1Ag, was my hele kop maar water,
en my oog 'n fontein van trane,
sodat ek dag en nag kon huil
oor die gesneuweldes
van die dogter van my volk!
2“Ag, was daar maar
in die woestyn 'n oornagplek vir reisigers!
Dan sou Ek my volk verlaat
en van hulle af weggaan;
want hulle pleeg almal egbreuk,
hulle is 'n bende troueloses.
3Hulle span hulle tong soos 'n boog;
met leuens,
en nie met betroubaarheid nie,
word hulle helde in die land.
Ja, van boosheid na boosheid
gaan hulle voort,
en My ken hulle nie,”
is die uitspraak van die Here.
4“Wees op julle hoede,
elkeen vir sy vriend!
Moenie enige broer vertrou nie;
want elke broer is 'n bedrieër,
en elke vriend gaan rond
as 'n kwaadstoker.
5Elkeen verkul sy vriend;
die waarheid praat hulle nie.
Hulle rig hulle tonge af
om leuens te praat.
Hulle dwaal;
hulle is nie in staat
6om terug te keer nie.
Verdrukking volg op verdrukking,
bedrog volg op bedrog;
hulle weier om My te erken,”
is die uitspraak van die Here.
7Daarom, so sê die Here,
Heerser oor alle magte:
“Kyk, Ek gaan hulle smelt en toets.
Want wat anders kan Ek doen
oor die dogter van my volk?
8Dodelike pyle is hulle tonge –
dit uiter bedrog.
Met sy mond praat iemand vrede
met sy vriend,
maar in sy binneste stel hy
vir hom 'n hinderlaag.
9Sou Ek daaroor nie van hulle
rekenskap eis nie?”
is die uitspraak van die Here.
“Of sou Ek My nie wreek
op 'n nasie soos hierdie nie?”
10Oor die berge sal Ek 'n geween,
'n treurlied aanhef,
en oor die weivelde in die woestyn
'n klaaglied;
want dit lê verskroei,
sodat niemand daardeur trek nie,
en die geluid van vee
nie meer gehoor word nie.
Die voëls in die lug,
sowel as die diere, het gevlug,
hulle het padgegee.
11“Ek gaan van Jerusalem klipstapels maak,
'n lêplek vir jakkalse;
en die dorpe van Juda gaan Ek
'n woesteny maak, sonder inwoners.”
12Wie is die mens wat wys genoeg is
om dit te verstaan,
iemand met wie die mond
van die Here gepraat het,
sodat hy dit kan verduidelik?
Waarom het die land ten gronde gegaan,
lê dit verwoes soos 'n woestyn,
sonder dat iemand daardeur trek?
13Die Here het geantwoord: “Omdat hulle my wet verlaat het wat Ek aan hulle voorgehou het, hulle nie na my stem geluister en my wet nie gevolg het nie, 14maar agter die verstoktheid van hulle eie harte en agter die Baäls aangeloop het, soos hulle voorouers hulle geleer het.”
15Daarom, so sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Kyk, Ek laat hierdie volk wildeals eet en giftige water drink. 16Ek sal hulle verstrooi onder nasies wat hulle en hulle voorouers nie geken het nie, en Ek stuur die swaard agter hulle aan totdat Ek hulle vernietig het.”
17So sê die Here, Heerser oor alle magte:
“Wees verstandig
en roep die klaagvroue,
sodat hulle kom.
Ontbied die kundige vroue,
sodat hulle kom.”
18Hulle moet gou maak
en oor ons 'n treurlied aanhef,
sodat ons oë van trane vloei,
en ons ooglede stroom van water;
19want die geluid van treursang
word uit Sion gehoor:
“Hoe is ons verwoes!
Ons staan diep beskaamd,
want ons moes die land verlaat,
omdat hulle ons woonplekke platgeslaan het.”
20Ja, vroue, luister na die woord van die Here,
en laat julle ore die woorde van sy mond inneem.
Leer julle dogters 'n treurlied,
vir mekaar 'n klaaglied:
21“Ja, die dood het deur
ons vensters geklim;
dit het ons vestings binnegedring
deur kleuters wat in die strate
en jong manne wat op die
dorpspleine was, uit te roei.”
22“Sê, ‘Die volgende is 'n uitspraak van die Here:
“Die lyke van mense sal soos mis
op die oop veld lê,
en soos gesnyde graan agter die snyer,
sonder dat iemand dit bymekaarmaak.” ’ ”
23So sê die Here: “'n Wyse moet hom nie op sy wysheid beroem nie, 'n magtige moet hom nie op sy krag beroem nie, en 'n ryke moet hom nie op sy rykdom beroem nie. 24Slegs hierop moet die een wat wil roem, hom beroem: dat hy insig het en My ken, naamlik dat Ek die Here is wat troue liefde, reg en geregtigheid handhaaf op aarde; want daarin vind Ek vreugde.” Dit is die uitspraak van die Here.
25“Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “wanneer Ek rekenskap sal eis van almal wat aan die voorhuid besny is – 26van Egipte, Juda, Edom, die Ammoniete, en Moabiete, van al die woestynbewoners wat hulle slape skoonskeer. Want al dié nasies is eintlik onbesnede; maar die hele huis van Israel is onbesnede van hart.”