Judit 3
1Hulle het boodskappers met vredesboodskappe na hom gestuur: 2“Kyk, ons as dienaars van die groot koning Nebukadnesar, werp ons voor u neer. Maak met ons soos wat goed is in u oë. 3Ons nedersettings en al ons woonplekke, al ons graanvelde, ons troppe klein- en grootvee en al ons tentstaanplekke is tot u beskikking – maak daarmee soos wat goed is in u oë. 4Kyk, ook ons stede en hulle inwoners is u slawe – kom en maak met hulle soos dit goed is in u oë.” 5Die manne het by Holofernes aangekom en hierdie woorde aan hom oorgedra. 6Hy self het toe met sy leërmag afgetrek na die kusgebied en militêre beheer ingestel deur garnisoene in al die vestingstede te plaas. Hy het uitgesoekte manne uit die stede geneem as hulptroepe. 7Hierdie mense en hulle hele omgewing het hom ontvang met lourierkranse, en met dansers en tamboeryne. 8Tog het hy al hulle grensposte vernietig en hulle heilige bome afgekap, want hy het opdrag gehad om al die gode van die land geheel en al te vernietig sodat al die nasies vir Nebukadnesar alleen sou dien en alle taalgroepe en stamme hom as god sou aanroep. 9Holofernes het by Esdrelon, naby Dotan, regoor die groot bergreeks van Judea, aangekom. 10Hy het kamp opgeslaan tussen Geba en Skitopolis en 'n volle maand lank daar gebly om al die voorraad vir sy leër bymekaar te kry.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.