Judit 12
1Toe het Holofernes beveel dat sy ingebring word na waar sy silwereetgerei geplaas was en opdrag gegee dat vir haar tafel gedek word met van sy geregte, en van sy wyn om te drink. 2Judit sê toe: “Ek kan nie daarvan eet nie, want ek is bang ek sal so oortree, maar van dit wat ek saamgebring het, kan aan my voorgesit word.” 3Holofernes vra toe vir haar: “As jou voorraad opraak, waar sal ons iets soortgelyks kry om vir jou te gee? Want daar is niemand van jou volk onder ons nie.” 4Judit sê vir hom: “So seker as wat u leef, my heer, sal u slavin nie die voorraad by haar opgebruik voordat die Here deur my hand doen wat Hy besluit het nie.” 5Daarop het Holofernes se ampsdraers haar na die tent geneem, en sy het tot middernag geslaap. Teen die vroegoggendwagbeurt het sy opgestaan. 6Sy het toe 'n versoek na Holofernes gestuur: “Laat my heer tog opdrag gee dat u slavin toegelaat word om uit te gaan om te bid.” 7Holofernes het toe die lyfwag beveel om haar nie te keer nie. Sy het drie dae lank in die kamp gebly. Snags het sy uitgegaan na die vallei van Betulua en by die fontein in die kamp gebad. 8Wanneer sy uitgekom het, het sy tot die Here God van Israel gebid om haar pad reguit te maak ter wille van die opheffing van die kinders van sy volk. 9Gereinig het sy dan ingegaan en in die tent gebly totdat sy haar aandete genuttig het. 10Op die vierde dag het Holofernes 'n drinkparty slegs vir sy diensknegte gehou. Hy het nie een van die amptenare aan diens na die maaltyd genooi nie. 11Hy het vir Bagoas, die eunug wat na al sy sake omgesien het, gesê: “Gaan oorreed die Hebreeuse vrou wat onder jou sorg is om na ons te kom en saam met ons te eet en te drink. 12Kyk, dit sal sowaar vir ons 'n skande wees as ons so 'n vrou laat gaan sonder om met haar omgang te hê, want as ons haar nie verlei nie, sal sy ons uitlag.” 13Bagoas het toe uit die teenwoordigheid van Holofernes weggegaan, na haar gegaan en gesê: “Laat hierdie mooi meisie tog nie huiwer om na my heer te kom nie – om vereer te word in sy teenwoordigheid, saam met ons wyn te drink vir vrolikheid en op hierdie dag soos een van die Assiriese dogters te word wat diens lewer in die paleis van Nebukadnesar.” 14Judit antwoord hom toe: “Wie is ek tog dat ek my heer sou teenspreek? Want enigiets wat in sy oë aangenaam is, sal ek dadelik doen, en dit sal vir my 'n plesier wees tot die dag van my dood.” 15Toe het sy opgestaan en haar met deftige klere en al haar vroulike versierings getooi. Haar slavin het voor haar uit gegaan en vir haar op die grond voor Holofernes die skaapvelle oopgesprei wat sy vir haar daaglikse gerief van Bagoas gekry het om daarop vir ete aan te leun. 16Hierna het Judit ingekom en vir ete gaan aanleun. Holofernes se hart het hewig geklop oor haar en hy was rasend opgewonde en uiters gretig om omgang met haar te hê. Hy het reeds vanaf die dag dat hy haar gesien het, gewag vir 'n geleentheid om haar te verlei. 17Holofernes sê toe vir haar: “Kom, drink en word vrolik saam met ons!” 18Judit het geantwoord: “Ek drink graag, heer, want dit is 'n groter dag in my lewe as al die dae sedert my geboorte.” 19Toe het sy dit wat haar slavin voorberei het, geneem en voor hom geëet en gedrink. 20Holofernes was verheug oor haar en hy het 'n baie groot hoeveelheid wyn gedrink, meer as wat hy nog ooit sedert sy geboorte op een dag gedrink het.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.