1Baie mense het gesondig
ter wille van geld,
en hy wat daarna streef
om meer te bekom,
sal sy oog wegdraai.
2In die nate tussen stene
sal 'n pen ingekap word,
en tussen koop en verkoop
kan sonde as wig ingeslaan word.
3As iemand in sy ontsag
vir die Here nie sterk is nie,
sal sy huis gou-gou
omvergewerp word.
4Met die skud van 'n sif bly kaf agter,
so ook die onsin in 'n mens
se redenasie.
5'n Oond toets 'n pottebakker se potte,
en die toets van 'n mens
lê in sy oorlegpleging.
6Soos sy vrug die versorging
van 'n boom toon,
so toon redenasie die gedagtes
van 'n mens se hart.
7Moenie 'n mens se lof besing
voordat hy argumenteer nie,
want dit is die toets vir mense.
8As jy nastreef wat regverdig is,
sal jy dit vasgryp,
en aantrek soos 'n eervolle lang kleed.
9Voëls sal nesskop
met hulle eie soort,
en die waarheid sal terugkeer
na hulle wat dit beoefen.
10'n Leeu lê en wag op sy prooi,
so ook die sonde op hulle
wat onreg pleeg.
11Die betoog van 'n godvresende
is altyd een van wysheid,
maar die dwaas verander
soos die maan.
12Beperk jou tyd
saam met onverstandiges,
maar gaan ongestoord voort
saam met denkendes.
13Die betoog van dwases gee aanstoot,
en hulle gelag is in sondige
ligsinnigheid.
14Die taal van mense wat baie
vloek, laat die hare rys,
en hulle gestry laat mense
hulle ore toestop.
15Bloedvergieting volg uit
die gestry van die verwaandes,
en hulle skeltaal is onaangenaam
om aan te hoor.
16Wie geheime verklap,
vernietig vertroue,
en sal beslis nie 'n sielsgenoot vind nie.
17Bewys aan 'n vriend toegeneentheid
en wees getrou aan hom,
maar as jy sy geheime verklap,
moet jy nie agter hom aanloop nie.
18Want net soos 'n mens
sy vyand vernietig,
so het jy die vriendskap
van jou buurman vernietig.
19En net soos jy 'n voël
vrygelaat het uit jou hand,
so het jy jou buurman vrygelaat
en jy sal hom nie weer vang nie.
20Moet hom nie agtervolg nie,
want hy het ver weg gegaan,
en hy het ontvlug soos 'n bok
uit 'n valstrik.
21Omdat dit moontlik is
om 'n wond te verbind,
is daar ook versoening vir beledigings,
maar hy wat geheime verklap het, is sonder hoop.
22Hy wat met die oog knik,
beraam bose dade
en niemand sal hom keer
om dit te doen nie.
23Voor jou oë sal hy sy mond
soet maak,
en oor jou woorde sal hy
verstom wees,
maar later sal hy sy mond
anders draai
en met jóú woorde aanstoot gee.
24Ek het baie dinge gehaat,
en ek het nie soos hy geword nie,
en die Here sal hom haat.
25Hy wat 'n klip hoog
in die lug opgooi,
gooi dit op sy eie kop,
en 'n listige hou sal wonde
weer oopmaak.
26Hy wat 'n gat grawe,
sal daarin val
en hy wat 'n valstrik stel,
sal daarin gevang word.
27Hy wat bose dinge doen –
dit sal na hom terugslaan,
en hy sal glad nie agterkom
waarvandaan dit oor hom kom nie.
28Koggelry en belediging
hoort by 'n verwaande mens,
en wraak, soos 'n leeu,
sal vir hom lê en loer.
29Hulle wat verheug is oor
die val van godvresende mense,
sal in 'n valstrik gevang word,
en verdriet sal hulle verteer
voor hulle dood.
30Nog afskuwelikhede
is woede en toorn,
en 'n sondige mens sal dit besit.