1Here, Vader en Here oor my lewe,
moet my nie oorgee aan hulle raad nie,
en laat my nie onder hulle verval nie.
2Wie sal swepe op my gedagtes gebruik,
en die dissipline van wysheid op my hart,
sodat hulle my foute nie kan ontsien,
en Hy beslis my sonde sal vergewe nie,
3sodat my onkunde nie sal vermeerder,
en my sonde toeneem,
en ek sal neerval
voor my teenstanders,
en my vyand hom oor my
sal verheug nie?
4Here, Vader en God van my lewe,
moet my nie 'n hooghartige oog
gee nie,
5en keer begeerte van my weg.
6Laat die begeerte na voedsel
en seksuele omgang my nie
oorval nie,
en moet my nie oorgee aan
'n skaamtelose lewe nie.
7Luister, kinders,
na die dissipline van die mond
en wie hom daaraan hou,
sal nooit betrap word nie.
8Maar die sondaar sal deur
sy lippe oormeester word,
en 'n skimper en hoogmoedige
persoon sal daardeur
tot 'n val gebring word.
9Moenie jou mond aan 'n eed
gewoond maak nie,
en moenie 'n gewoonte daarvan
maak om die Naam
van die Heilige te gebruik nie.
10Want net soos 'n huisbediende
wat gereeld uitvoerig
ondervra word,
nie 'n tekort aan verwonding sal hê nie,
so ook sal hy wat voortdurend
sweer en dié Naam gebruik,
beslis nie van sonde
gereinig word nie.
11'n Man wat baie sweer,
sal vol wetteloosheid wees,
en 'n sweep sal van sy huis nie wyk nie;
as hy oortree, is sy sonde op hom,
en as hy dit sou ignoreer,
het hy dubbel gesondig;
en as hy ydellik sou sweer,
sal hy nie geregverdig word nie,
want sy huishouding
sal vol ellende wees.
12Daar is 'n wyse van spreke
wat vergelykbaar is met die dood;
laat dit nie gevind word
in die erfdeel van Jakob nie,
want al hierdie dinge
moet verwyder wees
van die godvresendes,
en hulle moet nie vasgedraai
wees in sonde nie.
13Moenie dat jou mond
gewoond raak aan
vuil en growwe taal nie,
want sulke woorde is sondig.
14Dink aan jou vader en moeder,
want jy sit in die volksvergadering
te midde van maghebbers,
sodat jy jouself nie voor hulle
vergeet nie,
en jy nie dwaas optree
volgens jou gewoonte nie,
en jy wens dat jy nooit gebore is nie,
en jy nie die dag van jou
geboorte vervloek nie.
15'n Mens wat gewoond is
om skeltaal te gebruik,
sal in al sy dae beslis nie
opgevoed kan word nie.
16Twee soorte mense
vermenigvuldig sondes,
en 'n derde sal hom toorn
op die hals haal.
17'n Vurige temperament,
soos 'n brandende vuur,
sal beslis nie geblus word
totdat dit uitgebrand is nie;
'n mens wat owerspel pleeg
met sy vleeslike liggaam,
sal nooit ophou totdat
die vuur uitbrand nie.
Vir 'n mens wat owerspel pleeg,
is alle brood soet;
hy sal nooit ophou totdat
hy sterf nie.
18Daar is 'n mens wat teen
sy huweliksbed oortree,
terwyl hy by homself sê:
Wie sal my sien?
Donkerte omring my
en die mure verberg my
en niemand sien my nie.
Waarom is ek bang?
Die Allerhoogste sal nooit
my sondes onthou nie.
19Die oë van mense is wat hy vrees,
en hy is onbewus
dat die oë van die Here
tienduisend keer skerper is
as die son wanneer hulle
op al die paaie van die mense
neerkyk, en in
verborge plekke indring.
20Voordat alles geskep was,
was dit al aan Hom bekend,
so ook nadat dit voltooi was.
21So 'n owerspelige
sal gestraf word
in die strate van die stad,
en hy sal gevang word waar
hy dit nie verwag het nie.
22So sal dit ook gaan met
'n vrou wat haar man verlaat het,
en 'n erfgenaam by
'n vreemde man voortbring,
23want eerstens was sy
ongehoorsaam aan die Wet
van die Allerhoogste,
tweedens het sy 'n oortreding
teenoor haar man begaan,
en derdens het sy deur
hoerery owerspel gepleeg
en kinders by 'n vreemde
man voortgebring.
24Sy sal na 'n volksvergadering
geneem word,
en daar sal 'n ondersoek
van haar kinders geskied.
25Haar kinders sal nie wortel skiet,
en haar jong spruite sal nie
vrugte dra nie.
26Sy sal haar nagedagtenis
as vloek agterlaat,
en haar oneer sal nie uitgewis word nie.
27En diegene wat agtergelaat
word, sal weet dat niks beter
is as die ontsag vir die Here,
en dat niks soeter is as
om ag te slaan op die gebooie van die Here nie.