Gebed van Jesus, seun van Sirag
1Ek sal U bely, Here en Koning,
en ek sal U as my God
en Verlosser loof.
Ek bely u Naam,
2want U was my beskermer en helper,
U het my liggaam van ondergang gered,
en uit die valstrik
van 'n lasterlike tong,
en van lippe wat leuens voortbring.
En teen my teenstanders
was U 'n hulp en het U my bevry
3– ooreenkomstig die oorvloed
van ontferming en u Naam –
van die gekners van tande
gereed om my te verslind,
van die hand van diegene
wat my lewe soek,
van baie verdrukkinge
wat ek ondervind het,
4van versmoring deur 'n vuur rondom my,
en van binne 'n vuur wat ek nie
aan die brand gesteek het nie,
5uit die dieptes van die maag van Hades,
en van 'n •onrein tong
en 'n leuenagtige woord,
6die lastering van 'n onregverdige tong teenoor die koning.
My siel het na aan die dood gekom
en my lewe was naby aan Hades
daar onder.
7Hulle het my van alle kante
omsingel,
en daar was niemand wat wou help nie;
ek het uitgekyk vir bystand van mense,
maar daar was niemand nie.
8Tog het ek u ontferming onthou, Here,
en wat U van ewig af bewerk,
want U hef diegene op wat op U wag,
en U verlos hulle uit die hand van vyande.
9Ek het my smeking
van die aarde af opgestuur,
en gebid om verlos te word van die dood.
10Ek het die Here, Vader
van my heer, aangeroep
om my nie te verlaat in dae
van benoudheid nie,
en my in 'n tyd van hoogmoediges sonder hulp te laat nie.
“Ek sal u Naam voortdurend loof,
en ek sal U bely met die sing
van liedere.”
11En my gebed is verhoor,
want U het my gered van ondergang
en my uit 'n bose tyd verlos.
12Om hierdie rede sal ek U bely
en U prys
en sal ek die Naam van die Here loof.
13Toe ek nog jonk was,
voordat ek gereis het,
het ek openlik Wysheid
in my gebed gesoek.
14Voor die •tempel het ek
na haar gevra
en tot die laaste tye sal ek haar soek.
15Vandat die druiwe bot
totdat dit ryp word,
was my hart verheug in haar;
my voete het op die paaie
van geregtigheid geloop;
van my jeug af was ek op haar spoor.
16Ek het skaars my ore gespits
of ek het haar ontvang
en baie onderrig gevind.
17Ek het vooruitgang
deur haar gemaak;
wie aan my wysheid gee, sal ek eer.
18Want ek het besluit
om haar te beoefen –
ek het die goeie nagestreef.
en sal nooit beskaamd staan nie.
19My siel het met haar geworstel,
en in die uitvoering van die wet
was ek nougeset.
Ek het my hande boontoe uitgesprei,
en die onkunde oor haar betreur.
20Ek het my siel op haar gerig,
en in reinheid het ek haar gevind.
Met haar het ek van die begin af
'n hart verkry;
om hierdie rede sal ek nooit
verlaat word nie.
21My binneste was vol onrus,
sodat ek haar opgesoek het;
daarom het ek 'n kosbare besitting
verwerf.
22Die Here het aan my
'n tong gegee as my loon,
en daarmee sal ek Hom prys.
23Nader my, oningeligtes,
en kom woon in 'n huis van onderrig.
24Hoekom sê julle dat julle
tekortskiet in hierdie dinge,
en verduur julle siele groot dors?
25Ek het my mond oopgemaak en gesê:
“Verwerf wysheid vir julleself,
sonder geld.
26Plaas julle nek onder haar juk,
en laat julle siel onderrig ontvang;
dit is naby om te vind.”
27Sien met julle eie oë dat ek
min moeite gehad het,
maar dat ek vir myself
baie rus gevind het.
28Neem deel aan onderrig
wat baie silwer kos,
en julle sal baie goud
daardeur verwerf.
29Mag julle siel vreugde vind
in sy ontferming,
en mag julle nooit skaam wees
om Hom te prys nie.
30Doen julle werk vroegtydig,
en Hy sal julle beloon op sy tyd.