Ester (Grieks) 7
Haman se val
1 Die koning en Haman het ingegaan om saam met die koningin te drink. 2 Op die tweede dag van die drinkparty sê die koning vir Ester: “Wat is dit, koningin Ester, en wat is jou vraag en wat is jou versoek? Dit sal joune wees, selfs die helfte van my koninkryk.” 3 Sy het geantwoord: “As ek guns gevind het voor die koning, laat my lewe gespaar word as ek dit vra, en my volk as ek dit versoek. 4 Want ek en my volk is uitgelewer aan vernietiging, plundering en slawerny, en ons en ons kinders is verkoop as slawe en slavinne – dit het ek terloops gehoor. Die lasteraar verdien tog nie die voorhof van die koning nie.” 5 Toe vra die koning: “Wie is die een wat gewaag het om hierdie ding te doen?” 6 En Ester sê: “'n Vyandige man, Haman, hy is dié bose man.” En Haman was verskrik voor die koning en koningin. 7 Die koning het van die drinkparty opgestaan en in die tuin ingegaan, maar Haman het die koningin aanhou smeek, want hy het gesien dat hy in die moeilikheid is. 8 Die koning het uit die tuin teruggekom terwyl Haman nog op die rusbank lê en die koningin smeek. Die koning het gesê: “O so, rand jy ook my vrou aan in my eie huis?” Toe Haman dit hoor, het sy gesig vertrek. 9 En Bugatan, een van die eunugs van die koning, het gesê: “Kyk, Haman het ook 'n houtpaal gereedgemaak vir Mordegai, wat ten gunste van die koning gepraat het, en die houtpaal van vyftig el is by Haman se huis opgerig.” En die koning het gesê: “Laat hy daaraan gekruisig word!” 10 Haman is toe gehang aan die houtpaal wat hy vir Mordegai gereedgemaak het. Toe het die woede van die koning bedaar.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.