1Toe sê Holofernes vir haar: “Hou moed, vrou, moenie vrees in jou hart koester nie, want ek het nog nooit 'n mens kwaad aangedoen wat bereid was om koning Nebukadnesar, die koning van die ganse aarde, te dien nie. 2Selfs nou, as jou volk wat die bergstreek bewoon, my nie beledig het nie, sou ek nooit my spies teen hulle opgeneem het nie. Hulle het egter hierdie dinge oor hulleself gebring. 3Maar vertel nou vir my, waarom het jy van hulle af weggevlug en na ons gekom? Want hier is jy veilig. Hou moed, teen vanaand sal jy nog leef, en ook daarna. 4Daar is immers niemand wat jou kwaad sal aandoen nie, inteendeel, elke liewe een sal jou goed behandel, net soos dit die geval is met die dienaars van my heer, koning Nebukadnesar.” 5Judit het hom toe geantwoord: “Aanvaar die woorde van u slavin, en laat u dienares praat in u teenwoordigheid; ek sal nie vannag 'n leuen aan my heer vertel nie. 6En as u optree ooreenkomstig die woorde van u dienares, sal God deur u die saak perfek laat afloop en my heer sal nie in sy doelwitte faal nie. 7So waar as koning Nebukadnesar, koning van die ganse aarde, leef, en by sy mag, hy wat vir u gestuur het om elke lewende wese ordelik te bestuur; nie alleen dien mense hom danksy u nie, maar selfs die wilde diere van die veld en ook die mak diere en die voëls van die hemel sal, vanweë u krag, onder Nebukadnesar en sy hele huis leef! 8Ons het immers gehoor van u wysheid en dat u skrander van gees is, en dit is oor die hele aarde bekend dat net u in die hele koninkryk goed is, magtig in kennis en uitsonderlik in oorlogvoering. 9En nou, wat betref Agior se betoog wat hy voor u krygsraad gelewer het – ons het sy woorde gehoor, want die manne van Betulua het hom gespaar, en hy het hulle alles meegedeel wat hy vir u gesê het. 10Daarom, my heer en meester, moenie sy betoog verontagsaam nie, maar neem dit ter harte, want dit is waar. Ons geslag kan nie gestraf word nie, en die swaard kan hulle nie oorwin nie, behalwe as hulle teen hulle God sondig. 11Maar nou – sodat my heer nie gedwarsboom word en onsuksesvol is nie – die dood sal hulle oorval, want 'n sonde het hulle oorweldig waardeur hulle hulle God gaan vertoorn wanneer hulle ook al die wandaad pleeg. 12Aangesien hulle kos opgeraak en al die water skaars geraak het, het hulle beplan om hulle diere te slag en besluit om alles te gebruik wat God hulle in sy wette verbied het om te eet. 13Hulle het hulle voorgeneem om die eerste graanopbrengste en die tiendes van die wyn- en olyfoes te gebruik, wat hulle gewy het en afgestaan het aan die priesters wat in Jerusalem in die teenwoordigheid van ons God diens doen – dinge waaraan niemand uit die volk met die hande mag raak nie. 14Toe het hulle boodskappers na Jerusalem gestuur – want ook die mense wat daar woon, het hierdie dinge gedoen – om toestemming van die Raad van Oudstes te kry. 15En dit sal gebeur dat wanneer iemand die berig aan hulle sou bring en hulle daarvolgens handel – op presies daardie dag, sal hulle aan u uitgelewer word om vernietig te word. 16Daarom, toe ek, u slavin, al hierdie dinge te wete gekom het, het ek van hulle af weggevlug. God het my gestuur om saam met u dinge te vermag waaroor die hele aarde, wie ook al daarvan sou verneem, verstom sal staan. 17Want u slavin is godvresend en dien dag en nag die God van die hemel. Maar nou sal ek by u bly, my heer; u slavin sal snags uitgaan na die vallei en tot God bid, en Hy sal my meedeel wanneer hulle hulle sondes gepleeg het. 18Dan sal ek kom en dit aan u berig. U moet dan optrek met u hele leërmag; daar is nie een van hulle wat teen u weerstand sal kan bied nie. 19Ek sal u dwarsdeur Judea lei totdat u teenoor Jerusalem kom, en ek sal u troon in die middel van die stad plaas; u sal hulle lei soos skape wat geen herder het nie, en geen hond sal vir u grom nie. Dit is as voorkennis aan my bekend gemaak; dit is aan my oorgedra, en ek is gestuur om aan u te rapporteer.” 20Haar woorde het Holofernes en al sy ampsdraers behaag. Hulle was verbaas oor haar wysheid en het gesê: 21“Van die een kant van die aarde tot die ander is daar nie nog so 'n vrou met so 'n mooi voorkoms en sulke wyse woorde nie!” 22Toe sê Holofernes vir haar: “God het 'n goeie ding gedoen deurdat Hy jou voor die volk uitgestuur het om ons hande te sterk sodat hulle wat my heer verag, vernietig kan word. 23En nou – jy is mooi van voorkoms en kan jou woord goed doen. As jy doen wat jy gesê het, sal jou God my God wees; jy sal in koning Nebukadnesar se paleis woon en beroemd wees oor die hele aarde.”