1Omdat hulle nie logies redeneer nie,
sê hulle mos onder mekaar:
“Ons lewe is kort en vol pyn,
en daar is geen genesing
vir 'n mens se einde nie;
ons weet nie van iemand
wat uit Hades teruggekeer het nie.
2Want ons het deur die toeval
tot stand gekom
en hierna sal dit wees asof
ons nie bestaan het nie.
Die asem in ons neusgate
is immers rook
en die rede is 'n vonk
in die klop van ons harte;
3as dit geblus word,
sal die liggaam tot as vergaan
en die gees sal verdamp soos dun lug.
4Ons naam sal mettertyd vergeet word
en niemand sal ons dade onthou nie.
Ons lewe sal verbygaan
soos 'n wolk se laaste flardes;
dit sal verdryf word soos mis
wat deur die strale
van die son verjaag
en deur sy hitte oorweldig word.
5Want ons lewensduur
is 'n skaduwee wat verbygaan;
ons einde kan nie herroep word nie,
want dit is verseël en niemand
kan dit verander nie.
6Kom, laat ons dus die goeie
geniet terwyl dit daar is,
en laat ons dit wat geskape is
gretig benut, soos in ons jeug.
7Laat ons ons versadig met
duur wyn en geurige olies,
en laat nie 'n enkele lenteblom
by ons verbygaan nie.
8Laat ons ons met oleanderknoppe
kroon voordat hulle verwelk.
9Laat nie een van ons nalaat
om deel te hê aan
ons uitbundigheid nie.
Laat ons orals tekens
van ons vreugde agterlaat,
want dit is wat ons toekom
en dit is ons lot.
10Laat ons die arm regverdige verdruk;
laat ons nie vir die weduwee omgee nie
en laat ons nie op die grysheid
van die bejaarde man ag slaan nie.
11Maar laat ons krag die norm
wees van wat reg is,
want swakheid
word as nutteloos uitgewys.
12Laat ons 'n lokval stel
vir die regverdige,
want hy is vir ons 'n hindernis
en verset hom teen ons dade.
Hy verwyt ons dat ons
teen die wet sondig,
en beskuldig ons daarvan
dat ons teen ons opvoeding sondig.
13Hy maak daarop aanspraak
dat hy kennis van God het
en noem homself 'n kind van die Here.
14Hy het 'n teregwysing
vir ons idees geword.
Selfs net om hom te sien,
is vir ons 'n las,
15want sy leefwyse verskil
van ander mense s'n,
en sy paaie is vreemd.
16Ons word deur hom
as vals beskou,
en hy vermy ons paaie
as iets wat •onrein is.
Hy beskou die einde
van die regverdiges as gelukkig,
en spog dat God sý Vader is.
17Laat ons sien of sy woorde waar is
en laat ons toets wat gebeur
aan die einde van sy lewe.
18Want as die regverdige
'n seun van God is, sal Hy hom help,
en sal Hy hom red uit die hand
van sy teenstanders.
19Laat ons hom toets
met beledigings en marteling
sodat ons kan vasstel
hoe inskiklik hy is,
en sodat ons sy lankmoedigheid
op die proef kan stel.
20Laat ons hom tot 'n skandelike
dood veroordeel,
want volgens sý uitspraak
sal daar mos vir hom
beskerming wees.”
21So redeneer hulle,
maar hulle dwaal,
want hulle boosheid verblind hulle,
22en hulle ken nie
God se geheime nie;
hulle verwag ook nie
dat heiligheid beloon word nie,
en waardeer nie die eer
wat blaamlose siele ontvang nie.
23God het die mens tog geskep
om onverganklik te wees
en Hy het hom as beeld
van sy eie ewigheid gemaak.
24As gevolg van die duiwel se afguns
het die dood in die heelal gekom,
en hulle wat by hom hoort,
het ervaring daarvan.