1Elke vriend sal sê,
“Ek was ook al 'n vriend,”
maar daar is 'n vriend wat slegs
in naam 'n vriend is.
2Verdriet sal werklik
tot die dood toe ervaar word
as 'n kameraad en 'n vriend
in 'n vyand verander,
nie waar nie?
3O bose neiging, hoe het jy
dit reggekry om die land
met listigheid te bedek?
4'n Kameraad verlustig hom
in sy vriend se vreugde,
maar in 'n tyd van benouing
sal hy teen hom draai.
5'n Kameraad swoeg saam met
'n vriend ter wille van sy maag,
en in die aangesig van oorlog
sal hy die skild opneem.
6Moenie 'n vriend vergeet
in jou siel nie,
en moet hom nie verwaarloos
by jou geldsake nie.
7Elke raadgewer probeer raad verleen,
maar daar is een wat net
homself van raad bedien.
8Bewaar jou siel teen 'n raadgewer,
en maak vooraf seker wat sy belange is
– hy sal immers ook homself
van raad bedien –
sodat hy nie miskien die lot
oor jou werp nie,
9en vir jou sê,
“Jou pad is goed,”
en dan opsy staan om te sien
wat met jou gaan gebeur.
10Verberg jou advies vir hulle
wat op jou afgunstig is,
en moenie met hom beraadslaag
wat jou met agterdog bejeën nie –
11met 'n vrou oor haar teenparty,
en met 'n lafaard oor oorlog;
met 'n sakeman oor besigheid,
en met 'n verkoopsman
oor 'n kooptransaksie;
met iemand wat nydig is,
oor dankbaarheid,
en met 'n ongenaakbare persoon
oor goedgesindheid;
met 'n luiaard oor enige werk,
en met 'n seisoenwerker
oor die voltooiing van sy arbeid;
met 'n lui huiskneg
oor 'n groot opdrag –
moenie op hierdie mense steun
vir enige advies nie.
12Maar volhard eerder
met 'n godvresende man,
wat jy weet iemand is
wat die gebooie onderhou
en wat jou sielsgenoot is,
en wat, as jy struikel,
saam met jou ly.
13En bly by die raad van jou hart,
want daar is niks betroubaarder
as dit nie.
14Want 'n man se siel is gewoond
om soms meer inligting
te verskaf as sewe spioene
wat op 'n hoogte sit
op 'n uitkyktoring.
15En bo alles,
bid tot die Allerhoogste
sodat Hy jou pad reguit
kan maak in waarheid.
16Die begin van elke daad is gesprek
en voor elke optrede is daar oorleg.
17Die voetstap van verandering
is uit die hart;
dit lei tot vier sake:
18goed en kwaad,
lewe en dood,
en wat voortdurend
oor hulle heers, is die tong.
19Daar is 'n slinkse mens
wat baie mense onderrig,
maar vir homself is hy nutteloos.
20Daar is 'n goeie spreker
wat gehaat word;
hy sal geen voedsel hê nie –
21sjarme is immers nie deur
die Here aan hom gegee nie,
omdat alle wysheid hom ontneem is.
22Daar is 'n persoon wat wys is
in sy eie oë,
en die vrugte van sy insig
is betroubaar uit sy mond.
23'n Wyse man sal sy eie volk onderrig,
en die vrugte van sy insig is betroubaar.
24'n Wyse man sal gevul word met seën,
en almal wat hom sien,
sal hom gelukkig ag.
25Die lewe van 'n man
word bereken in 'n getal dae,
maar die dae van Israel is sonder getal.
26Die wyse sal onder sy mense
betroubaarheid verwerf,
en sy naam sal vir ewig voortleef.
27Kind, toets jou siel
gedurende jou lewe;
let op na wat vir jou siel sleg is,
en moet dit nie aan jou siel gee nie.
28Want nie alles is voordelig
vir almal nie,
en geen mens is tevrede met alles nie.
29Moenie smul aan enige
lekkernye nie,
en moet jouself nie oorgee aan kos nie.
30Want in 'n oormaat voedsel
skuil daar siektes,
en vraatsug gee 'n mens naarheid.
31As gevolg van vraatsug
het baie mense al gesterf,
maar wie versigtig is,
sal sy lewe verleng.