Skrif aan die muur
1Koning Belsasar het 'n groot feesmaal voorberei vir sy duisend maghebbers. Hy het wyn gedrink in die teenwoordigheid van hierdie duisend. 2Belsasar het, terwyl hy die wyn geniet, opdrag gegee dat die voorwerpe van goud en silwer wat sy vader Nebukadnesar uit die •tempel in Jerusalem verwyder het, gebring moes word, sodat die koning en sy maghebbers, sy haremvroue en byvroue daaruit kon drink. 3Hulle bring toe die voorwerpe van goud wat uit die tempel, die huis van God in Jerusalem, verwyder is, en die koning, sy maghebbers, haremvroue en byvroue het daaruit gedrink. 4Hulle het wyn gedrink en die gode van goud, silwer, koper, yster, hout en klip geprys.
5Op daardie oomblik het vingers van 'n mens se hand verskyn en oorkant die kandelaar op die pleister van die koninklike paleis se muur geskryf. Die koning het die deel van die hand wat besig was om te skryf, gesien. 6Toe word die koning bleek, en sy gedagtes het hom verskrik. Sy heupgewrigte het slap geword en sy knieë het teen mekaar geklap. 7Die koning het hard geskreeu dat die towenaars, Galdeërs en voorspellers gebring moet word. Die koning praat toe en sê vir die wyses van Babilonië: “Enige mens wat hierdie skrif kan lees en die uitleg daarvan vir my kan gee, sal in purperrooi geklee word met 'n goue ketting om sy nek, en hy sal as derde in rang in die koninkryk regeer.” 8Al die wyses van die koning het toe ingekom. Hulle kon egter nie die skrif lees en die uitleg aan die koning bekend maak nie. 9Toe was koning Belsasar hewig ontsteld, en sy gesig het nog bleker geword. Sy maghebbers was verward.
10Die koningin het toe, vanweë die gesprek tussen die koning en sy maghebbers, die feessaal binnegegaan. Die koningin praat toe en sê: “O koning, leef vir ewig! Moenie dat u gedagtes u ontstel nie; en u hoef nie bleek te wees nie! 11Daar is 'n man in u koninkryk in wie die gees van die heilige gode is. In die dae van u vader is helderheid, insig en wysheid soos die wysheid van gode by hom gevind. Koning Nebukadnesar, u vader, het hom aangestel as hoof van die waarsêerpriesters, towenaars, Galdeërs en voorspellers – ja, u vader, die koning – 12en wel omdat 'n buitengewone gees en verstand, die insig om drome te verklaar, raaisels uit te lê en om probleme te ontrafel, in hom gevind is, in Daniël, vir wie die koning die naam Beltsasar gegee het. Laat Daniël nou ontbied word; hy sal die uitleg gee.”
13Daniël is toe voor die koning gebring, waarop die koning vir Daniël gevra het: “Is jy Daniël, een van die Judese ballinge wat deur my vader uit Juda gebring is? 14Ek het van jou gehoor, dat die gees van die gode in jou is, en dat helder insig en buitengewone wysheid in jou gevind is. 15En nou, die wyses, die towenaars, is voor my gebring, sodat hulle hierdie skrif kon lees en die uitleg daarvan aan my bekend kon maak. Maar hulle was nie daartoe in staat om die uitleg van die woorde bekend te maak nie. 16Ek het egter van jou gehoor dat jy in staat is om uitleg te gee en probleme te ontrafel. Daarom, as jy in staat is om die skrif te lees en die uitleg daarvan bekend te maak, sal jy in purperrooi geklee word, met 'n goue ketting om jou nek, en jy sal as derde in rang in die koninkryk regeer.”
17Daniël antwoord toe en sê vir die koning: “U geskenke mag u vir uself hou, en u beloning – gee dit aan iemand anders! Ek sal in elk geval die skrif vir die koning lees, en die uitleg aan hom bekend maak. 18Wat u betref, o koning: Die Allerhoogste God het die koningskap, die grootheid, eer en majesteit gegee aan Nebukadnesar, u vader. 19Vanweë die grootheid wat God aan hom gegee het, was al die volke, nasies en taalgroepe in vrees en bewing voor hom: Hy het doodgemaak wie hy wou, en laat leef wie hy wou. Hy het verhef wie hy wou, en verneder wie hy wou. 20Maar toe hy hooghartig geraak het, en sy gees so verhard het dat hy oormoedig geraak het, is hy van sy koninklike troon gestoot en van sy eer gestroop. 21Hy is verdryf, weg van mense af, en sy hart het soos dié van 'n dier geword. By die wilde donkies was sy woonplek. Hy is gras gevoer, soos vir beeste, en van die dou van die hemel het sy liggaam nat geword – totdat hy erken het dat die Allerhoogste God mag het oor 'n menslike koninkryk, en dat Hy daaroor aanstel wie Hy wil.
22“Maar u, sy seun Belsasar, het u hart nie verneder nie, alhoewel u dit alles geweet het. 23Teen die Heer van die hemel het u uself verhef. Die voorwerpe van sy huis het hulle voor u gebring en u, u maghebbers, u haremvroue en u byvroue het wyn daaruit gedrink. Die gode van silwer en goud, koper, yster, hout en klip, wat nie sien, nie hoor of enigiets weet nie – u het hulle lof besing; maar die God in wie se hand u asem is, en by wie al u paaie is, Hom het u nie geëer nie. 24Vanuit sy teenwoordigheid is die handpalm toe gestuur en is hierdie skrif geskryf. 25Dit is dan die skrif wat geskryf is: Mene, mene, tekel ufarsin. 26Dít is die uitleg van die woorde: Mene – God het die jare van u koningskap getel en dit beëindig. 27Tekel – u is op die skaal geweeg en te lig bevind. 28Peres – u koninkryk is verdeel en is aan die Mede en Perse gegee.”
29Belsasar het toe opdrag gegee, en hulle het Daniël in purperrooi geklee, en 'n goue ketting om sy nek gehang. Hulle het 'n proklamasie uitgevaardig, dat hy die derde magtigste in die koninkryk is. 30Daardie selfde nag is Belsasar, die koning van die Galdeërs, gedood.