God se liefde vir Israel
1“Toe Israel 'n kind was,
het Ek hom al liefgehad,
en uit Egipte het Ek my seun geroep.
2Toe daar later net so
na hulle geroep is,
het hulle van My af weggegaan.
Hulle het vir die Baäls offers geslag,
vir afgodsbeelde die rook
van offers laat opstyg.
3“Ek self het Efraim leer loop,
Ek het hulle in my arms geneem,
maar hulle wou nie erken
dat Ek hulle versorg nie.
4“Met menslike bande
het Ek hulle nadergetrek,
met die toue van liefde.
Ek was vir hulle soos dié
wat die juk lig
wat teen hulle kake druk.
Ek het na Efraim afgebuk,
hom gevoed.
5“Hy sal nie na Egipteland teruggaan nie,
maar Assirië, dié sal sy koning wees;
want hulle het geweier
om hulle te bekeer.
6Die swaard sal deur sy stede gaan
en sy orakelpriesters uitroei;
dit sal hulle vernietig oor die raad
wat hulle gegee het.
7My volk sal opgehang
word vir sy afvalligheid,
en na die juk sal hulle hom roep,
'n juk wat glad nie gelig sal word nie.
8“Hoe kan Ek jou prysgee, Efraim?
Hoe kan Ek jou oorlewer, Israel?
Hoe kan Ek jou prysgee soos Adma,
jou maak soos Sebojim?
My hart is diep ontroer in My,
die deernis brand in My.
9Ek sal nie in my brandende toorn
optree nie;
Ek sal nie omdraai en Efraim
vernietig nie;
want Ek is God, nie 'n mens nie –
die Heilige in jou midde;
Ek sal nie in woede kom nie.”
10Hulle sal die Here volg.
Soos 'n leeu sal Hy brul;
wanneer Hy brul,
sal kinders bewend
van die see af kom.
11Hulle sal bewend aankom
soos voëls uit Egipte,
en soos 'n duif
uit die land Assirië.
“Ek sal hulle in hulle huise laat woon,”
is die uitspraak van die Here.