1Wie ontsag het vir die Here,
sal daarvolgens handel,
en wie die wet beheers,
sal haar begryp.
2En sy sal hom tegemoet kom
soos 'n moeder
en hom soos 'n maagdelike vrou
ontvang.
3Sy sal hom brood van insig laat eet
en hom water van wysheid laat drink.
4Hy sal op haar steun
en beslis nie 'n misstap begaan nie;
hy sal aan haar aandag gee
en beslis nie beskaamd staan nie.
5Sy sal hom bo sy naaste verhef
en hy sal in die vergadering
sy mond open.
6Vreugde en 'n kroon
van blydskap sal hy vind,
en 'n ewige naam sal hy erf.
7Onwyse mense sal haar
beslis nie ontvang nie
en sondige mense sal haar
beslis nie sien nie.
8Sy is ver verwyderd van hoogmoed,
en leuenaars sal haar
beslis nie onthou nie.
9'n Pryslied klink nie mooi
in die mond van 'n sondaar nie,
want dit is nie deur die Here
gestuur nie.
10Want in wysheid
sal 'n pryslied geuiter word,
en die Here sal dit suksesvol maak.
11Moenie sê,
“Vanweë die Here
het ek afgedwaal” nie,
want wat Hy haat,
sal Hy nie doen nie.
12Moenie sê,
“Hy het my verlei” nie,
want Hy het geen behoefte
aan 'n sondige mens nie.
13Die Here haat alle gruwels
en hulle is nie aanvaarbaar
vir dié wat vir Hom ontsag het nie.
14Hy het die mens
van die begin af gemaak
en hom oorgelaat in die mag
van sy eie oordeel.
15As jy wil, kan jy die gebooie bewaar,
en om die geloof te beoefen,
spreek van 'n goeie besluit.
16Hy het vir jou vuur en water
opsy gesit;
na die een wat jy verkies,
kan jy jou hand uitsteek.
17Voor die aangesig van die mens
is die lewe en die dood,
en wat hy ook al goeddink,
sal aan hom gegee word.
18Want groot is die wysheid
van die Here;
Hy is magtig in heerskappy
en sien alles.
19Boonop is sy oë op diegene
wat vir Hom ontsag het,
en net Hy is bewus van elke
daad van die mens.
20Hy het niemand beveel
om goddeloos op te tree nie,
ook het Hy aan niemand
die vryheid verleen om te sondig nie.