Josef se broers weer in Egipte
1Die hongersnood was erg in die land. 2Toe die graan wat hulle uit Egipte gebring het, heeltemal opgeëet was, het hulle vader vir hulle gesê: “Gaan koop weer vir ons 'n bietjie kos.” 3Maar Juda het vir hom gesê: “Die man het ons uitdruklik gewaarsku, ‘Julle sal my gesig nie sien tensy julle broer by julle is nie.’ 4As pa nou net ons broer saam met ons stuur, kan ons gaan en vir pa kos koop. 5Maar as pa hom nie saamstuur nie, sal ons nie gaan nie. Want die man het vir ons gesê, ‘Julle sal my gesig nie sien tensy julle broer by julle is nie.’ ” 6Israel vra toe: “Waarom het julle my kwaad aangedoen deur vir die man te vertel dat julle nog 'n broer het?” 7Hulle het geantwoord: “Die man het uitdruklik oor ons en ons familie uitgevra: ‘Leef julle vader nog? Het julle nog 'n broer?’ Ons het aan hom net inligting verskaf wat betrekking het op hierdie sake. Hoe kon ons ooit weet dat hy sou sê, ‘Bring julle broer af hierheen’?”
8Daarop sê Juda vir sy vader Israel: “Stuur die jong man saam met my. Ons wil gereedmaak en gaan, sodat ons kan leef en nie sterf nie, ons sowel as pa en ons kinders. 9Ek sal self vir hom borg staan; van my hand kan pa hom eis. As ek hom nie na pa terugbring en voor pa laat staan nie, sal ek altyd teenoor pa skuldig staan. 10As ons nie so getalm het nie, dan was ons beslis nou al vir die tweede keer terug.”
11Toe sê hulle vader Israel vir hulle: “As dit so is, maak dan só: Neem van die keurprodukte van die land in julle kruike saam, en neem dit af daarheen as 'n geskenk vir die man: 'n bietjie balsem en 'n bietjie heuning, gom en hars, pistasieneute en amandels. 12Neem ook twee maal soveel silwer met julle saam, en die silwer wat bo in julle sakke teruggegee is, moet julle saam terugneem. Miskien was dit 'n misverstand. 13En neem julle broer; maak gereed en gaan terug na die man. 14Mag God, die Almagtige, gee dat julle barmhartigheid ervaar voor die man, en dat hy vir julle julle ander broer en Benjamin vrylaat. En ek – as ek kinderloos word, word ek kinderloos.”
15Die manne het toe die geskenk geneem. Hulle het twee maal soveel silwer met hulle saamgeneem, en ook vir Benjamin. Hulle het gereedgemaak, afgegaan na Egipte en by Josef aangemeld.
16Toe Josef vir Benjamin by hulle sien, sê hy vir die hoof van sy huishouding: “Neem die manne na die huis, slag 'n dier en berei dit voor, want hulle gaan vanmiddag saam met my eet.” 17Die man het gemaak soos Josef gesê het. Die man het toe die manne na Josef se huis gebring.
18Die manne was bang toe hulle na Josef se huis geneem word en het gesê: “Dit is oor die silwer wat die vorige keer in ons sakke teruggesit is dat ons hierheen gebring word. Dit is om ons te oorrompel en ons te oorval, om ons as slawe toe te eien, en ook ons donkies.” 19Hulle nader toe die hoof van Josef se huishouding en praat met hom by die ingang van die huis. 20“Asseblief, my heer,” sê hulle, “ons het die vorige keer regtig afgekom hierheen om kos te koop. 21Maar toe ons by die oornagplek aankom en ons sakke oopmaak, kyk, daar is elkeen se silwer bo in sy sak – ons silwer, die volle gewig daarvan! Ons het dit saam teruggebring. 22Ons het ook ander silwer saam afgebring om kos mee te koop. Ons weet nie wie het ons silwer in ons sakke gesit nie.”
23Hy sê toe: “Vrede vir julle! Moenie bang wees nie. Julle God, die God van julle vader, het vir julle 'n verborge skat in julle sakke geplaas. Julle silwer het by my uitgekom.” Daarop bring hy Simeon na hulle toe uit.
24Die man het die manne in Josef se huis ingeneem. Hy het water verskaf, en hulle het hulle voete gewas. Hy het ook vir hulle donkies voer gegee. 25Hulle het die geskenk gereedgekry met die oog op Josef se koms die middag, omdat hulle gehoor het dat hulle daar sou eet.
26Toe Josef by die huis kom, het hulle vir hom die geskenk wat by hulle was, in die huis ingebring, en diep voor hom neergebuig na die grond. 27Hy vra hulle toe hoe dit gaan, en sê daarna: “Hoe gaan dit met julle ou vader van wie julle gepraat het? Leef hy nog?” 28Hulle antwoord was: “Dit gaan goed met u dienaar, ons vader. Hy leef nog.” Toe kniel hulle en buig diep neer.
29Toe hy opkyk, sien hy sy broer Benjamin raak, die seun van sy moeder, en hy vra: “Is dit julle jongste broer van wie julle my vertel het?” Daarop sê hy: “Mag God jou genadig wees, my seun!” 30Josef is haastig uit, want hy was diep ontroer oor sy broer, en was op die punt om te huil. Hy gaan toe sy slaapkamer binne en huil daar. 31Nadat hy sy gesig gewas het, het hy uitgekom. Hy het hom bedwing en gesê: “Bedien die kos!” 32Hulle het hom, sy broers, en die Egiptenare wat by hom eet, almal afsonderlik bedien. Die Egiptenare kon immers nie saam met die Hebreërs eet nie, want dit is vir Egiptenare afstootlik. 33Toe hulle voor hom gaan sit, was die eersgeborene op die eersgeborene se plek, en die jongste op die jongste se plek. Die manne het mekaar verbaas aangekyk. 34Porsies is aan hulle bedien van wat aan Josef voorgesit was. Benjamin se porsie was vyf maal groter as almal se porsies. Hulle het gedrink en saam met hom dronk geword.