 'n seun byvoeg.”
Jakob se rykdom
25Nadat Ragel aan Josef geboorte gegee het, het Jakob vir Laban gesê: “Laat my gaan, sodat ek na my plek en my land kan gaan. 26Gee vir my my vroue en my kinders, vir wie ek vir jou gewerk het, sodat ek kan gaan, want jy weet self watter werk ek vir jou gedoen het.” 27Laban het hom geantwoord: “As jy my asseblief net goedgesind sal wees! Ek het uit voortekens te wete gekom dat die Here my geseën het om jou ontwil.” 28Verder sê hy: “Bepaal vir my jou loon, en ek sal dit vir jou gee.” 29Hy het hom geantwoord: “Jy weet self hoe ek vir jou gewerk het, en wat met jou veestapel by my gebeur het. 30Ja, min het jy gehad voor my koms, maar dit het geweldig toegeneem, en die Here het jou geseën waar my voet getrap het. Maar nou, wanneer kan ek ook iets vir mý huis doen?” 31Laban het gevra: “Wat moet ek vir jou gee?” Jakob het geantwoord: “Jy hoef my nie enigiets te gee nie. As jy die volgende vir my doen, sal ek weer jou kleinvee laat wei en oppas: 32Ek sal vandag al jou kleinvee deurgaan en elke bont en gevlekte dier uitkeer – elke donkerkleurige dier onder die jong skape, en die gevlektes en bontes onder die bokke. Dit sal my loon wees. 33My eerlikheid sal in die toekoms vir my getuig wanneer jy kom om my loon na te gaan. Alles wat nie bont en gevlek is onder die bokke, of donkerkleurig is onder die jong skape nie, sal gesteelde goedere by my wees.”
34Laban het gesê: “Goed, as dit maar net gebeur soos jy sê!” 35Hy het egter dieselfde dag die gestreepte en gevlekte bokramme en al die bont en gevlekte bokooie, almal wat wit aan hulle gehad het, en al die donkerkleuriges onder die jong skape, uitgekeer en hulle in die sorg van sy seuns gelaat. 36Hy het 'n afstand van drie dagreise tussen hom en Jakob gehandhaaf. Jakob het die res van Laban se kleinvee laat wei.
37Jakob het groen latte van populiere, amandelbome en platane geneem. Hy het stroke bas daarvan afgeskil om die wit van die latte te ontbloot. 38Toe sit hy die takke wat hy geskil het, in die waterbakke reg voor die kleinvee, in die drinkbakke waarheen die kleinvee kom om te drink. Hulle het bronstig geraak wanneer hulle kom om te drink. 39So het die kleinvee by die latte bronstig geraak, en die kleinvee het gestreepte, bont en gevlekte lammers gekry. 40Jakob het dié jong skape afgesonder. Hy het die kleinvee laat kyk in die rigting van die gestreeptes en al die donkerkleuriges onder Laban se kleinvee. So het Jakob vir homself afsonderlike kuddes opgebou en hulle nie saam met Laban se kleinvee aangehou nie.
41Telkens wanneer ook al die sterkste ooie bronstig was, het Jakob die latte in die waterbakke neergesit, voor die oë van die kleinvee, sodat hulle by die latte bronstig kon wees. 42Wanneer die kleinvee egter swak was, het hy dit nie neergesit nie. Die swakkes was vir Laban en die sterkes vir Jakob. 43Die man se besittings het geweldig uitgebrei. Hy het baie kleinvee, slavinne, slawe, kamele en donkies gehad.