1As julle dan saam met •Christus opgewek is, streef na dit wat daarbo is, waar Christus aan die regterhand van God sit. 2Bedink die dinge daarbo, nie die dinge op aarde nie. 3Julle het immers gesterf, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4Wanneer Christus verskyn, Hy wat julle lewe is, sal julle ook saam met Hom in heerlikheid verskyn. 5Daarom moet julle daardie deel van julle wat op die aardse gerig is, doodmaak: onsedelikheid, onreinheid, wellus en slegte begeertes, en ook gierigheid, wat afgodediens is. 6As gevolg van sulke dinge, kom die toorn van God oor die seuns van die ongehoorsaamheid. 7Ook julle het vroeër daaraan meegedoen, toe julle nog onder hulle geleef het. 8Maar raak ook julle van al hierdie dinge ontslae: woede, driftigheid, kwaadwilligheid, lastering, en onwelvoeglike taal wat uit julle mond kom. 9Moenie vir mekaar lieg nie, aangesien julle die ou mens en sy gewoontes uitgetrek het, 10en die nuwe mens aangetrek het, wat tot volle kennis en na die beeld van sy Skepper vernuwe word. 11By die nuwe mens is daar nie onderskeidings soos Griek of Jood, besnedene of onbesnedene, barbaar of Skittiër, slaaf of vry persoon nie, maar Christus is alles en in almal. 12Daarom, omdat julle God se uitverkore •heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld. 13Verdra mekaar en, as enigiemand 'n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Soos die Here julle vergewe het, so moet julle ook vergewe. 14Maar beklee julle, bo en behalwe al hierdie dinge, met die liefde, wat die band is wat alles volmaak saambind. 15Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar. 16Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God te sing. 17En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, terwyl julle God die Vader deur Hom dank.
18Vroue, julle moet onderdanig wees aan julle mans, soos dit gepas is vir mense in die Here. 19Mans, julle moet julle vroue liefhê, en nie verbitterd teenoor hulle raak nie. 20Kinders, julle moet julle ouers in alle opsigte gehoorsaam, omdat dit vir die Here aanneemlik is. 21Vaders, julle moenie julle kinders treiter, sodat hulle moedeloos word nie. 22Slawe, julle moet julle aardse eienaars in alle opsigte gehoorsaam – nie met oëdiens asof julle mense wil behaag nie, maar met 'n opregte hart, uit ontsag vir die Here. 23Wat julle ook al doen, werk met geesdrif, soos vir die Here, en nie soos vir mense nie, 24in die wete dat julle 'n erfdeel as beloning van die Here sal ontvang; want julle staan in diens van die Here •Christus. 25Elkeen wat verkeerd doen, sal immers vir sy verkeerde dade vergeld word; niemand word volgens die uiterlike beoordeel nie.