1En ná hom het Natan opgestaan
om te profeteer, in die tyd van Dawid.
2Net soos vet afgeskei word
van 'n •maaltydoffer,
so ook Dawid van die Israeliete.
3Hy het met leeus gespeel
soos met boklammers,
en met bere
soos met skaaplammetjies.
4Het hy nie in sy jeug
'n reus gedood,
en sodoende skande van die volk
weggeneem
deur sy hand met 'n klip
in 'n slinger op te lig
en die hoogmoed van Goliat
neer te werp nie?
5Want hy het die Here,
die Allerhoogste, aangeroep,
en Hy het aan sy regterhand
krag gegee
om 'n persoon, bedrewe
in oorlogvoering, te verwyder
ten einde sy volk se horing te verhef.
6So, met tienduisende gevallenes,
het hulle hom verheerlik,
en het hulle hom met seëninge
van die Here geprys,
deur vir hom 'n kroon van glorie
te bring.
7Want hy het vyande
aan alle kante uitgewis,
en die Filistyne,
sy teenstanders,
met minagting behandel;
hy het hulle horing gebreek,
tot vandag toe.
8In elkeen van sy dade
het hy erkenning gegee
aan die Heilige,
die Allerhoogste,
met 'n woord van lof;
met sy hele hart het hy
liedere gesing,
en hy het Hom, wat hom
geskep het, liefgehad.
9Dawid het psalmsangers
voor die altaar opgestel
om soet melodieë te maak
met hulle stemme.
10Hy het sodoende luister
verleen aan feeste,
en feestye volledig georganiseer,
sodat hulle die Here
se Heilige Naam geprys het,
en van vroegoggend die heiligdom
laat weergalm het.
11Die Here het sy sondes weggeneem
en sy horing vir ewig verhef,
en vir hom 'n koningsverbond gegee
en 'n troon van glorie in Israel.
12Ná hom het 'n wyse seun
op die toneel verskyn,
en danksy Dawid het hy
in 'n groot gebied gewoon.
13Salomo het in tye van vrede
geheers,
en God het hom aan alle kante
rus gegee,
sodat hy 'n huis vir sy Naam kon vestig
en 'n heiligdom vir ewig kon voorberei.
14Hoe wys was jy nie in jou jeug nie!
Ja, jy was soos 'n rivier gevul met insig.
15Jou siel het die aarde bedek,
en jy het dit gevul met
raaiselagtige spreuke.
16Jou naam het verafgeleë
eilande bereik,
en jy was geliefd in jou vredestyd.
17Oor odes, spreuke, gelykenisse
en interpretasies,
het landstreke jou bewonder.
18In die Naam van die Here God,
wat bekend staan as die God
van Israel,
het jy goud versamel soos tin,
en silwer vermeerder soos lood.
19Jy het jou lendene gebuig
vir die vroue,
en jy is beheer deur jou liggaam.
20Jy het skande gebring oor jou eer
en jou saad onteer,
sodat jy gramskap
oor jou kinders gebring het,
en hulle deur jou dwaasheid bedroef is,
21sodat 'n tweedelige
tirannie ontstaan het,
en in Efraim 'n opstandige
koninkryk aan bewind gekom het.
22Maar die Here hou nooit
sy genade terug nie,
en wend Hom nooit
van sy beloftes af nie,
en sal nooit die nakomelinge
van sy uitverkorene uitwis,
en nooit die nageslag van die
een wat hom liefgehad het,
wegneem nie.
En Hy het 'n oorblyfsel
vir Jakob gegee
en daaruit 'n wortelstok vir Dawid.
23En Salomo is by sy vaders
te ruste gelê,
en het ná hom, uit sy nageslag,
'n man van dwaasheid
onder die volk agtergelaat –
iemand by wie dit aan insig
ontbreek het,
naamlik Rehabeam,
wat die volk afvallig
gemaak het met sy raad.
24Jerobeam, seun van Nabat,
het Israel laat sondig,
en vir Efraim op 'n pad van sonde gelei,
en hulle sondes het uitermate
vermeerder,
sodat hulle moes wyk
uit hulle grondgebied.
25En hulle het elke boosheid nagejaag
totdat straf oor hulle gekom het.