1'n Groot taak is vir elke mens geskep,
en 'n swaar juk rus op
die nageslag van Adam,
van die dag dat hulle uit
die moederskoot gekom het,
tot die dag dat hulle terugkeer
na die moeder van alles:
2hulle oorwegings, die vrees
van hulle harte,
hulle toekomsverwagting,
die dag van hulle dood.
3Uit sowel die een wat op
'n skitterende troon sit
as die een wat verneder is
in grond en as,
4uit sowel die een
wat 'n •hiasintsteen en 'n kroon dra
as die een wat geklee is
in growwe linne,
kom daar toorn en naywer
en verwarring en onrus,
en ook vrees vir die dood
en woede en twis.
5Selfs in die oomblik van rus op 'n bed,
in die nag verander slaap
die mens se denke –
6hy kry min,
feitlik geen rus nie,
en daarom is hy in sy slaap verontrus,
net soos in sy dagtaak,
as gevolg van 'n visioen van sy hart,
soos een wat van die oorlog weggevlug het.
7Op 'n kritieke oomblik
word hy wakker,
verbaas dat daar niks was
om te vrees nie.
8By alle vlees,
van mens tot dier,
en by sondaars sewe keer meer,
9is daar dood en bloed
en twis en swaard,
teenslae, hongersnood
en verwoesting en foltering.
10Vir die goddeloses
is al hierdie dinge geskep,
en deur hulle toedoen
het die vloed plaasgevind.
11Alles wat van die aarde is,
keer na die aarde terug,
en wat van die water is,
vind sy weg terug na die see.
12Elke omkoopgeskenk en onreg
sal uitgewis word,
maar trou sal vir ewig bly staan.
13Die geld van die onregverdiges sal opdroog soos 'n rivier,
en soos 'n harde donderslag in 'n storm sal dit 'n oomblik lank weergalm.
14Wanneer hy sy hande oopmaak, sal hy verheug wees;
so sal die oortreders op die ou end faal.
15Die nageslag van goddeloses
sal nie hulle takke
laat vermenigvuldig nie;
hulle is •onrein wortels op 'n skerp rots.
16'n Riet by enige water en rivieroewer
sal uitgepluk word voor enige gras.
17Maar goedgunstigheid
is soos 'n tuin met seëninge;
'n daad van ontferming
sal tot in ewigheid duur.
18Die lewe van 'n selfversorgende en hardwerkende persoon sal soet wees,
maar verhewe bo beide
is hy wat 'n skat vind.
19Kinders en die bou
van 'n stad bevestig 'n naam,
maar verhewe bo beide
is 'n onberispelike vrou.
20Wyn en musiek verbly die hart,
maar verhewe bo beide
is liefde vir wysheid.
21Fluit- en harpmusiek verskaf
soet klanke,
maar verhewe bo beide
is 'n aangename tong.
22Die oog sal grasie
en skoonheid begeer,
maar verhewe bo beide
is die eerste spruite van saad.
23Vriend en kameraad ontmoet
op die geskikte tydstip,
maar verhewe bo beide
is 'n vrou met 'n eggenoot.
24Broers en hulp is daar
vir 'n tyd van verdrukking,
maar verhewe bo beide
is 'n aalmoes wat uitkoms bring.
25Goud en silwer
maak 'n voetstap stewig,
maar verhewe bo beide
is raad wat hoog geag word.
26Geld en mag sal 'n hart verhef,
maar verhewe bo beide
is ontsag vir die Here.
In ontsag vir die Here
is daar geen tekort nie,
en daarom is daar geen rede
om hulp te soek nie.
27Ontsag vir die Here
is soos 'n tuin met seëninge
en dit oordek 'n mens
meer as enige eer.
28Kind, moenie die lewe
van 'n bedelaar leef nie;
dit is beter om te sterf
as om te bedel.
29Wanneer 'n man na 'n tafel
kyk wat aan 'n ander behoort,
kan sy leefwyse nie langer
as 'n lewe beskou word nie;
hy sal sy siel besoedel met
voedsel wat aan ander behoort,
maar 'n verstandige en opgevoede mens
sal op sy hoede daarvoor wees.
30In die mond van
'n skaamtelose persoon
sal bedelary soet wees,
maar in sy ingewande sal 'n vuur brand.