Proloog
1 Aangesien baie en groot dinge aan ons gegee is deur die Wet en die Profete en die ander Geskrifte wat daarop gevolg het, is dit nodig om Israel te prys vir sy opvoeding en wysheid. En dit is nodig nie alleen dat hulle wat dit lees, self kundiges word nie, 21a maar dat die leergieriges ook in staat sal wees om vir die buitestanders tot diens te wees, sowel deur wat hulle sê as wat hulle skryf. My grootvader Jesus het hom vir 'n geruime tyd gewy aan die lees van die Wet en die Profete 31b en die ander Geskrifte van ons vaders; en nadat hy groot bedrewenheid daardeur bekom het, is hy daartoe beweeg om self ook iets te skryf wat gepas sou wees vir opvoeding en wysheid. Sy doel was dat die leergieriges wat hulle ook hiermee bemoei het, veel meer vordering kon maak deur te leef volgens die Wet.
41c Jy word daarom uitgenooi om met welwillendheid en aandag te lees en toegewings te maak oor sake ten opsigte waarvan dit sou blyk dat ons 51d sekere uitdrukkings nie korrek kon vertaal nie, ten spyte van ons harde werk. Want dit wat daarin in Hebreeus gesê word, het nie dieselfde krag wanneer dit in 'n ander taal vertaal word nie. Dit geld nie alleen hierdie werk nie, maar ook die Wet self en die Profete, 61e en die res van die Geskrifte verskil in geen geringe mate van dié wat in hulle eie tale vertaal word nie.
Want in die agt-en-dertigste regeringsjaar van koning Euergetes het ek in Egipte aangekom en nadat ek 'n geruime tyd daar was, het ek 'n afskrif gevind van geen geringe onderrigwaarde nie. 71f Ek het dit uiters noodsaaklik gevind om self ook ywer en toewyding aan die dag te lê om hierdie •boekrol te vertaal. Nadat ek met baie min slaap my kennis toegepas het, het ek met verloop van tyd die boekrol voltooi om dit uit te gee, ook met die oog op hulle wat in die buiteland wil studeer 81g en hulle vooraf voorberei op die gewoonte om volgens die Wet te leef.
1Oorsprong en betekenis van wysheid
91h Alle wysheid kom van die Here
en by Hom bly dit vir altyd.
2 Die sand van die seë
en die druppels van die reën
en die dae van die ewigheid –
wie kan dit tel?
3 Die hoogte van die hemel
en die breedte van die aarde
en die onpeilbare diepte
en die wysheid –
wie kan dit naspeur?
4 Voor alle dinge
is die Wysheid geskep
en verstandige insig
bestaan van ewig af.
6 Die wortel van haar wysheid –
aan wie is dit geopenbaar?
Die vernuftigheid van haar dade –
wie ken dit?
8 Daar is net een Wyse,
een werklik Ontsagwekkende,
wat op sy troon sit.
9 Die Here self het haar geskep
10 om met alle mense
te wees, as sy gawe,
en Hy het haar voorsien
aan dié wat Hom liefhet.
11 Ontsag vir die Here is eer
en roem en vreugde,
asook 'n kroon van blydskap.
12 Ontsag vir die Here
sal die hart verbly;
dit sal vreugde en blydskap
en 'n lang lewe verskaf.
13 Met die een wat ontsag het vir die Here,
sal dit goed gaan tot aan die einde,
en op die dag van sy dood
sal hy geseën word.
14 Die begin van die wysheid
is om ontsag vir die Here te hê;
vir gelowiges is sy saam met hulle
in die moederskoot geskep.
15 Sy het onder mense
'n ewige fondament gelê
en onder hulle nageslag
sal sy vertrou word.
16 Die volheid van wysheid
is om ontsag vir die Here te hê;
sy maak hulle dronk met haar vrugte.
17 Hulle hele huis sal sy vul
met hulle hartsbegeertes
en hulle skure met haar opbrengste.
18 'n Kroon van wysheid
is ontsag vir die Here;
dit laat vrede en volkome
gesondheid weer opbloei.
19 Hy het haar sowel aanskou
as uitgemeet;
kennis en volledige insig
het Hy laat neerreën
en Hy het die roem verhoog
van hulle wat haar beheer.
20 Die wortel van wysheid
is om ontsag vir die Here te hê
en haar takke is 'n lang lewe.
22 Onregverdige woede kan
nooit geregverdig word nie,
want die gewig van 'n mens se woede
lei tot sy ondergang.
23 Die geduldige sal tot op
die regte oomblik uithou,
en later sal blydskap hom vergoed.
24 Tot op die regte oomblik
sal hy sy woorde verberg,
maar die lippe van vele
sal sy insig bekend maak.
25 Onder die skatte van wysheid
is daar verstandige spreuke,
maar godsdienstigheid
is 'n gruwel vir die sondaar.
26 As jy Wysheid begeer,
moet jy die gebooie bewaar
en die Here sal haar aan jou voorsien.
27 Want ontsag vir die Here
is wysheid en opvoeding
en sy behae is trou en sagmoedigheid.
28 Moenie ongehoorsaam wees
aan die ontsag vir die Here nie
en moet Hom nie dubbelhartig nader nie.
29 Moenie skynheilig wees
voor mense nie
en plaas 'n wag voor jou mond.
30 Moenie jouself verhef nie,
sodat jy nie struikel
en skande oor jouself bring nie,
want die Here sal jou geheime openbaar,
selfs midde-in die vergadering
jou verneder,
omdat jy nie in ontsag vir die Here
nader gekom het nie,
en jou hart vol bedrog was.