1Daarom is dit gepas dat hulle
deur diere van so 'n aard gestraf
en deur swerms ongediertes gefolter is.
2In teenstelling met so 'n straf
het U 'n weldaad aan u volk bewys
deurdat U kwartels,
as voedsel met 'n ongewone smaak vir hulle,
voorsien het om hulle
knaende eetlus te stil.
3Die doel was dat daardie
mense in hulle smagting
na voedsel,
vanweë die afstootlikheid
van die ongediertes
wat na hulle gestuur is,
selfs sou wegbeweeg
van hulle natuurlike eetlus,
maar dat u volk, ná 'n kort
tydjie van gebrek,
ook 'n ongewone smaak kon ervaar.
4Want dit was reg
dat 'n onvermydelike
skaarste aan voedsel
die oorheersers moes oorval,
terwyl aan u volk slegs
getoon is hoe hulle vyande
aanhoudend gefolter is.
5Want ook toe die
vreesaanjaende woede
van wilde diere u volk
oorval het,
en hulle omgekom het deur
die pik van krioelende slange,
het u toorn nie enduit geduur nie;
6hulle is vir 'n kort tydjie
beangs gemaak om hulle te vermaan,
terwyl hulle 'n teken
van redding ontvang het
om hulle te herinner
aan die bepalings van u wet.
7Want hy wat hom daarna
gekeer het, is gered –
nie op grond van wat hy
aanskou het nie,
maar vanweë U,
die Verlosser van alle mense.
8En hierdeur het U ook
ons vyande oortuig
dat U die Redder
uit alle kwaad is.
9Want die byte van sprinkane
en steekvlieë het hulle dood
veroorsaak,
en geen geneesmiddel is gevind
om hulle lewens te red nie,
omdat hulle verdien het
om deur sulke gediertes
gestraf te word.
10Maar selfs nie die tande
van die giftige slange
het u kinders ondergekry nie,
want u ontferming het hulle
te hulp gekom en hulle genees.
11Dit was tog om hulle
aan u woorde te herinner
dat hulle gesteek is;
hulle is egter gou gered
sodat hulle nie in 'n put
van diep vergetelheid sink
en u weldadigheid ontbeer nie.
12Dit was nóg kruieplant
nóg trekpleister wat hulle
gesond gemaak het,
maar u woord, Here,
wat almal genees het.
13Want U het volmag
oor lewe en dood
en U bring iemand af
na die poorte van Hades
en lei hom weer omhoog.
14'n Mens maak in sy boosheid
wel dood,
maar die lewensasem
wat uitgegaan het,
kan hy nie terugbring nie,
ook nie 'n gevange siel bevry nie.
15Dit is onmoontlik
om aan u hand te ontkom.
16Want die goddeloses
wat geweier het
om U te erken,
is gekasty deur u kragtige arm
toe hulle deur buitengewone
reënbuie en haelbuie
en onverbiddelike
stormbuie gejaag,
en deur vuur verteer is.
17Maar die vreemdste van alles
was dat binne-in die water
wat alles blus,
die vuur hewiger gebrand het,
want die heelal veg aan die kant
van die regverdiges.
18Op 'n keer het die vlam bedaar
sodat dit nie die diere
wat teen die goddeloses
gestuur is, sou verteer nie,
maar dat hulle self
by die aanskoue daarvan
kon weet dat hulle deur
God se oordeel agtervolg is.
19Op 'n ander keer het dit
te midde van water sterker
as die krag van vuur ontvlam,
sodat dit die opbrengs
van 'n sondige aarde kon vernietig.
20U het u volk, daarenteen,
gevoed met die voedsel van engele,
en onvermoeid voorbereide
brood uit die hemel
aan hulle voorsien,
kragtige voedsel,
lekker in elke opsig
en gepas vir elke smaak.
21Want dié lewensonderhoud
het u soetigheid
aan u kinders geopenbaar,
terwyl die voedsel die hongerlus
bevredig het van elkeen
wat dit geëet het,
en aangepas is na elkeen se smaak.
22En ook het sneeu en ys
die vuur weerstaan
en nie gesmelt nie,
sodat hulle kon besef
dat die vuur wat in die hael
aanhou brand
en in al die reënbuie blits,
die opbrengs van hulle
vyande vernietig het.
23En tog, sodat die regverdiges
gevoed sou word,
het die vuur sy eie krag vergeet.
24Want die skepping, wat aan U
as Skepper diensbaar is,
span sy krag in
om die onregverdiges te straf,
maar verslap sy krag om goed
te doen aan dié
wat op U vertrou.
25Daarom ook, terwyl
die skepping destyds allerlei
veranderinge ondergaan het,
het dit so in diens gestaan
van u gawe wat almal voed,
ooreenkomstig die wens
van hulle wat bid,
26sodat u kinders, vir wie U,
Here, liefhet, kon leer
dat dit nie die kweek
van gewasse is wat 'n mens
voed nie, maar u woord,
wat dié wat op U vertrou, onderhou.
27Want dit wat nie deur vuur
vernietig kon word nie,
het eenvoudig weggesmelt,
verwarm deur die eerste
strale van die son,
28sodat daar besef kon word
dat 'n mens voor sonop
moet opstaan om U te dank,
en met dagbreek U in gebed
moet ontmoet.
29Want die verwagting
van 'n ondankbare
sal wegsmelt soos winterryp
en wegvloei soos onbruikbare water.