1Maar Elisa het gesê: “Hoor die woord van die Here! So sê die Here, ‘Môre teen hierdie tyd sal 'n sea gesifte meel teen 'n sikkel, en twee sea gars teen 'n sikkel verkoop word in die stadspoort van Samaria.’ ” 2Maar die adjudant op wie se arm die koning geleun het, antwoord die man van God en sê: “Kyk, al sou die Here vensters in die hemelruim maak – sou so iets kon gebeur?” Toe sê Elisa: “Kyk, jy gaan dit met jou eie oë sien, maar daarvan sal jy nie eet nie.”3Daar was vier mans met 'n velsiekte by die ingang van die stadspoort, en hulle het vir mekaar gesê: “Waarom sal ons hier bly totdat ons sterf? 4As ons sê, ‘Ons gaan die stad binne,’ en daar is hongersnood in die stad, dan sterf ons daar, en as ons hier bly, dan sterf ons. Daarom, kom ons loop oor na die Arameërs se kamp. As hulle ons laat lewe, dan leef ons, en as hulle ons doodmaak, dan sterf ons.” 5Hulle het toe teen skemerdonker gereedgemaak om na die Arameërs se kamp te gaan. Toe hulle by die kant van die Arameërs se kamp kom, kyk, toe is daar niemand nie!
6Die Heer het die leër van die Arameërs die geluid van strydwaens en perde, die geluid van 'n groot mag, laat hoor, en hulle het vir mekaar gesê: “Kyk, die koning van Israel het die konings van die Hetiete en die konings van Egipte teen ons gehuur om ons te oorval!” 7Hulle het toe opgespring en in die skemerdonker gevlug. Hulle het hulle tente, hulle perde en donkies – die kamp soos dit was – agtergelaat, en asof vir hulle lewens gevlug.
8Toe hierdie manne met die velsiekte by die kant van die kamp kom, het hulle in 'n tent ingegaan en geëet en gedrink. Hulle het silwer en goud en klere daarvandaan weggedra en dit gaan wegsteek. Hulle het teruggekom, in 'n ander tent ingegaan en ook van wat daar was, weggedra en dit gaan wegsteek. 9Maar toe sê hulle vir mekaar: “Dit is nie reg wat ons doen nie. Hierdie dag is 'n dag van goeie nuus en ons hou dit stil. As ons wag tot daglig, sal ons skuldig staan. Kom ons gaan dan nou en bring die nuus aan die koninklike paleis.”
10Hulle gaan toe, roep na die poortwag van die stad en lig hulle in: “Ons het by die Arameërs se kamp gekom, en kyk, daar was niemand nie, nie die geluid van 'n mens nie; slegs vasgemaakte perde en donkies, en tente, net so agtergelaat.” 11Die poortwagte roep dit toe uit en maak dit in die koninklike paleis bekend. 12Die koning het in die nag opgestaan en vir sy amptenare gesê: “Laat ek tog vir julle vertel wat die Arameërs aan ons wil doen. Hulle weet dat ons honger ly. Hulle het uit die kamp gegaan om in die veld weg te kruip, met die gedagte: Wanneer hulle uit die stad gaan, sal ons hulle lewendig vang en in die stad inkom.” 13Een van sy amptenare reageer toe daarop en sê: “Laat hulle tog maar vyf van die oorblywende perde neem, van dié wat nog in die stad oor is. Kyk, hulle is soos die hele menigte van Israel, wat nog in die stad oor is. Kyk, hulle is soos die hele menigte van Israel, wat op hulle laaste bene is. Laat ons hulle stuur en sien wat aangaan.”
14Hulle neem toe twee strydwaens met perde. Die koning het hulle agter die leër van die Arameërs aangestuur en gesê: “Gaan kyk!” 15Hulle is agter hulle aan tot by die Jordaan. En kyk, die hele pad was besaai met kledingstukke en toerusting wat die Arameërs in hulle haas neergegooi het.
Die boodskappers het omgedraai en aan die koning berig gebring, 16waarop die volk toe uitgaan en die Arameërs se kamp plunder. 'n Sea gesifte meel is teen 'n sikkel, en twee sea gars teen 'n sikkel verkoop, ooreenkomstig die woord van die Here.
17Die koning het die adjudant op wie se arm hy geleun het, by die poort laat toesig hou. Maar die mense het hom in die poort vertrap en hy het gesterf, soos die man van God gesê het toe die koning na hom afgegaan en hy met hom gepraat het. 18Dit het gebeur net soos die man van God vir die koning gesê het: “Twee sea gars sal teen 'n sikkel en 'n sea gesifte meel teen 'n sikkel te koop wees teen hierdie tyd môre in die stadspoort van Samaria.” 19Die adjudant het toe mos die man van God geantwoord en gesê: “Kyk, al sou die Here vensters in die hemelruim maak – sou so iets kon gebeur?” En hy het toe geantwoord: “Kyk, jy gaan dit met jou eie oë sien, maar daarvan sal jy nie eet nie.” 20Dit het toe net so met hom gebeur – die mense het hom in die poort vertrap, en hy het gesterf.