Skeuring van die ryk
1Rehabeam het na Sigem gegaan, want dit was na Sigem waarheen die hele Israel gekom het om hom koning te maak. 2Toe Jerobeam, seun van Nebat, dit hoor – hy was nog steeds in Egipte, waarheen hy van koning Salomo af weggevlug het – het hy in Egipte gebly. 3Hulle het hom toe ontbied, en Jerobeam en die hele geloofsgemeenskap van Israel het gekom en met Rehabeam gepraat en gesê: 4“U vader het ons juk hard gemaak. Maar u, maak nou die harde slawewerk van u vader en die swaar juk wat hy op ons gelê het, ligter, dan sal ons u dien.” 5Hy het vir hulle gesê: “Gaan drie dae weg en kom dan terug na my.” Die volk het toe weggegaan.
6Koning Rehabeam vra toe raad by die oudstes wat in sy vader, koning Salomo, se diens gestaan het toe dié nog geleef het: “Wat raai julle my aan moet die antwoord aan hierdie volk wees?” 7Hulle het vir hom gesê: “As u vandag 'n dienaar van hierdie volk word en hulle dien, en as u hulle antwoord en mooi met hulle praat, sal hulle altyd u dienaars wees.” 8Hy het egter die raad van die oudstes wat hulle hom gegee het, in die wind geslaan en raad gevra by die jong manne wat saam met hom grootgeword en in sy diens gestaan het. 9Hy het vir hulle gevra: “Wat raai julle my aan moet ons hierdie volk antwoord wat vir my gesê het, ‘Verlig die juk wat u vader op ons gelê het’?” 10Die jong manne wat saam met hom grootgeword het, sê toe vir hom: “So moet jy sê vir hierdie volk wat vir jou gesê het, ‘U vader het ons juk swaar gemaak; maar u, maak dit ligter op ons!’ So moet jy dit aan hulle stel, ‘My pinkie is dikker as my vader se middellyf. 11Daarom, my vader het 'n swaar juk op julle gelê; maar ek gaan by julle juk nog byvoeg. My vader het julle met swepe gekasty; maar ek sal julle met skerpioene kasty.’ ”
12Jerobeam en die hele volk het toe op die derde dag na Rehabeam toe gekom, soos die koning met hulle afgespreek het deur te sê: “Kom terug na my op die derde dag.” 13Die koning het die volk hard geantwoord en die raad wat die oudstes hom gegee het, in die wind geslaan. 14In ooreenstemming met die raad van die jong manne, het hy hulle aangespreek: “My vader het julle juk swaar gemaak, en ek gaan dit nog erger maak. My vader het julle met swepe gekasty; maar ek sal julle met skerpioene kasty.” 15Die koning het nie na die volk geluister nie, want dit was 'n beskikking van die Here, sodat Hy sy belofte wat Hy by monde van Agija, die man uit Silo, aan Jerobeam, seun van Nebat, gemaak het, gestand kon doen.
16Toe die hele Israel sien dat die koning nie na hulle luister nie, het die volk die koning geantwoord:
“Watter aanspraak het ons
op Dawid?
Ons het geen erfdeel in die seun
van Isai nie;
elkeen na sy tente toe, Israel!
Sien nou om na jou eie huis,
Dawid!”
Israel het toe na hulle tente gegaan. 17Die Israeliete wat in die dorpe van Juda woon, oor hulle was Rehabeam koning.
18Koning Rehabeam het Adoniram, wat in bevel van die dwangarbeid was, gestuur, maar die hele Israel het hom met klippe gegooi en hy het gesterf. Koning Rehabeam het daarin geslaag om op sy strydwa te klim om na Jerusalem te vlug. 19So het Israel in verset gekom teen die huis van Dawid. Dit is vandag nog so.
20Toe die hele Israel hoor dat Jerobeam teruggekeer het, het hulle hom na die volksvergadering ontbied en hom koning gemaak oor die hele Israel. Niemand het die huis van Dawid gevolg nie, behalwe die stam van Juda alleen.
21Toe Rehabeam in Jerusalem aankom, roep hy die hele huis van Juda en die stam van Benjamin byeen – honderd-en-tagtigduisend uitgesoektes wat kan oorlog maak – om teen die huis van Israel te veg en die koningskap vir Rehabeam, seun van Salomo, terug te kry. 22Maar die woord van God het tot Semaja, die man van God, gekom: 23“Sê vir Rehabeam, seun van Salomo, die koning van Juda, en vir die hele huis van Juda en Benjamin, asook die res van die volk, 24‘So sê die Here: “Julle mag nie optrek nie, en julle mag nie teen julle broers, die Israeliete, veg nie. Keer terug, elkeen na sy huis, want wat gebeur het, is deur my toedoen.” ’ ” Hulle het die woord van die Here gehoorsaam en teruggegaan volgens die woord van die Here.
Jerobeam se beeldediens
25Jerobeam het Sigem in die heuwelland van Efraim versterk en daarin gaan woon. Toe het hy daarvandaan uitgetrek en Pniël versterk. 26Jerobeam het in sy hart gesê: Nou gaan die koningskap terugkeer na die huis van Dawid. 27As hierdie volk optrek om offers te bring in die huis van die Here in Jerusalem, sal die harte van hierdie volk terugkeer na hulle heer, na Rehabeam, die koning van Juda. Hulle sal my doodmaak en teruggaan na Rehabeam, die koning van Juda.
28Nadat die koning raad gevra het, het hy twee goue kalwers laat maak en vir die mense gesê: “Lank genoeg het julle nou na Jerusalem opgetrek! Hier is jou gode, Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het!” 29Hy het die een in Bet-El geplaas; die ander een het hy in Dan geplaas. 30Hierdie saak het tot sonde gelei; die volk het selfs tot in Dan gegaan om voor die een daar te aanbid.
31Verder het Jerobeam tempels op die offerhoogtes opgerig en priesters aangestel uit alle dele van die volk. Hulle was nie uit die nageslag van Levi nie. 32Jerobeam het 'n fees ingestel in die agtste maand, op die vyftiende dag van die maand, soortgelyk aan die fees wat in Juda gehou is. Hy het self op die altaar geklim. So het hy in Bet-El gemaak – om te offer aan die kalwers wat hy gemaak het. Hy het in Bet-El die priesters van die offerhoogtes wat hy opgerig het, laat diens doen.
33Hy het op die altaar geklim wat hy in Bet-El opgerig het op die vyftiende dag van die agtste maand, in die maand wat hy in sy eie hart versin het. Ja, hy het 'n fees ingestel vir die Israeliete en op die altaar geklim om 'n offer te verbrand.