Boetedoening
1Op die vier-en-twintigste dag van hierdie maand het die Israeliete byeengekom, terwyl hulle vas in rouklere, en met grond op hulle koppe. 2Die nageslag van Israel het hulle afgesonder van al die uitlanders. Hulle het gestaan en belydenis gedoen van hulle sondes en die sondeskuld van hulle voorouers. 3Hulle het op hulle plekke bly staan en het vir 'n kwart van die dag uit die •boekrol met die Wet van die Here hulle God gelees, en vir 'n kwart van die dag het hulle belydenis gedoen, en telkens voor die Here hulle God in aanbidding gebuig. 4Jesua, Bani, Kadmiël, Sebanja, Bunni, Serebja, Bani en Kenani het op die verhoog van die Leviete gaan staan en met harde stemme na die Here hulle God om hulp geroep. 5Die Leviete, Jesua, Kadmiël, Bani, Gasabneja, Serebja, Hodija, Sebanja en Petagja het gesê:
“Staan op! Prys die Here julle God
van ewigheid af en vir ewig!
Laat hulle u heerlike Naam prys
wat bo elke seënspreuk
en loflied verhewe is.
6U alleen is die Here;
dit is U wat die hemelruim,
die hoogste hemele, gemaak het
en al sy hemelliggame,
die aarde en alles daarop,
die see en alles daarin.
U hou dit alles aan die lewe;
en die hemelliggame –
voor U buig hulle in aanbidding.
7“U is die Here,
die God wat vir Abram gekies het,
hom uit Ur van die Galdeërs gelei het,
vir hom die naam Abraham gegee het.
8U het sy hart getrou teenoor U bevind
en met hom die verbond gesluit
om aan hom te gee die land
van die Kanaäniete, die Hetiete,
die Amoriete en Feresiete,
die Jebusiete en Girgasiete,
om dit aan sy nageslag te gee.
U het u woord gestand gedoen,
want U is regverdig.
9“U het die ellende van ons voorouers
in Egipte raakgesien,
hulle noodkreet by die Rietsee
het U gehoor.
10U het tekens en wonders gedoen
by die farao,
by al sy dienaars
en die hele volk van sy land,
want U het geweet dat hulle
vermetel optree teen u volk;
U het vir U 'n naam gemaak,
soos dit vandag nog is.
11“Die see het U voor hulle
oopgekloof,
hulle het dwarsdeur die see getrek
op droë grond.
Hulle agtervolgers het U
in die dieptes gewerp,
soos 'n klip in die magtige waters.
12Met 'n wolkkolom
het U hulle bedags gelei,
met 'n vuurkolom snags,
om vir hulle die pad te verlig
waarop hulle moes gaan.
13“Op die berg Sinai het U neergedaal,
met hulle uit die hemel gepraat.
U het vir hulle gepaste beslissings gegee –
betroubare wette,
goeie voorskrifte en gebooie.
14U heilige Sabbat het U aan hulle
bekend gestel;
gebooie, vaste voorskrifte en 'n wet
het U hulle opgelê
by monde van Moses, u dienskneg.
15“Brood uit die hemel
het U aan hulle gegee
vir hulle honger;
water uit 'n rots het U vir hulle
laat ontspring vir hulle dors.
U het vir hulle gesê om in te gaan,
die land in besit te neem,
die land waaroor U u hand
opgehef het
om dit aan hulle te gee.
16Maar hulle, ons voorouers,
was vermetel;
hulle het hulle nekke styf gemaak;
hulle was nie gehoorsaam
aan u gebooie nie.
17Hulle het geweier om te luister;
hulle het nie u wonderdade onthou
wat U aan hulle gedoen het nie.
Hulle het hulle nekke styf gemaak
en was vasbeslote om terug te keer
na hulle slawerny in Egipte.
Maar U is 'n God wat vergewe,
U is genadig en barmhartig,
geduldig, vol troue liefde;
U het hulle nie verlaat nie.
18Selfs toe hulle 'n gegote kalf
gemaak en gesê het,
‘Dit is jou God wat jou
uit Egipte laat optrek het,’
en hulle hulle skuldig gemaak het
aan ernstige godslastering,
19het U, in u groot ontferming,
hulle nie in die woestyn
agtergelaat nie.
Die wolkkolom,
om hulle op die pad te lei,
het bedags nie van hulle gewyk nie,
en die vuurkolom,
om vir hulle die pad te verlig
waarop hulle moes gaan,
ook nie snags nie.
20U goeie Gees het U gegee
om aan hulle insig te gee;
u manna het U nie van hulle monde
weerhou nie;
en water het U vir hulle gegee
om hulle dors te les.
