Stede vir Leviete
1Die Here het met Moses gepraat in die vlaktes van Moab, by die Jordaan, teenoor Jerigo. Hy het gesê: 2“Gee die Israeliete opdrag dat hulle vir die Leviete van hulle onvervreembare erfgrond moet gee as stede om in te woon. Julle moet ook meentgrond rondom hulle stede vir die Leviete gee. 3Die stede is vir hulle om in te woon, en die meentgrond is vir hulle beeste en vir hulle besittings, en vir al hulle diere. 4Die meentgrond van die stede wat julle vir die Leviete gee, moet vanaf die muur van die stad na buite eenduisend el na alle kante strek. 5Julle moet buite die stad aan die oostekant tweeduisend el afmeet, aan die suidekant tweeduisend el, aan die westekant tweeduisend el en aan die noordekant tweeduisend el, met die stad in die middel; en dit moet vir hulle die meentgrond van die stede wees.
6“Wat die stede betref wat julle vir die Leviete moet gee: Daar moet ses asielstede wees van dié wat julle afstaan, sodat iemand wat 'n lewe geneem het, daarheen kan vlug; en daarby moet julle nog twee-en-veertig stede afstaan. 7Al die stede wat julle vir die Leviete afstaan, moet saam agt-en-veertig wees, die stede met hulle meentgrond. 8En wat die stede betref wat julle uit die erfgrond van die Israeliete afstaan: Van dié wat baie stede het, moet julle meer neem, en van dié wat min stede het, moet julle minder neem. Elke stam moet volgens sy erfenis wat hy ontvang, van sy stede vir die Leviete afstaan.”
Asielstede
9Die Here het met Moses gepraat en gesê: 10“Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘Wanneer julle die Jordaan oorsteek na die land Kanaän, 11moet julle vir julle stede uitsoek; asielstede moet dit vir julle wees. Iemand wat 'n lewe geneem het, wat iemand onopsetlik gedood het, moet daarheen vlug. 12Dit moet vir julle asielstede teen bloedwrekers wees, sodat iemand wat 'n lewe geneem het, nie sal sterf voordat hy voor die volksvergadering verskyn het vir 'n beslissing nie. 13Van die stede wat julle afstaan, moet ses vir julle asielstede wees. 14Drie stede moet julle aan die oorkant van die Jordaan afstaan, en drie stede moet julle in die land Kanaän afstaan. Dit moet asielstede wees. 15Vir die Israeliete, vir •vreemdelinge en vir bywoners tussen julle moet hierdie ses asielstede daar wees, sodat enigiemand wat 'n persoon onopsetlik doodgemaak het, daarheen kan vlug.
16“ ‘Maar as hy iemand met 'n ystervoorwerp geslaan het en die persoon sterf, is hy 'n moordenaar. Die moordenaar moet beslis sterf. 17En as hy met 'n klip in die hand wat die dood kan veroorsaak, iemand geslaan het, en hy is dood, is hy 'n moordenaar. Die moordenaar moet beslis sterf. 18Of as hy met 'n houtvoorwerp in die hand wat die dood kan veroorsaak, iemand geslaan het, en hy is dood, is hy 'n moordenaar. Die moordenaar moet beslis sterf. 19Die bloedwreker, hy moet die moordenaar doodmaak. Wanneer hy hom raakloop, moet hy hom doodmaak. 20En as iemand uit haat 'n ander gestamp of iets met opset na hom gegooi het, en hy sterf, 21of hom uit vyandskap met die hand geslaan het, en hy is dood, moet die een wat doodgemaak het, beslis sterf; hy is 'n moordenaar. Die bloedwreker moet die moordenaar doodmaak wanneer hy hom raakloop.
22“ ‘Maar as iemand onverwags, sonder vyandskap, 'n ander gestamp het, of enige voorwerp onopsetlik na hom gegooi het, 23of in onoplettendheid ook enige klip wat die dood kan veroorsaak, en hy hom getref het, en hy dood is, maar hy was nie sy vyand nie, en hy het nie bedoel om hom kwaad aan te doen nie, 24dan moet die volksvergadering op grond van hierdie bepalings uitspraak lewer tussen die een wat doodgemaak het en die bloedwreker. 25Die volksvergadering moet die een wat 'n lewe geneem het uit die hand van die bloedwreker red. Die volksvergadering moet hom laat terugkeer na sy asielstad waarheen hy gevlug het. Hy moet daarin woon tot die dood van die hoëpriester wat met die heilige olie gesalf is.
26“ ‘As die een wat 'n lewe geneem het, egter enigsins die gebied van sy asielstad waarheen hy moes vlug, verlaat, 27en die bloedwreker kry hom buite die gebied van sy asielstad, en die bloedwreker maak die een dood wat 'n lewe geneem het, rus daar nie bloedskuld op hom nie. 28Want die persoon moet in sy asielstad bly tot die dood van die hoëpriester. Ná die dood van die hoëpriester mag die een wat 'n lewe geneem het, na die streek van sy erfgrond terugkeer. 29Dit moet vir julle 'n wetlike voorskrif wees, vir julle nageslagte in al julle woonplekke.
30“ ‘Wat betref enigiemand wat 'n persoon doodgemaak het – net op grond van die verklaring van getuies mag die een wat 'n lewe geneem het, doodgemaak word. Maar die doodstraf mag nie opgelê word wanneer net een getuie teen 'n persoon getuig nie.
31“ ‘Julle mag nie vrykoopgeld aanvaar vir die lewe van 'n moordenaar wat ter dood veroordeel is nie, want hy moet beslis sterf. 32Julle mag nie van iemand vrykoopgeld aanvaar in ruil vir die vlug na sy asielstad, met die doel dat hy kan terugkeer om in die land te woon voor die dood van die priester nie. 33Julle mag nie die land waarin julle is, besoedel nie. Ja, bloed, dit is wat die land besoedel. Vir die land word nie versoening gedoen vir die bloed wat daarin vergiet is nie, behalwe deur die bloed van hom wat dit vergiet. 34Julle mag nie die land waarin julle woon, waarin Ek ook vertoef, verontreinig nie; want Ek, die Here, vertoef tussen die Israeliete.’ ”