1Judit het gesing:
“Hef vir my God 'n lied aan
met tamboeryne,
sing vir die Here met simbale,
maak vir Hom 'n lof-en-pryslied,
maak Hom groot en roep sy Naam aan!
2Want die Here is 'n God
wat oorloë beëindig,
Hy het immers in sy kamp
in die midde van die volk
my gered uit die hand
van my vervolgers.
3Assirië het van die noordekant
uit die berge gekom,
hy het gekom met sy tienduisende soldate;
hulle menigte het die rivierlope volgepak
en hulle ruitery het die heuwels bedek.
4Hy het gedreig hy sal my gebiede afbrand,
my jong manne met die swaard doodmaak,
my suigelinge verpletter
teen die grond,
my kindertjies as buit oorlewer
en my maagde as oorlogsbuit wegvoer.
5Maar die Here, die Almagtige,
het hulle planne verydel
deur die hand van 'n vrou.
6Want hulle magtige een het nie
tot 'n val gekom
deur die toedoen van jong manne nie;
dit is nie die seuns van Titane
wat hom getref het nie;
dit is ook nie groot reuse
wat hom oorval het nie,
maar Judit, dogter van Merari,
het hom met die skoonheid
van haar gesig verlam.
7Want sy het haar weduweeklere
uitgetrek tot roem
van die verdruktes in Israel;
sy het mirresalf aan haar gesig gesmeer,
8haar hare met 'n haarband opgebind
en 'n linnekleed aangetrek
om hom te bekoor.
9Haar sandaal het sy oog gevang,
haar skoonheid het sy hart
gevange geneem,
die swaard het sy nek deurgekap!
10Die Perse het gebewe
oor haar onverskrokkenheid,
die Meders was in beroering
oor haar waagmoed.
11Toe het my verdrukte mense geskreeu,
my swakkes was vreesbevange
en vol angs;
hulle het hulle stem verhef
en die vyand het gevlug.
12Die seuns van jong meisies
het hulle deurboor,
hulle gewond soos die kinders
van voortvlugtiges.
Hulle is vernietig
deur die slagordes van my Here.
13Ek sal vir my God
'n nuwe loflied sing:
Here, U is groot en eerbiedwaardig,
wonderbaarlik sterk, onoorwinlik!
14Laat u hele skepping U dien,
want U het gespreek
en dit het tot stand gekom;
U het u Gees gestuur
en Hy het hulle gevorm;
daar is niemand wat weerstand
kan bied teen u bevel nie.
15Want die berge
sal saam met die waters
van hulle fondamente geskud word;
rotse sal voor u aangesig
smelt soos was,
maar aan hulle wat vir U ontsag het,
sal U genade betoon.
16Want gering is elke gawe
wat as •reukoffer gebring word,
baie gering is al die vet
vir u •brandoffer,
maar hy wat ontsag het vir die Here
is groot vir altyd.
17Wee die nasies
wat opstaan teen my geslag!
Die Here, die Almagtige, sal hulle
op die oordeelsdag straf
deur vuur en wurms
in hulle vlees te stuur,
en hulle sal ween en hulle pyn voel
vir ewig.”
18Toe hulle by Jerusalem aankom, het hulle neergeval en God aanbid. Nadat die volk gereinig is, het hulle hulle •brandoffers en •vrywillige offers gebring, asook hulle gawes. 19Judit het al Holofernes se besittings wat die volk vir haar gegee het, gewy en die muskietnet wat sy uit sy slaapvertrek vir haarself geneem het, het sy as •wydingsoffer aan God gegee. 20Toe het die volk drie maande lank feesgevier voor die heiligdom in Jerusalem, en Judit het saam met hulle daar gebly. 21Hierna het elke liewe een opgepak en na sy erfdeel vertrek. Judit het teruggegaan na Betulua en op haar grond gaan woon. Sy is haar hele lewe lank in die hele land geëer. 22Baie het haar begeer, maar geen man het met haar omgang gehad al die dae van haar lewe nie, van die dag dat haar man, Manasse, dood is en by sy mense gevoeg is. 23Haar aansien het baie toegeneem, en sy het honderd-en-vyf jaar oud geword in die huis van haar man. Sy het haar diensmeisie vrygelaat. Sy het in Betulua gesterf, en hulle het haar begrawe in die graf van haar man, Manasse. 24Die huis van Israel het sewe dae lank oor haar gerou. Voor haar dood het sy haar besittings uitgedeel aan al die naaste familie van haar man, Manasse, en aan haar eie naaste familie. 25Niemand het weer in Judit se leeftyd en selfs lank na haar dood vrees by die Israeliete ingeboesem nie.