1'n Besope arbeider sal nie ryk word nie,
en hy wat geringe dinge versmaai,
sal stukkie vir stukkie verval.
2Wyn en vroue sal verstandige
mans tot 'n val bring,
en hy wat met prostitute assosieer,
sal al hoe roekeloser raak.
3Verrotting en wurms sal sy deel wees
en 'n roekelose mens sal vernietig word.
4Hy wat goedgelowig is, is lughartig,
en hy wat sondig, sal homself
skade berokken.
5Hy wat hom in die kwaad verheug,
sal veroordeel word.
6Hy wat gesprekvoering haat,
sal in sy hart geskaad word.
7Moet nooit 'n gerug herhaal nie,
dan sal jy in geen opsig geskaad word nie.
8Moet geen stories oorvertel
tussen vriend of vyand nie,
en behalwe as dit vir jou 'n sonde is,
moet jy dit nie bekend maak nie.
9Want as hy jou sou gehoor
en jou in die oog gehou het,
sal hy jou mettertyd ook haat.
10Het jy 'n woord gehoor?
Laat dit saam met jou vergaan.
Hou moed!
Dit sal jou beslis nie breek nie.
11Deur 'n woord kan 'n dwaas
in barensnood gaan,
soos 'n vrou wat aan 'n baba
geboorte skenk.
12'n Pyl wat gesteek is
in die vleis van 'n dy,
so is 'n woord in die maag van 'n dwaas.
13Spreek 'n vriend aan –
miskien het hy niks gedoen nie,
of as hy het, sodat hy dit
nie weer sal doen nie.
14Spreek jou naaste aan –
miskien het hy niks gesê nie,
en indien hy wel iets gesê het,
sodat hy dit nie herhaal nie.
15Spreek 'n vriend aan,
en moenie elke woord glo nie,
want dikwels is dit laster.
16Daar is 'n mens wat fouteer,
maar nie doelbewus nie,
en wie het nog nie met sy tong
gesondig nie?
17Spreek jou naaste aan
voordat jy hom dreig,
en gee ruimte vir die wet
van die Allerhoogste.
20Alle wysheid is ontsag vir die Here
en alle wysheid behels
die uitvoering van die wet.
22Kennis van boosheid
hou geen wysheid in nie,
en daar is ook geen insig
in die advies van sondaars nie.
23Daar is slinksheid
en dit is ook 'n gruwel,
en daar is 'n dwaas
wat wysheid kortkom.
24Beter is 'n godvresende mens
wat verstand kortkom,
as een wat oorvloedige insig het,
maar wat die wet oortree.
25Daar is slimmighede wat skerp is,
maar wat onregverdig is,
en daar is 'n mens wat 'n guns
misbruik om 'n beslissing te verkry.
26Daar is 'n mens wat boos
optree, gebuk onder smart,
maar sy binneste is vol bedrog.
27Terwyl hy sy gesig verberg
en hom doof hou –
as niemand aandag gee nie,
sal hy jou inloop.
28En as hy weens 'n gebrek
aan krag verhinder word om te sondig –
as hy 'n geleentheid vind,
sal hy kwaad doen.
29'n Mens word geken aan sy voorkoms,
en in 'n persoonlike ontmoeting
sal 'n redelike mens herken word.
30Die kleding van 'n mens,
'n breë glimlag
en die manier waarop hy stap,
sal iets van hom vertel.