1Die trots van die hoogte
is die helder hemelkoepel;
die voorkoms van die hemel
is 'n heerlike gesig om te aanskou.
2Die son, wanneer hy aanskou word,
verkondig met sy opkoms
dat hy 'n wonderlike liggaam is,
'n werk van die Allerhoogste.
3Teen die middaguur
droog hy die land uit,
en voor sy verskroeiende hitte,
wie sal kan uithou?
4Wanneer iemand 'n oond
aanblaas waar hy werk
by verskroeiende hitte –
drie maal erger is die son
wanneer hy berge verteer,
sy vurige asem uitblaas,
sy strale vlammend uitsprei
en so die oë verblind.
5Groot is die Here wat hom
gemaak het,
en op sy bevel haas hy hom op sy reis.
6En die maan merk
al die vasgestelde seisoene –
'n aankondiger van tye
en 'n ewigdurende teken.
7Van die maan kom 'n teken
vir 'n fees –
'n hemellig wat verdof soos
hy sy koers voltooi.
8Die nuwemaan,
volgens sy naam,
groei wonderbaarlik
terwyl hy verander –
'n hemellig vir die leërmagte
in die hoogte wanneer
hy in die hemelkoepel skyn.
9Die skoonheid van die hemel
lê in die glans van die sterre –
'n sieraad wat lig verskaf
in die hoogtes van die Here.
10Volgens die woorde
van die Heilige sal hulle
bly staan, volgens sy bevel,
en hulle sal nooit verslap
in hulle wagbeurte nie.
11Kyk na die reënboog,
en loof Hom wat dit geskep het –
buitengewoon pragtig in sy glans.
12Dit omsirkel die hemel
met 'n glansende boog;
die hande van die Allerhoogste
het dit gespan.
13Met sy bevel verhaas Hy die sneeu,
en versnel Hy die blitse van sy oordeel.
14Daarom is voorraadkamers geopen,
en het wolke uitgevlieg soos voëls.
15Deur sy wonderlike krag
het Hy wolke versterk,
en is haelstene in stukke gebreek.
16En met sy verskyning
sal berge geskud word;
deur sy wil sal die suidewind waai.
17Die geluid van sy donder
bestraf die aarde,
so ook 'n storm uit die noorde
en 'n werwelwind.
18Soos voëls wat na benede
vlieg, sprinkel Hy sneeu,
en soos sprinkane wat gaan sit,
val dit neer.
'n Oog sal die prag van die
witheid daarvan bewonder,
en 'n hart sal verstom wees
oor die neerslag daarvan.
19En soos sout strooi Hy ryp uit
oor die aarde,
en wanneer dit vries,
ontstaan daar doringpunte.
20'n Koue noordewind sal waai
en yskristalle vries op die water;
op elke versameling van water
sal dit vorm,
en soos 'n borsplaat sal die water
dit aantrek.
21Hy sal berge verorber
en woestyne verbrand
en gras skroei soos vuur.
22Mis bring spoedig
die herstel van alles;
dou wat verskyn, sal verligting
bring van die hitte.
23Volgens sy plan het Hy
die watermassas beteuel,
en eilande daarin geplant.
24Mense wat die see bevaar,
vertel van die gevaar daarvan,
en ons is verwonderd oor dit
wat ons ore hoor.
25En daarin is uitsonderlike
en wonderlike werke,
'n verskeidenheid van alle
lewende wesens,
die skepping van seediere.
26Vanweë Hom is sy
boodskapper suksesvol,
en deur sy woord bly alles byeen.
27Al sou ons baie dinge kon sê,
sal ons nooit alles bereik nie;
die slotsom van alle woorde is:
“Hy is die Alles.”
28Waar sal ons die krag kry
om Hom te verheerlik?
Want Hy is die Groot Een,
meer as al sy werke.
29Ontsagwekkend is die Here;
uitermate groot en skouspelagtig
is sy heerskappy.
30Verhoog die Here deur Hom
te verheerlik,
soveel as wat julle kan,
want ook dit sal Hy steeds oortref;
en span al julle kragte in
om Hom te verhoog.
Moenie moeg word nie,
want julle sal dit nooit bereik nie.
31Wie het Hom gesien
en kan Hom beskryf?
En wie sal Hom groot maak
soos Hy is?
32Baie wat verborge is,
is groter as hierdie dinge,
want min van sy werke
het ons gesien.
33Want die Here het alles geskep,
en aan die godvresendes
het Hy wysheid gegee.