1Die Here het 'n mens
uit die aarde geskep
en het hom weer daarheen
laat terugkeer.
2Hy het vir hulle 'n getal dae,
asook 'n tyd gegee;
boonop het Hy mag oor
die dinge op aarde aan hulle gegee.
3Soos vir Homself, het Hy
hulle met krag beklee,
en na sy beeld het Hy
hulle gemaak.
4Hy het vrees vir die mens
by alle vlees ingeboesem,
ook dat hulle heers oor
wilde diere en voëls.
6'n Vrye keuse, en 'n tong
en oë, ore, en 'n hart om mee
na te dink, het Hy
aan hulle gegee.
7Met kennis wat tot insig lei,
het Hy hulle gevul,
en goed en kwaad het Hy
aan hulle getoon.
8Hy het sy oog op hulle harte gerig
om aan hulle die grootsheid
van sy werke te toon,
10en hulle sal sy heilige Naam prys,
sodat hulle die grootsheid
van sy werke bekend kan maak.
11Hy het insig aan hulle verskaf,
en 'n wet vir die lewe het Hy
aan hulle toebedeel.
12'n Ewige verbond het Hy
met hulle opgerig
en sy oordele het Hy
aan hulle getoon.
13Die grootheid van sy heerlikheid
het hulle oë aanskou,
en die heerlikheid van sy stem
het hulle ore gehoor.
14En Hy het aan hulle gesê:
“Waak teen alle ongeregtigheid!”
En Hy het elkeen beveel
om vir sy naaste om te gee.
15Hulle paaie is altyd voor Hom;
hulle sal nie verberg word vir sy oë nie.
17Vir elke nasie het Hy
'n leier aangestel,
en die Here se deel is Israel.
19Al hulle werke is soos die son
voor Hom,
en sy oë is voortdurend op hulle paaie.
20Hulle ongeregtighede
is nie vir Hom verberg nie,
en al hulle sondes is voor die Here.
22Die medelye van 'n man
is by Hom soos 'n seëlring,
en 'n mens se welwillendheid
sal Hy bewaar soos sy oogappel.
23Ná hierdie dinge sal Hy
opstaan en hulle vergeld,
en hulle vergelding sal Hy
op hulle hoofde laat neerkom.
24Maar vir dié wat berou het,
het Hy 'n terugkeer bewerk,
en diegene wat hoop verloor het,
het Hy aangemoedig tot volharding.
25Keer terug na die Here
en sien af van sondes;
bid in sy teenwoordigheid
en verminder die aanstoot.
26Keer terug na die Allerhoogste,
draai weg van die onreg
en haat gruwels intens.
27Wie sal vir die Allerhoogste
lofliedere sing in Hades,
in die plek van die lewendes
en diegene wat dankseggings bring?
28By 'n dooie, aangesien hy
nie meer bestaan nie,
het dankbaarheid opgehou;
'n lewende en gesonde mens
sal die Here loof.
29Hoe groot is die ontferming
van die Here
en sy versoening vir diegene
wat na Hom terugkeer!
30Want nie alle dinge
is binne die vermoë van mense nie,
aangesien die mensekind
nie onsterflik is nie.
31Wat is helderder as die son?
Selfs dit sal faal,
ja, vlees en bloed sal kwaad bedink.
32Net Hy oorskou die mag
van die hoogste hemele,
en alle mense is aarde en as.