Roeping van Abram
1Die Here het vir Abram gesê: “Gaan weg uit jou land, weg van jou familie en jou ouerhuis, na die land wat Ek jou sal wys.
2“Ek sal jou 'n groot nasie maak;
Ek sal jou seën en jou naam groot maak,
sodat jy 'n seën sal wees.
3Ek sal hulle seën wat jou seën,
maar wie jou verwens,
sal Ek vervloek.
En deur jou sal al die grootfamilies
van die aarde geseënd wees.”
4Abram het gegaan, soos die Here vir hom gesê het, en Lot het saam met hom gegaan. Abram was vyf-en-sewentig jaar oud met sy vertrek uit Haran. 5Abram het Sarai, sy vrou, en Lot, sy broerskind, geneem, ook al die besittings wat hulle bekom het, en al die mense wat hulle in Haran verkry het. Hulle het vertrek om na die land Kanaän te gaan en het in die land Kanaän aangekom. 6Abram het deur die land getrek tot by die plek Sigem, tot by die akkerboom van Morê. Die Kanaäniete was toe in die land.
7Die Here verskyn toe aan Abram en sê: “Aan jou nageslag gee Ek hierdie land.” Hy het toe daar 'n altaar gebou vir die Here wat aan hom verskyn het. 8Hy het daarvandaan verder getrek na die heuwelland oos van Bet-El, en sy tente opgeslaan tussen Bet-El aan die westekant en Ai aan die oostekant. Daar het hy vir die Here 'n altaar gebou en die Naam van die Here aangeroep. 9Toe het Abram algaande verder getrek in die rigting van die Negev.
Abram in Egipte
10Toe kom daar 'n hongersnood in die land, en Abram het na Egipte afgetrek om daar as •vreemdeling te woon, want die hongersnood was swaar in die land. 11Toe hulle op die punt was om Egipte binne te gaan, sê Abram vir Sarai, sy vrou: “Kyk, ek weet dat jy 'n beeldskone vrou is. 12En dit gaan gebeur dat, as die Egiptenare jou sien, hulle sal sê, ‘Dit is sy vrou’; en hulle sal my doodmaak en jou laat leef. 13Sê tog jy is my suster, sodat dit met my goed kan gaan ter wille van jou, en ek aan die lewe kan bly ter wille van jou.”
14Toe Abram Egipte binnegaan, het die Egiptenare gesien dat die vrou besonder mooi was. 15Die •hoë amptenare van die farao het haar gesien en haar lof by die farao besing. Die vrou is toe na die paleis van die farao geneem. 16Hy het aan Abram goed gedoen ter wille van haar: Hy het kleinvee en beeste, donkies, slawe en slavinne, donkiemerries en kamele ontvang.
17Maar die Here het die farao en sy huis met swaar plae getref oor Sarai, die vrou van Abram. 18Die farao ontbied toe vir Abram en sê: “Wat het jy my nou aangedoen? Waarom het jy my nie vertel dat sy jou vrou is nie? 19Waarom het jy gesê, ‘Sy is my suster’, sodat ek haar vir my as vrou geneem het? Hier is jou vrou dan nou; vat haar en gaan!” 20Die farao het manne opdragte gegee oor hom, en hulle het hom, sy vrou en al sy besittings uitgeleide gedoen.