1O dood, hoe bitter
is die gedagte aan jou –
vir iemand wat tevrede is
met sy besittings,
vir 'n man wat doelgerig
en suksesvol in alles is,
en steeds lewenskragtig
genoeg om voedsel te geniet.
2O dood, jou oordeel is welkom
vir iemand wat gebrek ly
en wie se kragte afneem,
wat in hoë ouderdom verkeer
en oor alles angstig is,
en wat ongehoorsaam is
en die wil verloor het
om te volhard.
3Moenie die dood se oordeel vrees nie;
dink net aan diegene
wat jou voorafgegaan het,
en dié wat ná jou kom.
4Dit is die oordeel van die Here
oor alle vlees,
en waarom verwerp jy
die goedgunstigheid
van die Allerhoogste?
Of dit nou tien of honderd
of duisend jaar is –
in Hades vind daar nie meer
enige vermaning oor die lewe plaas nie.
5Kinders van sondaars
is afstootlike kinders,
en hulle woon saam in die plekke
waar die goddeloses oorbly.
6Die erfdeel van sondaars
se kinders sal vergaan,
en skande sal voortdurend
met hulle nageslag wees.
7Kinders sal 'n goddelose vader blameer,
omdat hulle vanweë hom
in die skande gesteek word.
8Wee julle, goddelose mans,
julle wat die Wet van die
Allerhoogste versaak het.
9Want as julle gebore word,
word julle gebore tot vervloeking
en as julle te sterwe kom,
sal vervloeking julle deel wees.
10Alles wat uit die aarde kom,
sal na die aarde terugkeer;
so ook gaan die goddeloses
van vervloeking tot ondergang.
11Mense ervaar pyn in hulle liggame,
maar dit is die slegte naam
van sondaars wat uitgewis sal word.
12Wees begaan oor 'n naam,
want dit sal bly voortbestaan,
langer as 'n duisend groot
skatkamers vol goud.
13Van 'n goeie lewe is daar
net soveel dae,
maar 'n goeie naam sal vir ewig
bly voortbestaan.
14Kinders, koester in vrede
julle opvoeding,
maar verborge wysheid
en onsigbare skatte –
watter voordeel is daar
in hierdie twee?
15'n Persoon wat sy dwaasheid verberg,
is beter as een wat sy wysheid verberg.
16Toon daarom dan respek
vir my oordeel,
want dit is nie goed om jou teen
elke skande te beskerm nie,
en nie alles sal deur almal met
vertroue goedgekeur word nie.
17Wees skaam voor jou vader
en moeder oor hoerery,
en voor 'n leier en maghebber
oor valsheid;
18voor 'n regter en 'n ampsdraer
oor 'n vergryp,
en voor die raad en die volk
oor wetteloosheid;
19voor metgesel en vriend
oor onreg,
en voor jou woonplek
oor diefstal;
20voor die waarheid van God
en sy verbond,
en oor die uithou
van jou hand vir brood;
21oor die afwysing van
ontvang en gee
en oor jou stilte voor mense
wat groet;
22oor jou gekyk na 'n vrou
wat 'n straatvrou is
en oor die wegdraai
van jou gesig van jou familie;
23oor jou wegdra van 'n deel
van 'n geskenk;
oor jou gestaar na 'n vrou
wat getroud is;
24oor jou teistering
van 'n diensmeisie –
en moenie op haar bed beland nie;
25voor vriende
oor beledigende woorde –
en moenie skimp ná jou gawe nie;
26oor die oorvertel van
wat jy gehoor het,
en oor jou bekend maak
van geheime woorde.
27Dan sal jy waarlik beskeie wees
en guns vind by alle mense.