21Veertig jaar lank het U hulle
onderhou in die woestyn;
hulle het geen gebrek gely nie;
hulle klere het nie verslyt nie,
en hulle voete het nie geswel nie.
22“U het koninkryke en volke
aan hulle oorgelewer,
die grondgebied stuk vir stuk
onder hulle verdeel.
Hulle het die land van Sihon
in besit geneem,
ook die land van die koning van Gesbon
en die land van Og, koning van Basan.
23Hulle kinders het U so talryk
gemaak soos die sterre
aan die hemelruim.
U het hulle gebring na die land
wat U aan hulle voorouers
beloof het om daar in te gaan,
om dit in besit te neem.
24Die kinders het die land
binnegegaan,
dit in besit geneem.
U het die inwoners van die land,
die Kanaäniete,
voor hulle die knie laat buig.
U het hulle in hulle hand gegee,
sowel hulle konings as die volke
van die land,
om met hulle te doen
net wat hulle wou.
25Hulle het versterkte stede
en vrugbare grond verower.
Hulle het huise, vol van alles
wat goed is, in besit geneem,
ook uitgekapte opgaarputte,
wingerde, olyfboorde
en talryke vrugtebome.
Hulle het geëet,
versadig en vet geword;
hulle kon hulle verlustig
in u groot goedheid.
26“Maar hulle was opstandig,
het teen U in opstand gekom.
Hulle het die rug op u wet gedraai.
U profete, wat hulle tereggewys het
om hulle na U terug te bring,
het hulle vermoor.
Hulle het hulle skuldig gemaak
aan ernstige godslastering.
27U het hulle oorgegee in die hand
van hulle teenstanders,
en dié het hulle in die noute gebring.
In hulle tyd van nood
het hulle na U om hulp geroep,
U self het uit die hemel gehoor.
In u groot ontferming
het U aan hulle verlossers gegee,
en dié het hulle verlos uit die hand
van hulle teenstanders.
28Maar net toe daar vir hulle
rus gekom het,
het hulle weer gedoen
wat sleg is in u oë.
U het hulle in die hand
van hulle vyande gelaat,
en dié het oor hulle geheers.
Hulle het weer na U om hulp geroep,
U self het uit die hemel gehoor
en hulle in u groot ontferming
vele kere uitgered.
29U het hulle gewaarsku,
om hulle na u wet terug te bring.
Maar hulle was vermetel,
hulle het nie na u gebooie geluister nie,
en teen u bepalings het hulle gesondig,
teen dit wat 'n mens moet doen,
sodat hy daardeur kan leef.
Hulle skouers het onversetlik gebly,
hulle nekke styf,
hulle het nie geluister nie.
30“Baie jare lank was U geduldig
met hulle,
het U hulle gewaarsku deur u Gees
by monde van u profete,
maar hulle het nie gehoor gegee nie.
U het hulle oorgegee in die hand
van die volke van ander lande.
31In u groot ontferming het U hulle
egter nie heeltemal vernietig nie;
U het hulle nie in die steek gelaat nie.
Ja, U is 'n genadige en barmhartige God.
32“Daarom, ons God, groot,
magtige en ontsagwekkende God,
U wat bly by die verbond en u troue liefde,
laat dit tog nie gering wees voor U nie,
al die swaarkry wat ons ervaar het –
ons konings en leiers,
ons priesters en profete,
ons voorouers en u hele volk –
vanaf die dae van die konings
van Assirië tot vandag toe.
33U was regverdig in alles
wat oor ons gekom het,
ja, U het in trou opgetree –
ons was skuldig.
34Ons konings en leiers,
ons priesters en voorouers
het u wet nie uitgevoer nie.
Hulle het nie ag geslaan
op u gebooie en bepalings
waarmee U hulle gewaarsku het nie.
35Hulle het, met hulle eie koninkryk,
te midde van u groot goedheid
wat U aan hulle geskenk het,
en in die wye en vrugbare land
wat U vir hulle aangebied het,
U nie gedien nie;
hulle het nie weggedraai
van hulle bose dade nie.
36“Kyk, ons is vandag slawe;
die grond wat U aan ons voorouers
gegee het om die vrugte
en die goeie daarvan te geniet –
kyk, ons is slawe daarop.
37Die opbrengs daarvan word meer
vir die konings wat U oor ons
gestel het –
en dit as gevolg van ons sondes.
Oor ons liggame heers hulle,
ook oor ons vee, soos hulle wil.
Ons verkeer in groot nood.”
Hernuwing van die verbond
38“Op grond van dit alles gaan ons nou 'n bindende ooreenkoms sluit en dit op skrif stel, en daarop die seël plaas met die name van ons leiers, ons Leviete en ons priesters.”