1Dit het gebeur gedurende die tyd van Ahasveros, dieselfde Ahasveros wat regeer het vanaf Indië tot by Kus oor honderd sewe-en-twintig provinsies. 2In daardie tyd, terwyl koning Ahasveros op sy koninklike troon was in die vestingstad Susan – 3dit was die derde jaar van sy regering – het hy 'n feesmaal aangebied vir al sy •hoë amptenare en dienaars. Die militêre leiers van die Perse en die Meders, die koninklikes en die hoë amptenare van die provinsie het voor hom verskyn. 4Hy het toe die prag en praal van sy koninkryk se rykdom, sowel as die kosbare skatte wat van sy belangrikheid getuig, dae lank, 180 dae lank, vertoon. 5En ná hierdie geleentheid het die koning nog 'n feesmaal aangebied in die binnehof van sy paleistuin vir al die mense wat hulle in die vestingstad Susan bevind het, van die belangrikste persoon tot die geringste, sewe dae lank. 6Duursame behangsels van linne, geweefde materiaal en pers wol is met koorde van fyn wit linne en purperrooi wolstof en silwerringe aan albasterpilare vasgemaak. Banke van goud en silwer is reggesit op 'n mosaïekplaveisel van kosbare gesteentes: albaster, perlemoen en nog ander. 7Wyn is geskink in goue bekers wat almal verskillend was. Koninklike wyn is in oorvloed geskink, soos daar van 'n koning verwag word. 8Volgens die koning se bevel kon elkeen drink net soveel soos hy wou, want dit is wat die koning die hofmeesters van sy paleis beveel het, naamlik om elkeen se wens te vervul. 9Ook koningin Vasti het in die paleis van koning Ahasveros vir die vroue 'n feesmaal aangebied.
10Op die sewende dag, toe die koning vrolik was van die wyn, het hy vir Mehuman, Bisseta, Garbona, Bigta, Abagta, Setar en Karkas – sewe van die eunugs wat koning Ahasveros persoonlik bedien het – gesê 11om koningin Vasti te gaan haal. Sy moes met haar hooftooisel voor die koning haar skoonheid aan die gewone mense en die hoë amptenare vertoon, want sy was beeldskoon. 12Maar koningin Vasti het geweier om te gaan soos die koning haar deur die eunugs beveel het. Die koning het hom bloedig vererg; hy was briesend kwaad. 13Die koning het toe die wyse manne geraadpleeg, kenners van die tradisies, want dit was die koning se gebruik om sake aan kenners van die wet en regspraak voor te lê. 14Onder hulle was die koning se belangrikste raadgewers, Karsena, Setar, Admata, Tarsis, Meres, Marsena en Memugan, sewe hoë amptenare van die Perse en Meders wat spesiale toegang tot die koning gehad het en die voorste inwoners van die koninkryk was. 15Hy het hulle gevra: “Volgens wet, wat moet met koningin Vasti gedoen word?” Sy het immers nie koning Ahasveros se bevel, soos deur die eunugs oorgedra, uitgevoer nie. 16Memugan het in die teenwoordigheid van die koning en die raadgewers gesê: “Dit is nie net teenoor die koning wat koningin Vasti verkeerd opgetree het nie, maar ook teenoor al die hoë amptenare en al die mense in al koning Ahasveros se provinsies; 17want die nuus oor die koningin se gedrag sal onder al die vroue versprei, en dit sal daartoe lei dat hulle op hulle mans neersien. Hulle sal sê, ‘Koning Ahasveros het beveel dat koningin Vasti voor hom moet verskyn, maar sy het nie gegaan nie.’ 18Vandag nog sal al die vooraanstaande vroue van die Perse en die Meders wat gehoor het van die koningin se optrede, dit aan al die hoë amptenare van die koning voorhou, en dit sal tot eindelose minagting en grimmigheid aanleiding gee. 19As die koning dit goedvind, laat hy 'n koninklike bevel uitvaardig wat geskryf word in die wette van die Perse en die Meders, sodat dit nie herroep kan word nie, dat Vasti nooit weer voor koning Ahasveros mag verskyn nie, en dat die koning haar status as koningin oorgee aan iemand beter as sy. 20As die bevel gehoor word wat die koning in sy hele koninkryk – groot soos dit is – uitgevaardig het, sal alle vroue hulle mans, van die belangrikste tot die geringste, met eerbied behandel.” 21Die koning en sy hoë amptenare het hierdie voorstel goed gevind, en die koning het gedoen wat Memugan voorgestel het. 22Hy het briewe uitgestuur na al die provinsies van die koning, na elke provinsie, in die inwoners se eie skrif, aan elke volk in sy eie taal. Elke man moes oor sy huis heers en sy moedertaal praat.