1Samuel het die fles met olie geneem en dit op Saul se kop uitgegiet. Hy het hom gesoen en vir hom gesê: “Is dit nie so dat die Here jou as leier oor sy erfdeel gesalf het nie? 2Wanneer jy vandag van my af weggaan, sal jy twee mans teëkom by die graf van Ragel, by Selsag, in die gebied van Benjamin. Hulle sal vir jou sê, ‘Die donkiemerries wat jy gaan soek het, is gevind. Kyk, jou pa het die saak van die donkiemerries al laat vaar. Hy is besorg oor julle en vra: “Wat moet ek doen oor my seun?” ’
3“As jy daarvandaan verder gaan, sal jy by die akkerboom van Tabor kom. Daar sal drie mans wat opgaan na God in Bet-El, jou teëkom. Een dra drie bokkies, een dra drie rondebrode en een dra 'n kruik wyn. 4Hulle sal vra hoe dit met jou gaan en vir jou twee brode gee. Jy moet dit uit hulle hand aanvaar.
5“Daarna sal jy by Gibea van God uitkom, waar wagposte van die Filistyne is. Sodra jy daar die stad binnegaan, sal jy 'n groep profete raakloop wat afkom van die •offerhoogte af. Voor hulle word daar op harpe, tamboeryne, fluite en liere gespeel, terwyl hulle in geestesvervoering is. 6Die Gees van die Here sal jou oorweldig, en jy sal saam met hulle in geestesvervoering wees. Jy sal in 'n ander mens verander word.
7“Wanneer hierdie tekens vir jou vervul word, doen dan wat jou hand vind om te doen, want God is met jou. 8Jy moet voor my uit na Gilgal toe afgaan. Kyk, ek sal na jou toe afkom om •brandoffers te offer en •maaltydoffers te slag. Sewe dae lank moet jy wag, totdat ek by jou aankom en jou te kenne gee wat jy moet doen.”
9Net toe Saul omdraai om van Samuel af weg te gaan, het God sy hart verander. Al hierdie tekens is dieselfde dag nog vervul. 10Toe hulle daar in Gibea aankom – kyk, daar kom die groep profete hom tegemoet! Die Gees van God het hom oorweldig, en hy was tussen hulle in geestesvervoering. 11Toe almal wat hom voorheen geken het, sien dat hy sowaar saam met profete profeteer, het hulle vir mekaar gevra: “Wat is dit wat met die seun van Kis gebeur het? Is Saul ook onder die profete?” 12Iemand wat daar was, het gevra: “En wie is hulle vader?” Daarom het dit 'n spreekwoord geword: “Is Saul ook onder die profete?” 13Toe Saul uit sy geestesvervoering kom, het hy na die offerhoogte gegaan.
14Saul se oom het vir hom en sy handlanger gevra: “Waarheen het julle gegaan?” “Om die donkies te gaan soek,” het hy geantwoord, “en toe ons sien dat hulle nie daar is nie, het ons na Samuel gegaan.” 15Saul se oom sê toe: “Vertel my tog wat het Samuel vir julle gesê.” 16Saul het sy oom geantwoord: “Hy het ons maar net verseker dat die donkiemerries gevind is.” Oor die saak van die koningskap waaroor Samuel gepraat het, het Saul egter niks vir hom gesê nie.
Aanwysing van Saul as koning
17Samuel het die volk opgeroep na die Here in Mispa. 18Hy het vir die Israeliete gesê: “So sê die Here, die God van Israel, ‘Ek is die Een wat Israel uit Egipte laat optrek het. Ek het julle gered uit die hand van die Egiptenare en uit die hand van al die koninkryke wat julle onderdruk het.’
19“Julle, egter, het vandag julle God verwerp wat julle uit alle gevare en benoudhede verlos. Julle het gesê, ‘Nee, maar 'n koning moet jy oor ons aanstel.’ Neem dan nou plek in voor die Here volgens julle stamme en volgens julle afdelings.”
20Samuel het toe al die stamme van Israel laat nader kom, en die stam van Benjamin is aangewys. 21Hy het die stam van Benjamin volgens familiegroepe laat nader kom, en die familiegroep van Matri is aangewys. Toe is Saul, seun van Kis, aangewys. Hulle het hom gesoek, maar hy kon nie gevind word nie. 22Hulle het die Here weer geraadpleeg: “Het nog iemand hierheen gekom?” Die Here het gesê: “Kyk, hy kruip weg by die pakgoed.”
23Hulle het gehardloop en hom van daar af gebring. Hy het kop en skouers uitgestaan bo die hele volk.
24Samuel sê toe vir die hele volk: “Sien julle die een vir wie die Here gekies het? Ja, daar is niemand soos hy onder die hele volk nie.” Die hele volk het hom toegejuig met die woorde: “Lank lewe die koning!” 25Samuel het toe met die volk gepraat oor die regte verbonde aan die koningskap, en dit in 'n •boekrol geskryf. Hy het dit voor die Here neergelê.
Daarna het Samuel die hele volk laat gaan, elkeen na sy huis. 26Ook Saul het na sy huis in Gibea gegaan. Bekwame manne wie se harte deur God aangeraak is, het saam met hom gegaan. 27Maar booswigte het gesê: “Hoe kan hierdie man ons verlos?” En hulle het hom geminag en geen geskenk vir hom geneem nie, maar hy het hom doof gehou.