1U het die reg aan u kant, Here,
as ek met U 'n regstryd sou voer;
tog wil ek oor regsake met U praat:
Waarom is die pad van goddeloses voorspoedig,
waarom leef almal wat verraderlik
optree, rustig?
2U het hulle geplant;
ook het hulle wortel geskiet,
hulle het uitgespruit,
selfs vrugte gedra.
U is naby hulle monde,
maar ver van hulle binneste af.
3Maar U, Here, U ken my;
U sien my en U toets of my hart by U is.
Vat hulle weg soos kleinvee
wat vir slag bestem is;
sonder hulle af
vir die dag van slagting.
4Hoe lank sal die land bly verdor,
die plante van die hele veld verdroog?
Vanweë die boosheid van hulle
wat daarin woon,
kwyn die diere en voëls weg.
Hulle sê immers:
“Hy sal ons einde nie sien nie.”
5“As jy saam met mense
te voet hardloop,
en hulle maak jou moeg,
hoe sal jy dan met perde meeding?
In 'n veilige gebied
is jy vol selfvertroue;
maar hoe sal jy vaar in die
trots van die Jordaan?
6Want ook jou stamgenote, jou eie familie,
ook hulle het verraderlik teen jou opgetree;
ook hulle roep hardop agter jou aan.
Moet hulle nie glo
wanneer hulle vriendelik
met jou praat nie.”
God se treurlied oor Juda
7“Ek het my huis verlaat;
Ek het my eiendom prysgegee;
Ek het my sielsbeminde oorgegee
in die greep van haar vyande.
8My eiendom het vir My geword
soos 'n leeu in die bos;
sy het haar stem teen My verhef;
daarom het Ek 'n weersin
in haar gekry.
9My persoonlike eiendom
is 'n boerplek van hiënas,
omring deur roofvoëls!
Gaan maak al die wilde diere bymekaar,
laat hulle kom om te verslind!
10Talle herders het my wingerd verniel,
hulle het my stuk grond vertrap.
Hulle het my kosbare stuk grond
'n verlate woestyn gemaak.
11Dit is 'n woesteny gemaak;
verlate treur dit voor My.
Die hele land lê verlate,
omdat daar niemand is
wat hulle daaraan steur nie.
12Oor al die kaal hoogtes
in die woestyn kom verwoesters.”
Ja, die swaard van die Here
verteer die land van hoek tot kant.
Daar is geen vrede vir enige vlees nie.
13Hulle het koring gesaai,
maar dorings geoes;
hulle het hulleself uitgeput,
maar niks daarby gebaat nie.
Staan beskaamd oor julle opbrengs,
vanweë die brandende toorn van die Here!
14So sê die Here: “Wat al die slegte buurvolke betref, hulle wat skade aanrig aan die eiendom wat Ek aan my volk Israel as erfenis gegee het, kyk, Ek gaan hulle uit hulle grondgebied uitruk, en die huis van Juda sal Ek uit hulle midde uitruk. 15Maar nadat Ek hulle uitgeruk het, sal Ek My weer oor hulle ontferm en hulle laat terugkeer, elkeen na sy eiendom, en elkeen na sy grond. 16As die ander volke die paaie van my volk goed leer ken, deur 'n eed af te lê in my Naam met die woorde, ‘So waar as die Here leef’ – soos hulle my volk geleer het om by Baäl te sweer – sal hulle in die midde van my volk gevestig word. 17Maar as hulle nie luister nie, sal Ek daardie nasie heeltemal uitruk en tot niet maak,” is die uitspraak van die Here.