Judit 6
1Toe die beroering bedaar het onder die mense wat daar om die krygsraad saamgedrom het, sê Holofernes, opperbevelvoerder van die Assiriese leërmag, voor die hele skare vreemdelinge en voor al die Moabiete, vir Agior: 2“Wie is jy nogal, Agior, jy met jou huursoldate van Efraim, dat jy by ons kom profeteer het, soos vandag, en ons kom aansê het om nie teen die volk Israel te veg nie omdat hulle God hulle sal beskerm? Watter God is daar buiten Nebukadnesar? Hý sal sy mag stuur en hulle van die aangesig van die aarde af wegvee, en hulle God sal hulle nie kan red nie. 3Maar óns, sy dienaars, sal hulle soos een man tref, en hulle sal nie weerstand kan bied teen die oormag van ons ruitery nie, 4want ons sal hulle daarmee oorweldig. Hulle berge sal dronk word van hulle bloed en hulle vlaktes vol van hulle dooies. Nie eers hulle voetspore sal voor ons standhou nie; hulle sal geheel en al verdelg word, sê koning Nebukadnesar, die heer van die ganse aarde. Hy het immers gespreek, en die dinge wat hy gesê het, sal nie verydel word nie. 5Maar jý, Agior, jou Ammonitiese huurarbeider, jy wat hierdie woorde gespreek het op die dag wat jy onreg gepleeg het, jy sal van vandag totdat ek wraak geneem het op die volk uit Egipte, my gesig nie weer sien nie.
6“Die ysterwapens van my aanvalsmag en van die menigte van my ampsdraers sal dan jou ribbes deurboor, en wanneer ek terugkom, sal jy saam met hulle noodlottig gewondes sneuwel. 7My dienaars sal jou terugvat na die bergland en jou in een van hulle stede op die bergland besorg. 8Jy sal nie sterf nie – totdat jy saam met hulle verdelg word. 9As jy waarlik in jou hart hoop dat hulle nie ingeneem sal word nie, moet dan nie so teleurgesteld lyk nie. Ek het gespreek en nie een van my woorde sal verydel word nie.” 10Holofernes het sy dienaars wat by hom in sy tent was, beveel om Agior te gryp en na Betulua weg te neem en hom oor te gee in die hande van die Israeliete. 11Die dienaars het hom toe gegryp en hom uit die kamp na die vlakte gelei. Hulle het van die vlakte na die bergstreek gegaan en by die fonteine onder Betulua aangekom. 12Toe die manskappe van die stad wat op die bergtop was, hulle sien, het hulle hulle wapens gegryp en die stad wat op die bergtop was, verlaat. Die hele afdeling slingervelgooiers het die Assiriërs in hulle gang gestuit deur hulle aanhoudend met klippe te bestook. 13Die Assiriërs het egter onder beskutting van die berg nader gekruip, vir Agior vasgemaak, hom aan die voet van die berg laat lê en teruggekeer na hulle heer. 14Toe die Israeliete uit hulle stad uit ondertoe gaan, het hulle vir Agior daar gekry. Hulle het hom losgemaak, weggelei na Betulua en voor die leiers van hulle stad gebring; 15in daardie tyd was dit Ussia, seun van Miga uit die stam van Simeon, Gabris, seun van Gotniël, en Garmis, seun van Melgiël. 16Hulle het al die oudstes van die stad byeengeroep, en al hulle jong manne en vroue het saam na die samekoms gehardloop. Hulle het vir Agior in die middel van die hele volk laat staan en Ussia het hom ondervra oor wat gebeur het. 17Toe het hy geantwoord en aan hulle meegedeel wat by die krygsraad van Holofernes gebeur het, asook al die woorde wat hy in die teenwoordigheid van die Assiriese aanvoerders gesê het, en alles waaroor Holofernes gespog het wat hy aan die huis van Israel gaan doen. 18Toe het die volk in aanbidding neergeval voor God en uitgeroep: 19“Here, God van die hemel, sien tog hulle verwaandheid raak en toon deernis met ons geslag wat verneder word. Kyk tog gunstig na diegene wat op hierdie dag toegewyd aan U leef.” 20Hulle het Agior sterkte toegewens en hom baie geprys. 21Toe het Ussia vir Agior van die byeenkoms weggeneem na sy huis toe, en 'n feesmaal gehou vir die oudstes, en hulle het daardie hele nag lank tot die God van Israel om hulp gebid.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.