Judit 1
Holofernes se veldtog
1Gedurende die twaalfde jaar van die heerskappy van Nebukadnesar, wat koning van die Assiriërs was in die groot stad Nineve, was Arpagsad koning van die Meders in Ekbatana. 2En Arpagsad het rondom Ekbatana 'n muur van gekapte klip gebou, elke klip drie el breed en ses el lank; hy het die hoogte van die muur sewentig el gemaak en die breedte vyftig el; 3hy het torings van honderd el hoog en met fondamente van sestig el breed by die poorte opgerig; 4die stadspoorte het hy opgebou tot 'n hoogte van sewentig el en 'n breedte van veertig el, sodat dit kon dien as deurgange vir sy magte in hulle volle sterkte en die slagordes van sy voetsoldate. 5In daardie tyd het koning Nebukadnesar op die groot vlakte naby die stad Ragau oorlog gemaak teen koning Arpagsad. 6Al die mense wat in die bergland gewoon het en al dié wat aan die Eufraat-, Tigris- en Hudaspesrivier en op die vlakte van koning Ariog van die Elumeërs gewoon het, het teen hom opgetrek. Talle nasies het saam opgeruk in die gevegslinie van die Geleüdiete. 7Koning Nebukadnesar van die Assiriërs het boodskappers gestuur na al die inwoners van Persië en na al die inwoners wat in die weste woon, die inwoners van Silisië en Damaskus, Libanon en Anti-Libanon en al die inwoners van die kusstreek, 8asook die nasies in Karmel en Gilead en Bo-Galilea en op die groot vlakte van Esdrelon, 9en na almal in Samaria en sy stede en anderkant die Jordaan tot by Jerusalem en Betane, Chelous, Kades en die rivier van Egipte, asook Tafnas en Rameses en die hele land Gosen, 10selfs tot aan die oorkant van Tanis en Memfis, en ook aan al die inwoners van Egipte tot so ver as die grens van Ethiopië. 11Maar die inwoners van hierdie hele gebied het almal die oproep van Nebukadnesar, koning van Assirië, verontagsaam en nie saam met hom opgetrek om oorlog te voer nie, want hulle was nie vir hom bang nie – hy was vir hulle net 'n gewone man en hulle het sy boodskappers vernederd en met leë hande teruggestuur. 12Nebukadnesar was woedend vir daardie hele gebied en hy het by sy troon en sy koninkryk gesweer dat hy wraak sou neem op al die gebiede van Silisië en Damaskus en Sirië, en dat hy al die inwoners in die land Moab met sy swaard sou doodmaak en ook die Ammoniete, die hele Judea en almal in Egipte tot so ver as die grense van die twee seë. 13In die sewentiende jaar het hy met sy leërmag opgetrek teen koning Arpagsad en die oorlog gewen. Hy het Arpagsad se hele leërmag oorweldig, en sy hele berede mag en al sy strydwaens vernietig. 14Hy het sy stede oorgeneem en by Ekbatana aangekom en die torings verower, die strate geplunder en die stad se prag tot 'n bespotting gemaak. 15Hy het Arpagsad in die berge van Ragau gevang en hom met sy werpspiese neergevel en hom op daardie dag verpletter. 16Nebukadnesar het saam met sy hele gekombineerde mag – 'n baie groot aantal gevegstroepe – teruggekeer, en hy en sy leërmag het honderd-en-twintig dae lank goed uitgerus en feesgevier.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.