Oordeel oor Edom
1Wie is dit wat daar
uit Edom kom,
met helderrooi klere uit Bosra,
Hy wat 'n glansryke bokleed dra,
wat keldermeester is
in die volheid van sy krag?
“Ek is die Een
wat in geregtigheid spreek –
magtig om te verlos.”
2Waarom is u bokleed rooi,
waarom is u klere soos dié
van iemand wat druiwe trap
in die wynpers?
3“Die kuip het Ek alleen getrap;
van al die volke was daar
niemand by My nie.
In my toorn het Ek hulle aanhou trap,
hulle fyngetrap in my woede.
Hulle lewensbloed het op my klere
gespat;
my hele uitrusting het Ek besoedel.
4Want Ek het 'n dag van wraak
in gedagte gehad;
die jaar van my bloedwraak
het aangebreek.
5Ek het rondgekyk,
maar daar was geen helper nie.
Ek was verslae –
daar was niemand
wat ondersteuning bied nie.
My voorarm het My tot hulp gekom,
my woede, dit het My ondersteun.
6Ek het volke vertrap in my toorn,
hulle dronk gemaak in my woede.
Ek het hulle lewensbloed
op die grond laat uitloop.”
Trou en ontrou van Jerusalem
7Die troue liefde van die Here
sal ek vermeld,
die lofwaardige dade van die Here,
in ooreenstemming met alles
wat die Here aan ons bewys het –
die oorvloedige guns
vir die huis van Israel
wat Hy aan hulle bewys het
in sy ontferming
en oorvloedige troue liefde.
8Hy het gesê:
“My volk is hulle beslis,
kinders wat nie bedrieglik
sal optree nie.”
So het Hy vir hulle
'n verlosser geword.
9In al hulle nood was ook Hy
in die nood.
Die Engel van sy teenwoordigheid
het hulle verlos.
In sy liefde en medelye was dit Hy
wat hulle vrygekoop het.
Hy het hulle opgetel
en hulle gedra, al die jare,
van lank gelede af.
10Maar hulle, hulle was opstandig
en het sy Heilige Gees bedroef.
Hy het teenoor hulle
in 'n vyand verander;
Hy self het teen hulle geveg.
11Toe het hulle gedink aan die jare
van lank gelede,
aan Moses en sy volk:
“Waar is Hy wat hulle uit die see
laat opkom het,
saam met die herders van sy kleinvee?
Waar is Hy wat in hulle midde
sy Heilige Gees geplaas het,
12wat sy roemryke arm
aan Moses se regterkant
laat optrek het,
wat water voor hulle oopgekloof het
om vir Hom 'n ewige Naam te maak,
13Hy wat hulle deur
die watermassa laat trek het,
soos 'n perd deur 'n woestyn –
sonder om te struikel?”
14Soos wanneer beeste
in 'n vallei afdaal,
het die Gees van die Here
aan Israel rus gegee.
So het U u volk gelei om vir U
'n roemryke Naam te maak.
15Kyk uit die hemel,
uit u vorstelike, heilige
en roemryke woning,
en sien!
Waar is u ywer en u magtige dade?
U innerlike ontroering,
u ontferming word van my teruggehou.
16U is immers ons Vader.
Ja, Abraham, hy ken ons nie,
en Israel, hy erken ons nie;
U, Here, is ons Vader.
Ons Losser van altyd af,
is u Naam!
17Waarom het U, Here,
ons van u paaie laat afdwaal,
ons harte verhard,
sodat ons nie meer vir U
ontsag gehad het nie?
Kom terug ter wille van
u diensknegte,
die stamme van u erfdeel!
18Vir 'n kort tydjie
het u heilige volk dit besit,
maar ons teenstanders
het u heiligdom vertrap.
19Ons het van lank gelede af
al geword soos hulle
oor wie U nie regeer het nie,
oor wie u Naam nie uitgeroep is nie.