1Maar vir u heiliges was daar
'n baie groot lig.
Die vyande wat hulle stemme
gehoor het, maar nie
hulle gestaltes kon sien nie,
het die regverdiges
gelukkig geag omdat hulle
nie gely het nie,
2en hulle was dankbaar
omdat die regverdiges hulle
nie skade berokken het nie,
al is hulle vantevore
onregverdig behandel,
en hulle het om genade
gesmeek omdat hulle
van hulle verskil het.
3In teenstelling daarmee
het U 'n vuurkolom as gids
vir die onbekende reis gegee,
en 'n skadelose son voorsien
op hulle roemryke reis na die vreemde.
4Hulle vyande is tereg
van lig beroof
en in duisternis gevange gehou,
want hulle het u kinders
agter slot en grendel gevange gehou –
u kinders deur wie
dit bestem was
dat die onverganklike lig
van u wet aan die wêreld
gegee sou word.
5Hulle het beplan
om die kindertjies van die heiliges
dood te maak,
maar toe een kindjie
as vondeling agtergelaat en gered is,
het U 'n groot aantal
van hulle kinders van hulle
weggeneem as straf,
en hulle almal saam deur
'n geweldige watervloed verdelg.
6Daardie nag is vooraf aan ons
vaders bekend gemaak,
sodat hulle,
met die seker wete daarvan,
hulle in die beloftes waarop
hulle vertrou het, kon verbly.
7U volk het gewag
op die redding van die regverdiges
en die vernietiging van hulle vyande,
8want waarmee U
die teenstanders gestraf het,
daarmee het U aan ons,
vir wie U geroep het,
roem verleen.
9Want u heilige kinders
van goeie ouers
het in die geheim geoffer,
en hulle in eensgesindheid
tot die wet van God verbind
dat die heiliges
in gelyke mate sou deel
in dieselfde seëninge
en dieselfde gevare,
terwyl hulle reeds die vaders
se lofliedere gesing het.
10Daarteenoor het die vyande
se luide geroep
met 'n wanklank na hulle geëggo
en weeklagte en 'n gejammer
oor die kinders
het oral opgeklink.
11Met dieselfde straf
is slaaf en heerser getref
en die gewone mens
het dieselfde lot ondergaan
as die koning.
12En saam het almal
ontelbare dooies gehad –
almal neergevel deur een
en dieselfde dood.
Daar was trouens nie eers
genoeg lewendes om
die dooies te begrawe nie,
aangesien die keur
van hulle nageslag binne
'n oomblik omgekom het.
13Want vanweë hulle towerkunste
het hulle al hierdie dinge
met ongeloof bejeën,
maar by die aanskoue
van die dood
van hulle eersgeborenes
moes hulle erken
dat die volk God se kinders is.
14Want toe alles in rus en stilte
gehul was,
en die nag teen 'n vinnige
pas halfpad verby was,
15het u almagtige Woord
van sy koninklike troon in die hemel
soos 'n meedoënlose kryger
in die gedoemde land gespring
met die skerp swaard
– u onwrikbare bevel –
16en gaan staan en alles
met die dood gevul,
met sy kop wat aan die hemel raak,
en sy voete op die aarde.
17Toe skielik het drogbeelde
in nagmerries hulle ontstel,
en onverwagse vrees het hulle oorval;
18en hier het een, daar 'n ander,
halfdood neergeval
en bekend gemaak waarom
hulle sterwend was.
19Want die drome wat hulle
geteister het,
het dit vooraf onthul,
sodat hulle nie sou omkom
sonder die besef waarom
hulle so uitermate ly nie.
20Die ervaring van die dood
het ook die regverdiges geraak
en in die woestyn is 'n menigte verbrysel.
Maar die toorn van God
het nie lank geduur nie,
21want 'n onberispelike man
het inderhaas as kampvegter
vir hulle in die bres getree;
met die wapens
van sy priesterlike amp,
gebed en reukwerk,
het hy versoening bewerk.
Hy het u toorn weerstaan
en 'n einde gemaak aan die onheil;
daardeur het hy getoon
dat hy u ampsdraer is.
22Hy het die bittere woede oorwin;
hy het nie met liggaamskrag nie,
ook nie met die krag van wapens nie,
maar met die woord die Een
wat straf, onderwerp;
hy het dit gedoen deur hom
te beroep op die beloftes
en verbonde met die vaders.
23Die dooies het reeds in hope
op mekaar gestapel gelê,
toe hy in hulle midde gaan staan
en die goddelike toorn afgeweer het
deur die pad daarvan
na die lewendes af te sny.
24Want die hele wêreld was
op sy lang priestermantel uitgebeeld;
ook die roemryke dade
van die stamvaders
was op vier rye edelstene gegraveer,
en op die voorhoofband
van sy hoof was u majesteit.
25Voor hierdie dinge
het die Wreker gewyk,
want hy het dit gevrees.
Net die ervaring van die wraak
was al genoeg.